Hulle het gekom, gesien en hul 2020 Agrivisie gevind

Gepubliseer: 30 September 2020

1478
Alzena Gomes
skakelbeampte, Graan SA
alzena@grainsa.co.za

Die heel eerste NAMPO Virtueel het weer eens die veerkragtigheid van die landbousektor bewys. Om aan te pas by die veranderinge wat die COVID-19-pandemie teweeggebring het en deur nuwe tegnologie in te span, het meer as 31 500 besoekers die aanlyn NAMPO Virtueel-uitstallingsplatform van 9 tot 12 September 2020 besoek om die beste en nuutste innovasies van meer as 93 uitstallers te ervaar.

AgriXtra, wat deur die NAMPO Virtueel-platform geloods is (en waarin Agri In Motion opgeneem is), het 8 239 kykers gedurende die vier dae getrek. Dié gesamentlike mediaplatform deur Landbouweekblad in samewerking met Brand Republic en Graan SA, is gelyktydig met NAMPO Virtueel uitgesaai met 43 regstreekse in-studio-onderhoude en paneelbesprekings, wat huidige landbou-aangeleenthede, die nuutste tegnologie en uitstallers se produkte en dienste bespreek het.

Meer as 8 000 kykers het NAMPO Virtueel se digitale TV-kanaal, AgriXtra, besoek waar 43 regstreekse in-studio-onderhoude en paneelbesprekings uitgesaai is.

Graan SA het met trots die eerste reeks Agri in Motion-paneelbesprekings bekendgestel tydens NAMPO Virtueel, wat daagliks gesprekke met vooraanstaande gaste en kundiges in hul onderskeie vakgebiede aangebied het en waarin onder meer die landbouwaardeketting asook tegnologie en wetenskap om die bedryf meer volhoubaar in die toekoms te maak, bespreek is. Gesprekke het gehandel oor die graannavorsingsprogram; winsgewendheid met blootstelling aan die internasionale mark; waarom ’n teling-en-tegnolo­gieheffing op saad nodig is asook bioveiligheid dwarsdeur die landbouwaardeketting.

Besoekers wat NAMPO Virtueel gemis het, kan op die QR-kode klik om die AgriXtra-kanaal en NAMPO-hoofverhoog se uitsendings op Graan SA se YouTube-kanaal te kyk.

Nog ’n hoogtepunt was die NAMPO-hoofverhoog, wat 12 668 kykers gelok het. Hierdie kanaal het besoekers deur die week vermaak met dinamiese hoofsprekers, produkinligting, bekendstellings en demonstrasies asook hope vermaak met bekendes, kunstenaars, kookdemonstrasies en meer!

Die NAMPO Virtueel-webblad, as inligtingsentrum en toegangsportaal tot die uitstallings, het gedurende die week meer as 30 000 unieke gebruikers op die platform ontvang, met 514 000 gebeur­tenisinteraksies oor die hele webportaal. Die meerderheid besoekers was van Suid-Afrika, met die internasionale besoekersprofiel van 8% wat hoofsaaklik uit die VSA en naburige lande in Suider-Afrika afkomstig was.

Agri in Motion-paneelbesprekings het daagliks gesprekke met vooraanstaande gaste en kundiges aangebied. Die graannavorsingsprogram; winsgewendheid met blootstelling aan die internasionale mark; waarom ’n teling-en-tegnologieheffing op saad nodig is en bioveiligheid dwarsdeur die landbouwaardeketting was van die temas wat bespreek is.
Die NAMPO-stalletjie, wat NAMPO-promosie- en -klere-items te koop aangebied het, het 1 954 besoekers ontvang. Dié gesogte NAMPO-produkte is steeds aanlyn beskikbaar tot 12 Oktober – gaan loer gerus indien jy dit gemis het.

Graan SA se stalletjie by NAMPO Virtueel het 1 113 besoekers tydens die aanlyn skou ontvang en het twaalf direkte webuitsen­dings oor die drie en ’n half dae aangebied. Intydse onderwerpe is deur die Graan SA-bestuur en ekonome bespreek: Hulle het onder meer die kollig op belangrike kwessies in landbou ge­plaas, verskeie ledevoordele bespreek en markoorsigte gegee.

Getuienis van uitstallers wat die kommunikasiegeleenthede met besoekers maksimaal benut het, is vervat in ’n totaal van 206 geskeduleerde webuitsen­dings gedurende die vier dae – besoe­kers moes voorwaar hul virtuele ervaring met dieselfde sorg beplan as ’n daguitstappie op NAMPO Park!

Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, maak gereed vir die amptelike opening op die eerste dag.

“NAMPO Virtueel was ’n spanpoging en die resultaat van verskillende landbouvennote en 697 uitstallingspersoneel wat vasbeslote in die visie in­gekoop het om dit binne ’n baie kort tyd te laat werk,” het dr Dirk Strydom, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking by Graan SA, Saterdagmiddag na afloop van die skou gesê. “NAMPO Virtueel was ’n uiters suksesvolle aksie. Ons het nie geweet wat om te verwag nie, aangesien ’n aanlyn handelskou van hierdie omvang nog nêrens in die wêreld aangebied is nie. Elemente daarvan wel, maar nie in hierdie presiese samestelling nie, wat beteken dat ons absoluut geen maatstaf gehad het nie,” het dr Strydom verduidelik. Hy het verder bevestig dat elemente van NAMPO Virtueel in die Oesdag opgeneem sal word. “Die NAMPO Oesdag kan nooit vervang word nie, maar die virtuele aanbod en platform is ’n wonderlike aanvullende funksie. Dit wat ons geleer het met betrekking tot kommunikasie in die landboulandskap kan die NAMPO Oesdag se bydrae vir uitstallers en besoekers net verbeter.”

NAMPO Virtueel agter die skerms.
Klik op hierdie QR-kode vir Graan SA-bestuur en ekonome se insette en webuitsendings oor verskeie belangrike kwessies in die graanbedryf. Die kollig is geplaas op teling en tegnologie, insetprystendense en grondbone. Markoorsigte, SAGIS, die oesskatting en ledevoordele was van die onderwerpe wat bespreek is.

“As ’n aanlyn inisiatief, is die beste deel van NAMPO Virtueel die platform en uitstallings wat voortleef, selfs nadat die virtuele vertoning geëindig het, en die wye gehore wat ons buite die tradisionele landbougemeenskap kon bereik,” het Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, gesê. “Die positiewe gevoel, nuwe innovasie en samewerking van uitstallers, borge en vennote was ’n broodnodige verandering in die hoofsaaklik somber tydperk van COVID-19. Ons wil elke besoeker, wat die beste produsente en ondersteuners ter wêreld insluit, bedank vir hul bydrae om landbou in Suid-Afrika te laat groei. NAMPO Virtueel was ’n sukses vanweë almal wat met hierdie héél eerste in landbou, hande gevat het,” het hy afgesluit.

“Ons was gelukkig dat Graan SA se NAMPO Oesdag-vennote en -uitstallers met groot entoesiasme daaraan deelgeneem het en uit hul pad gegaan het om die uitstallings aanloklik te maak,” het Danie Minnaar, voorsitter van die NAMPO Oesdag, gesê. “Die volgende NAMPO Oesdag is vir 11 tot 14 Mei 2021 op NAMPO Park geskeduleer en ons sien daarna uit om in 2021 nog meer van Suid-Afrika by NAMPO Park te verwelkom.”