’n Resep wat SA ʼn wen-nasie kan maak

1173

Die verkiesing is gelukkig verby. Nou is die vraag: Hoe gaan die wenner optree? Die verloorders bly belangrik, maar die wenner bepaal die toon in ’n demokrasie.

Vir die onmiddellike toekoms is die vraag of die nuwe administrasie van president Ramaphosa gaan voldoen aan sy ondernemings van voor die verkiesing. Hy het onderneem om sy party en die land te vernuwe en om groei te bevorder. Laasgenoemde was inderdaad die hooftema op die ANC-verkiesingsplakkate – iets wat ’n groot swaai van denke verteenwoordig.

Groei
Groei is in almal se belang. Dit is die enigste manier waarop die verlore jare, vanaf 2015 spesifiek, herwin kan word. Aan die einde van daardie jaar het die groot ineenstorting van Suid-Afrika se ekonomie plaasgevind met die onverklaarbare afdanking van Nhlanhla Nene as Minister van Finansies. Die uitvloei van fondse en die aftakeling van besigheidsvertroue wat daarop gevolg het, het almal in die land ongeveer 25% armer gemaak.

Na die afgelope verkiesing is daar egter meer hoop en verwagtinge omdat die mandaat vir vernuwing en groei sterk oorgekom het. Baie vertroue word ook geplaas in die persoon van president Ramaphosa. Ofskoon een persoon nie alles kan verander nie, is daar wel die mening dat hy ’n groot verskil kan maak.

Die volgende vyf jaar
Die werklike toets lê egter in wat in die volgende vyf jaar gaan gebeur. Indien die land in dié tydperk omgedraai kan word, is Suid-Afrika op die wenpad. Dit sluit onder meer die volgende in:

  • Die herstel van instellings soos die Nasionale Vervolgingsgesag.
  • Die afhandeling van ondersoeke na staatskaping en korrupsie.
  • Die behoorlike funksionering van staatsinstellings soos die polisie, gesondheidsdienste en onderwys.
  • Die bestuur van die staatsbegroting op so ’n wyse dat staatskuld in bedwang gehou word.
  • Die skep van buitelandse vertroue in die owerheid en die private sektor se rol.

Alhoewel die staat se verantwoordelikheid duidelik is, kan alle sektore van die samelewing ’n bydrae lewer. ’n Goeie demokrasie bestaan uit suksesvolle samewerking tussen die regering van die land, die private sektor en die burgerlike samelewing. Indien een van dié bene faal, is die demokrasie onder druk en die land in gevaar. Dit was duidelik sigbaar veral in die periode vanaf 2014 tot 2017.

Gesamentlike agenda
Dit is dus nou gepas om op ’n gesamentlike agenda te konsentreer – en dit moet eenvoudig gehou word. Daar is reeds daarin geslaag om bykans onmoontlike pro­bleme te oorkom deur te vra wat in die toekoms bereik wil word, in stede daarvan om behoeftes uit die verlede te bevredig. ’n Gesamentlike toekomsdoel kan wondere verrig.

Landbou die nommereen-groeisektor
Indien daardie doel byvoorbeeld is om landbou die nommereen-groeisektor in die ekonomie te maak en die grootste bydraer tot werkskepping oor die volgende vyf jaar, kan niemand – nie die staat, produsente, werknemers of grondeisers – daarteen stry nie. Dit sal ’n enorme bydrae maak tot die verligting van armoede en die ongelykheidsgaping.

Hierdie doel is min of meer reeds verwoord in landbou se voorstelle aan die regering deur middel van die Public Private Growth Initiative (PPGI). Dit behels verbintenisse deur die landbousektor om groei en werkskepping te verseker oor die volgende vyf jaar en om dié sektor só te transformeer dat almal wat wil boer, dit kan doen.

Hierby kan die doelwitte van die Agricultural Development Agency (ADA), wat nou in ’n ontwikkelingsfase is, gevoeg word. Die oogmerke daarmee is om ontluikende boere in staat te stel om te begin boer en deur befondsing en voorligting suksesvolle toetreders tot die landboubedryf te word.

Groeipotensiaal
Die krag van die landbousektor is opgesluit in die groeipotensiaal van die bedryf. Kyk ’n mens na die groei van nuwe kommoditeite, nuwe produksiestreke en nuwe tegnologie binne die bedryf, is dit duidelik dat die potensiaal ver van uitgeput is. Die antwoord op die debat oor landbougrond is trouens opgesluit in hierdie argument: Werf nuwe toetreders om beskikbare, produktiewe grond vir kommersiële boerdery aan te wend en bemagtig hulle met befondsing en kundigheid.

Hierdie argument word op die tafel geplaas deur die interaksie wat ontstaan het tussen die regering en die private sektor deur middel van die PPGI-projek. PPGI is deel van die regering se beplanning vir die volgende vyf jaar. Daarin verbind die private sektor (waaronder landbou) hulself tot duidelike groeidoelwitte en die staat onderneem om die hindernisse wat groei belemmer, aan te spreek en uit die weg te ruim. ’n Vennootskap kom op dié wyse tot stand waardeur alle partye wen.

Die onderliggende idee is dat die private sektor op ’n gereelde basis met die president sal vergader om die vordering met die doelwitte te toets en te beoordeel hoe hindernisse uit die weg geruim word. Die vennootskap word so versterk, onderlinge vertroue groei en die land en sy mense word die uiteindelike wenners. Indien hierdie resep oor die volgende vyf jaar gevolg word, sal Suid-Afrika ’n wen-nasie wees!