NAMPO 2023 – innoverende landbou

Gepubliseer: 11 April 2023

618
Alzena Gomes skakelbeampte, Graan SA alzena@grainsa.co.za

Uitstalvenster van die nuutste idees en tegnologie-innovasies – dit is NAMPO se belofte aan besoekers by die 55ste aanbieding van die Oesdag van 16 – 19 Mei 2023.

Sedert sy ontstaan was die NAMPO Oesdag die leier in die tentoonstelling van landbou-innovasie en die verskaffing van daardie eenstop-platform aan landbou-entoesiaste in Suid-Afrika. Na ’n uiters suksesvolle en langverwagte terugkeer na die landboukalender verlede jaar, beloof 2023 se NAMPO Oesdag om weer eens alle verwagtinge te oortref.

“Innoverende landbou” as tema bevestig die positiewe rol wat aan die Oesdag toegeskryf word en die bydrae daarvan tot die toekoms van landbou. Dit sal landbou se nuutste tegnologie, masjinerie, innovasies en produktiwiteitsoplossings ten toon stel.

In sy pogings om te verseker dat NAMPO die landbousektor se mees relevante platform en markplek vir innovasie, tegnologie, inligting-uitruiling en gesprek is, het Graan SA opgetree om uitbreidings en verbeterings op die terrein en aan die program gereed te hê vir vanjaar se NAMPO Oesdag.

“NAMPO speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van die landbou­sektor deur ’n suksesvolle omgewing te bied vir sakeondernemings en produsente om interaksie te hê en sake te doen. Dit bring alle agrirolspelers bymekaar wat produkte en dienste aanbied op die gebied van produksie, masjinerie, voedselverwerking, insette sowel as ander produkte en dienste wat met die sektor verband hou. NAMPO is ook die plek waar produsente ontmoet en die enigste handelskou wat landbou-oplossings vir alle soorte en grootte plase en gewasse bymekaarbring,” het dr Dirk Strydom, Graan SA se hoof: Bemarking, NAMPO en Navorsingskoördinering, gesê.

Wat is nuut?
Baie uitstallers het hul NAMPO-aanbieding opgegradeer en uitgebrei en nuut geplaveide paaie sal die verspreiding van voete op die park verbeter. Die nuwe wapen- en buitelugklere-aanbiedinge is bygevoeg met die inslui­ting van nuwe uitstallers. Nuwe buite-uitstalruimtes aan die suidekant van die terrein bring die totale getal uitstallers op meer as 800 te staan. ’n Nuwe koffiekroeg sal enige koffieliefhebber se aptyt bevredig en bied ’n ont­spanne sitkameratmosfeer geleë aan die suidekant by Hek 2.

Deli-stalletjies is na die NAMPO Padstal geskuif en bied besoekers die varsste en lekkerste lekkernye. NAMPO se kosstalletjies wat steeds niewins­gewende organisasies soos skole, kerke en gemeenskapsorganisasies bevoordeel, het ook uitgebrei. ’n Eksklusiewe restaurant wat aan uitstallers die geleentheid sal bied om tafels vir kliëntegesprekke te bespreek, is by die Fanie Ferreira-saal gevoeg.

Die AFGRI-damesprogram is geskuif om beter sigbaarheid te verseker en beloof pretbelaaide oggende met bekende persoonlikhede soos sanger Chris Else wat optree, Mynhardt Joubert wat die vermoë ten toon stel om ’n maaltyd in kleur voor te berei en aan te bied, en Willem Botha wat vir die skoner geslag se tower-transformasies sal sorg.

Tradisionele NAMPO-gunstelinge soos die Standard Bank 4×4-baan en die avontuurbaan, die Boerepatente-kompetisie met Omnia en Landbouweekblad, die saadpersele aan die oostekant van die park, die Nasie in Gesprek-besprekings en daaglikse vee-uitstallings by die TAU-lewendehawearena is steeds deel van die program.

Vind jou pad
Daar is verskeie maniere om na en op die uitgestrekte NAMPO Park-gronde te beweeg. OFM as mediavennoot sal regstreeks vanaf NAMPO Park uitsaai met ’n toegewyde Agri-uur vanaf 11:00 en spesiale verkeersopdaterings deur die dag sal verseker dat luisteraars veilig na en van die geleentheid reis. Die “Mieliehop”-pendeldiens sal daagliks tussen NAMPO Park en Bothaville loop en bied ook langafstandpendeldienste vanaf die OR Tambo-lughawe sowel as die omliggende dorpe. Wat lugverkeer betref, verwelkom die Absolute Aviation-lughawe-sitkamer besoekers aan die noordelike kant van die park met ’n pendeldiens beskikbaar na Hek 3. Besoekers aan die park kan van die nege trekkersleepwaens gebruik maak wat verskillende roetes oor die terrein volg om die las op die voete te verlig.

’n Landbouhoogtepunt
Vanjaar het die NAMPO Oesdag ten doel om die NAMPO-droom van ouds werklik te verwesenlik. Die 2023-NAMPO Oesdag is beslis ’n hoogtepunt op die landboukalender en bied aan besoekers die ideale platform om met die landbousektor se toprolspelers en -verskaffers te netwerk, vriendskapsbande te versterk en bowenal te kom geniet wat hierdie unieke en steeds groeiende landbouskou bied, alles op een plek.

Kaartjies is beskikbaar by TicketPro met afslagfooie vir aanlyn aankope. Hekke open om 07:00 en sluit om 17:00. Roete-aan­wysings sowel as besonderhede oor die private vliegveld verskyn op die webwerf en die NAMPO-toep. Geen troeteldiere, fietse, selfaangedrewe karre of motorfietse sal op die perseel toegelaat word nie. Besoekers kan die vervoerkarretjies wat deur die loop van die dag langs drie verskillende roetes op die terrein beweeg, gratis gebruik.

Vir meer inligting, besoek die webwerf by www.nampo.co.za of laai die NAMPO-toepassing by jou voorkeur- aanlyn winkel af.