Werk gewasrotasie regtig om die onkruidsaadbank te bestuur?

178
Dr Johann Strauss,
Direktoraat Plantwetenskappe: Navorsing en Tegnologie-ontwikkeling,
Wes-Kaapse Departement van Landbou

Gewasverbouing oor die dekades heen het beweeg na produksiestelsels wat daarin gespesialiseer het om ’n klein aantal gewasse op groot skaal te verbou. In die meeste gevalle is die gewasverbouing en die diereproduksie van mekaar geskei. Dit is ondersteun deur hoë-opbrengskultivars in die graangewasse, sintetiese kunsmis, pesbeheer en gespesialiseerde masjinerie.

Die langtermynuitwerking van hierdie “groen rewolusie” is egter dalk nie so rooskleurig soos ons dit graag sou wou hê nie. Die omgewingsimpak van sulke stelsels en die geneigdheid om te selekteer vir ’n klein aantal onkruide, insekte en siektes, het mense laat besef dat die stelsels meer divers gemaak moet word om te verseker dat landbou volhoubaar bly (Pretty & Bharucha, 2014).

Met die koms van bewaringslandbou sedert die middel 70’s, het die denkrigting verander en is voorgestel dat meer diverse wisselboustelsels nodig is. Geenbewerking, die behoud van grondbedekking en wisselbou vorm deel van hierdie nuwe rewolusie in gewas- en diereproduksie. In die Wes-Kaap het bewaringslandbou in die middel 80’s en vroeë 90’s stadig maar seker veld begin wen onder die graanprodusente van beide die Suid-Kaap en die Swartland.

Verskillende kort- en langrotasiewisselboustelsels het ontwikkel sedert oom Jack Human van Heidelberg die kopskuif gemaak het. Na ’n paar jaar het die Wes-Kaapse Departement van Landbou, onder leiding van dr Mark Hardy, ’n reeks bewaringslandbouproewe op die been gebring waar baie van die stelsels getoets is.

Agtergrond
Een van die datastelle wat ingesamel is, het die ontwikkeling van die onkruidsaadbank in terme van die verskeidenheid onkruid wat voorkom, ondersoek, asook moontlike onkruidgetalle tussen die verskillende wisselboustelsels. In hierdie artikel word gefokus op die data wat op die Langgewens-langtermynwisselbouproef ingesamel is.

’n Span van vyf lede, wat plaaslike en oorsese navorsers ingesluit het, het die data verwerk en die ontledings gedoen. Die data is saamgevat in ’n artikel wat in die internasionale vaktydskrif Applied Ecology gepubliseer is. Die hoofskrywer van die artikel is me Chloe MacLaren, wat ten tye van die navorsing ’n PhD-student aan Coventry Universiteit in die Verenigde Koninkryk was.

Ook in die span was dr Johann Strauss (Wes-Kaapse Departement van Landbou en huidige bestuurder van die proewe) en dr Pieter Swanepoel (Universiteit Stellenbosch en medestudieleier van die skrywer). Die twee internasionale spanlede was dr Jonathan Storkey (Rothamsted Research) en dr Katharina Dehnen-Schmutz (Coventry Universiteit).

Die tydperk waaroor die data ontleed is, het gestrek van 2005 tot en met 2016. Langtermyntendense in die onkruidsaadbanke van agt verskillende wisselboustelsels is ondersoek. Vier van die stelsels het slegs kontantgewasse ingesluit en die ander vier het uit ’n kombinasie van ’n kontantgewas en eenjarige peulgewasweidings bestaan. Al agt die stelsels is vierjaarwisselboustelsels en dié wat weidings insluit, het ook ’n veefaktor (in dié geval skape) ingesluit (sien Tabel 1).

Afwisseling van gewasse en spuitstowwe en die insluiting van diere kan alles gesien word as maniere om die omgewing waarin die onkruid floreer, te versteur. Met ander woorde: Verander die kondisies wat die onkruid elke jaar ondervind met die doel om die kanse dat een spesie elke jaar vermeerder (hoeveelheid), te beperk en verder om te verhoed dat ’n spesie heeltemal uitgewis word (bewaar diversiteit). In Figuur 1 word ’n opsomming gegee wat die verskille tussen die stelsels beter sal verduidelik.

In die studie is gekyk na die effek van:

  • Wisselbou (dus diverse gewasse);
  • die hoeveelheid onkruiddoder gespuit;
  • onkruiddoderdiversiteit;
  • die hoeveelhede stikstof, fosfaat en kalium wat toegedien is; asook
  • die diversiteit van stikstofbronne (peulgewasse, kunsmis en dieremis) op die hoeveelheid en verskeidenheid van onkruid binne die verskillende stelsels.

Dit was egter nie duidelik in die literatuur of slegs wisselbou genoeg is nie (verskillende kompetisiedruk) en of die bestuursdiversiteit wat daarmee saam gaan, nie ook ’n rol speel nie.

Resultate
Om die antwoorde wat gekry is uit die ontleding van die data makliker verstaanbaar te maak, word dit in Tabel 2 opgesom. Die resultate word gegee vir al die faktore wat in die vorige paragraaf genoem is en verwys dan spesifiek na die effek op die hoeveelheid en die verskeidenheid van onkruide.

Hoe meer diversiteit in terme van gewasse in rotasie is, hoe minder onkruidgetalle was daar in die saadbank wat weer probleme kon veroorsaak. Stelsel C en Stelsel D (meer divers) het beter gevaar as Stelsel A en Stelsel B in terme van die kontantgewasse.

Die kombinasie van weiding/kontantgewas het beter gevaar as die kontantgewasse in terme van vermindering van die getal onkruid. Stelsel G het die beste gevaar van die weiding/kontantgewasstelsels (meer divers).

Hoe minder stikstof toegedien is, hoe minder was die getal onkruid. Daar waar daar meer diversiteit was in terme van die stikstofbron was die weidingstelsels waar stikstofbinding plaasgevind het en verwerkte stikstof in die urine van die diere, saam met die klein hoeveelheid sintetiese stikstof (bemesting) wat toegedien is, suksesvol daarin om onkruidgetalle te verlaag. Die veefaktor speel definitief ’n beduidende rol in die bestuur van die saadbank.

Gevolgtrekking
Uit die resultate blyk dit dat diversiteit van gewasse en bestuursfaktore die wenresep is om die onkruidsaadbank te verlaag. Hoe meer die verskeidenheid, hoe beter. Daar moet ook weer diep gedink word oor die hoeveelheid stikstof en onkruiddoders wat toegedien word.