Bewaringslandbou

115

Maak dit ’n verskil aan die produksie-effektiwiteit van koring?

Dr Johann Strauss,
senior wetenskaplike:
Direktoraat Plantweten-
skappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou

Droëlandproduksiestelsels in die Wes-Kaap en meer spesifiek die Swartland-streek, is tradisioneel gebaseer op koringverbouing. Monokultuurverbouing het hoogty gevier sedert die 1700’s. Daar was darem so af en toe ’n afwisseling met braaklande of ’n hawerweiding hier en daar.

Die dryf om peulgewasweidings in te bring (medics) het in die 1970’s en vroeë 1980’s verandering gebring, maar dit het nie oral byval gevind nie. Die vestiging van geenbewerking en wisselbou as deel van die drietal bewaringslandboubeginsels, het aanvanklik stadige byval gevind in die 1990’s en sedert die draai van die millennium al hoe vinniger toegeneem.

Beoefening van dié drie beginsels, naamlik die minimum versteuring van die grond, diversiteit deur wisselbou en die behoud van oesreste bo-op die grond, het ongelooflik baie bygedra tot die volhoubare produksie van koring in die streek – veral nadat baie marginale grond aan koringproduksie onttrek is na die koms van die vryemarkstelsel.

Verder het die langtermynwisselbouproewe van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, wat sedert 1996 op die Langgewens-navorsingsplaas buite Moorreesburg gedoen word, ook ’n groot bydrae gelewer tot die volhoubaarheid van koringproduksie in die streek.

Effektiwiteit?
Die vraag is nou hoe effektief is hierdie beginsels op koringverbouing? Het die behoud van materiaal, die minimum versteuring van die grond, die afwissel van gewasse en selfs die dierefaktor in sommige van die stelsels, ’n verskil gemaak?

Die maklikste manier om die effek te illustreer, is om na die produksie van koring per millimeter reën en per kilogram stikstof toegedien te gaan kyk.

Agtergrond van die stelsels
In die langtermynproewe is daar agt wisselboustelsels wat getoets word. Monokultuurkoringverbouing dien as die kontrole en al die resultate wat verkry is en bespreek word in die artikel, word afgespeel teenoor monokultuur.

Vier van die wisselboustelsels is gebaseer op kontantgewasse en vier op ’n kombinasie van kontantgewasse en peulgewasweidings waarin daar ook ’n veefaktor teenwoordig is. Die agt stelsels vorm 32 moontlike gewasvolgordes wat met koring eindig.

Daar is egter elf unieke kombinasies wat koring, kanola, lupiene, medics en medics/klawer insluit. Tien van die kombinasies is afkomstig van die wisselboustelsels en die elfde een is dan die monokultuurstelsel.

Resultate

Koringopbrengs
In Tabel 1 word die elf unieke kombinasies se gemiddelde koringopbrengs (kg/ha) teenoor mekaar opgeweeg.

Die monokultuurvolgorde was in alle metings die swakste. Die gemiddelde opbrengs tussen die hoogste en laagste volgorde was 957 kg/ha of 37% (Tabel 1). Die gemiddelde koringopbrengs in volgordes wat ten minste een peulgewas per jaar ingesluit het, was 30% hoër as die monokultuur.

Volgordes sonder enige peulgewas het gemiddeld slegs ’n 12%-verhoging in koringopbrengs gehad. Die medics/kanola/medics/koring-volgorde was in al drie datastelle betekenisvol hoër as volgordes wat drie of vier opeenvolgende koringjare gehad het (Tabel 1, Tabel 2 en Tabel 3).

Die beste volgordes het óf medics alleen óf ’n medics/klawer-kombinasie bevat. Die opbrengsresultate onderstreep die belang van ’n peulgewas binne die wisselboustelsels. Nie net verhoog dit die gemiddelde opbrengs van koring nie, maar soos later gesien sal word, verlaag dit ook die insette van stikstoftoediening.

Effektiwiteit van reënvalgebruik
Alle volgordes wat kanola as deel van die stelsel insluit se koringproduktiwiteit per millimeter reën was 11% meer effektief as dié van die monokultuur. Daarteenoor het die volgordes wat een of meer jare ’n peulgewas of peulweiding ingesluit het, 26% beter effektiwiteit getoon (Tabel 2). Die volgordes wat van peulweidings gebruik gemaak het, was 31,6% meer effektief in hul waterverbruik as die monokultuur.

Effektiwiteit van stikstofgebruik
Volgordes wat peulgewasweidings ingesluit het, was gemiddeld 89% meer effektief in stikstofgebruik in die koringjaar (Tabel 3) as die monokultuurkontrole. Terselfdertyd was die koring in die volgordes waar daar slegs een jaar lupiene verbou is, 35% meer effektief. Die insluiting van ’n enkeljaarkanola in die verskillende volgordes het ’n 9%-verbetering in stikstofgebruikseffektiwiteit van die koringjaar tot gevolg gehad.

Afsluiting
Langtermyndata toon duidelik dat die water- en stikstofverbruikseffektiwiteit verbeter word deur wisselbou. Die redes hiervoor is nie net die insluiting van peulgewasse en -weidings, wat stikstof in die stelsels bind nie en ’n gevolglike verlaging in die toediening van stikstof tot gevolg het nie, maar ook die behoud van oesreste bo-op die grond wat die grond koeler hou en verdamping teenwerk.

Die minimale versteuring van die grond breek ook nie die grondstruktuur af nie en water kan vinniger infiltreer en makliker in die makro- en mikroporieë vasgehou word sodat dit langer beskikbaar is vir die koring.

Só byvoorbeeld was daar drie droogtes gedurende die leeftyd van die langtermynproef. In 2002 was die koringopbrengs gemiddeld 500 kg/ha oor die hele 38 ha-proef. In 2015 en 2017 het dit verbeter na gemiddeld 2,1 t/ha en 2,4 t/ha onderskeidelik. Stikstoftoediening het afgeneem en daar word gemiddeld slegs die helfte van die stikstof gegee wat in die wyer produksiegebied toegedien word.

Oor die afgelope twee seisoene (2017 was droog en 2018 was net onder die gemiddelde reënval) is daar gekyk hoe laag die totale toegediende stikstof op koring na medics gedruk kon word. In beide jare is die hele koringkamp met ’n lae hoeveelheid stikstof geplant en dan is die helfte van die kamp ’n topbemesting van 30 kg stikstof gegee.

In 2017 is geplant met 12 kg/ha stikstof en in 2018 met 9 kg/ha stikstof. Oesresultate het getoon dat in 84% van die kampe wat só vergelyk is, het die helfte met die minste toegediende stikstof ’n hoër opbrengs gelewer.

Wanneer daar besluit word om bewaringslandboubeginsels toe te pas, moet die kopskuif gemaak word om die stelsels te vertrou en te besef dat daar oor tyd gespaar kan word op die hoeveelheid stikstof wat addisioneel toegedien sou word.