Gesoute saadman groet die bedryf

884

May 2018

VALERIE CILLIERS, SA Graan/Grain medewerker

As ‘n jong gegradueerde, met ‘n BSc Agric-graad agter sy naam, het mnr Willem Engelbrecht in 1975 die eerste nasionale sonneblomkultivarevaluasieproewe in Suid-Afrika geplant en in sy meer as 40 jaar in die saadbedryf het hy homself gevestig as een van die land se voorste landboukundiges.

Engelbrecht het onlangs afgetree as bestuurder vir agronomiese gewasse by Klein Karoo Saad, waar hy in die afgelope vyf jaar daarin geslaag het om ‘n uiters suksesvolle mielieteelprogram te vestig en ‘n sojaboonproduksiereeks op die internasionale mark te plaas.

Sy liefde vir landbou is waarskynlik gekweek op die tabak- en groenteplaas in die Magaliesburg-omgewing waar hy grootgeword het. Hy het aan die Hoër Landbouskool Bekker gematrikuleer, waarna hy sy BSc Agric-graad met Agronomie as hoofvak aan die Universiteit van Pretoria verwerf het.

Na 18 maande diensplig het hy sy loopbaan by die Landbou Tegniese Dienste – die voorloper van vandag se Landbounavorsingsraad (LNR) – begin, waar hy die eerste nasionale sonneblomproewe in Suid-Afrika geplant het. Toe hy in 1978 ‘n honneursgraad in plantproduksie verwerf het, het hy hom daarna by Asgrow as landboukundige aangesluit. Hier het hy ‘n uiters suksesvolle sojaboon- en sonneblomteelprogram gevestig en is hy uiteindelik bevorder na hooflandboukundige en verkoopsbestuurder.

In 1988 het hy ‘n internasionale Research Award of Exellence-toekenning ontvang en die sojaboonkultivar A5409 geregistreer. Hierdie kultivar is in die VSA omgewerk na Roundup Ready en dit was die eerste Roundup Ready-kultivar wat in Suid-Afrika verbou is. Die kultivar is tot onlangs nog bemark – bykans 30 jaar!

Nadat Asgrow besluit het om hulle saadafdeling te verkoop, het hy hom by Sensako as nasionale verkoop- en bemarkingsbestuurder aangesluit. Dit is egter by Pioneer Hi-Bred waar hy in die bedryf naam gemaak het.

Hy vertel dat hy in 1992, nadat hy as verkoopsbestuurder vir Pioneer Hi-Bred begin werk het, gevra is om ‘n kantoor in Suid-Afrika te vestig. Nadat Engelbrecht ‘n kantoor gevestig het, het hulle die eerste maatskappy geword wat VSA-genetika na Suid-Afrika ingebring het. Kort daarna is hy as nasionale bestuurder aangestel.

“Ons moes personeel aanstel en kantoorspasie soek. Ek onthou nog hoe plaaslike telers ons afgeraai het om VSA-genetika die land in te bring. Op daardie stadium het produsente tussen 7 t/ha en 8 t/ha gestroop, maar met die PHB 3394­kultivar wat ons ingebring het, kon hul tot 12 t/ha afhaal. Deesdae stroop produsente tot 20 t/ha,” vertel hy.

As besturende direkteur by Pioneer HiBred kon Engelbrecht en sy span uiteindelik daarin slaag om 29% van die markaandeel te verkry. Hy skryf die besondere prestasie toe aan die span wat saam met hom gewerk het.

“Ek glo as jy die beste mense aanstel, jy ‘n sukses van ‘n onderneming kan maak. Na 20 jaar, toe ek die maatskappy verlaat het, het ons die modernste saadverwerkingsfabriek en navorsingstasie in die land gehad. Ons markaandeel het in die 20 jaar van 0% tot 29% gegroei. Vandag gebruik al die saadmaatskappye Amerikaanse genetika in kombinasie met Suid-Afrikaanse genetika om beter kultivars te teel,” vertel hy.

Deur die jare het hy verskeie toekennings ontvang. Die eerste was ‘n internasionale toekenning wat hy in 1989 as navorser by Asgrow ontvang het. In 2003 is hy weer beloon met ‘n internasionale toekenning vir volhoubaarheid in landbou en sy bydrae om boerdery in Suid-Afrika meer winsgewend te maak.

Hy het ook op verskeie rade gedien, onder andere as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Gewasproduksie, waarvan hy ook ‘n erelid was. Hy het ook as die voorsitter van die Akkerboukomitee van die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (Sansor) gedien.

Engelbrecht vertel dat hulle in die 1979/1980-seisoen ‘n rekordmielie-opbrengs van 13,6 miljoen ton op 5,4 miljoen ha kon lewer.

“Ons kon verlede jaar weer ‘n rekord-opbrengs van 16,8 miljoen ton op slegs 2,6 miljoen ha afhaal. Dit kan toegeskryf word aan die feit dat laer potensiaallande omgeskakel is na weidings, beter bewerkingsmetodes, beter bemesting, beter insek- en onkruidbeheer, maar die grootste bydrae is die ontwikkeling van kultivars met hoër opbrengspotensiaal. Die vrystelling van GMO-kultivars wat stronkboorder- en Roundup-bestand is, het ‘n groot bydrae gelewer om ons produsente meer winsgewend te maak,” sê hy.

Oor die saadbedryf se pad vorentoe sê hy Suid-Afrika slaag daarin in om des te meer kompeterend in die wêreldmark te word. “Daar is geweldige vordering wat navorsing in genetika betref en die fokus is op hoër opbrengste. Nuwe geneties-gemanipuleerde organismes (GMO’s), wat onder andere bestand is teen die kommandowurm, word tans getoets. Genetika wat droogteverdraagsaam is en minder water benodig, word oorweeg. Daar word voortdurend gepoog om vir die produsent ‘n hoër opbrengs met minder insette te gee.”

Met sy aftrede beplan Engelbrecht om langs die Magaliesrivier in die Hekpoort-omgewing op hul familieplaas te boer. “Hier het ek sojabone en weiding soos raaigras, hawer en gars geplant en boer ek met Bonsmaras en Nooitgedacht-perde.”

Diegene wat hom as die prysprofeet ken, hoop egter dat Engelbrecht sal aanhou om voorspellings oor die komende mielie-oes te maak. Wie sal vergeet hoe hy in 2010 ‘n mielieprys van R2 000/ton voorspel het? ‘n Groot aantal mense het geglo dat dit onmoontlik was en tog het die prys kort daarna R2 800/ton behaal.

So tussen die boerdery en aftrede deur gaan hy steeds konsulteer en is Engelbrecht se ervaring en kennis daarom nie vir Suid-Afrikaanse landbou verlore nie.

Publication: May 2018

Section: Relevant