Alles en nog meer oor diesel

2090
Corné Louw
Senior ekonoom, Graan SA
corne@grainsa.co.za

Diesel maak ongeveer 12% van ’n graan- en oliesadeprodusent se lopende produksiekoste uit. Die prys van diesel is belangrik, maar die kwaliteit van diesel raak deesdae al hoe belangriker. Heelwat nuwe rolspelers het die dieselmark betree en bied aantreklike pryse vir produsente aan.

Vir die koste van ’n vrag diesel en die skade wat swakkwaliteitdiesel aan peperduur voertuie kan aanrig, kan dit dalk die moeite werd wees om gereeld die kwaliteit te toets.

Prys van diesel
Die groothandelprys van diesel het in Maart vanjaar op R14,06/liter gestaan – ’n uitermatige 16,2% hoër as die R12,10/liter van verlede jaar dieselfde tyd. As daar na die samestelling van die dieselprys gekyk word, blyk dit dat 51,8% uit die werklike brandstofkoste (invoerprys van diesel) bestaan, terwyl die heffings en belastings 48,2% van die prys uitmaak. Die grootste gedeelte (76%) van die heffings en belastings bestaan uit die algemene brandstofbelasting en die Padongelukfondsheffing.

Heffings en belasting wat die groothandelprys opmaak in Suid-Afrika, word gereguleer. Grafiek 1 toon die samestelling van die groothandelprys van diesel in Maart vanjaar aan. Die Minister van Finansies het verder in sy begroting aangedui dat belasting op diesel in April met ’n verdere 15c/liter gaan styg, terwyl die Padongelukfondsheffing met 5c/liter gaan toeneem. In Junie gaan daar ook ’n bykomende 10c/liter vir koolstofbelasting gehef word.

Die dieselrabat vanaf April 2019
Die dieselrabat waarvoor produsente kwalifiseer, bestaan uit 40% van die algemene brandstofbelasting en 100% van die Padongelukfondsheffing. Vir Maart het die dieselrabat 23% van die groothandelprys van diesel uitgemaak.

Soos reeds genoem, het die Minister van Finansies in Februarie vanjaar aangekondig dat die algemene brandstofheffing en die Padongelukfondsheffing in April met 15c/liter en 5c/liter onderskeidelik gaan toeneem. Dit bring mee dat die dieselrabat vanaf 321,8c/liter na 332,8c/liter in April gaan toeneem – vir 80% van regmatige gebruik. Grafiek 2 toon hoe die dieselrabat oor tyd toegeneem het.

Verhoging in dieselrabat gaan met verantwoordelikheid gepaard
Uit die artikel is dit duidelik dat ondanks die feit dat heffings en belastings toeneem, die dieselrabat ’n noemenswaardige deel daarvan uitmaak. Dit alles spel uit dat ons in die landboubedryf die dieselrabat met die nodige omsigtigheid moet hanteer en ten alle tye moet beskerm – dit is een van die min ondersteuningsmaatreëls wat produsente ontvang.

Wenke vir dieselrabat

  • Eis die dieselrabat op grond van verbruik en nie op aankope nie.
  • Hou volledig boek van dieselgebruik op die plaas (vanaf die hoofverspreidingspunte):
    • Datum van diesel ingegooi
    • Hoeveelheid diesel ingegooi
    • Beskrywing van voertuig
    • Rede waarvoor diesel aangewend is (moet duidelik beskryf word)

Toets vir die kwaliteit van diesel
Daar is verskeie bronne wat gebruik kan word om dieselkwaliteit te laat toets. Indien vermoed word dat daar probleme is met dieselkwaliteit, veral in gevalle van moontlike dieselkontaminasie, kan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) geskakel word vir die toets daarvan:

Russell Allison van SAID by 021 943 7778 of rallison@sars.gov.za.

Indien produsente self hulle diesel wil toets, kan die webblad www.dieseltesting.co.za besoek word of 087 575 3568 gekontak word vir die aankoop van toetsinstrumente.

Nog ’n opsie is om diesel in ’n laboratorium te laat toets. Die volgende laboratoriums is al deur lede gebruik: