Hoogste pryse nog vir brandstof – só word dit bepaal

Gepubliseer: 11 April 2022

1839
Christiaan Vercueil, intern: Toegepaste Ekonomie, Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

Suid-Afrika ervaar tans die hoogste brandstofpryse in die geskiedenis. Dit is nie net ’n klip in die skoen vir produsente nie, maar vir die hele waardeketting tot by die eindverbruiker. Elke produk moet deur die waardeketting beweeg om in die finale vorm te kom voor uiteindelike verbruik. Dit beteken hoë dieselpryse veroorsaak dat alle produkte se pryse styg, wat weer hoër inflasie tot gevolg het. Dit is ’n bose kringloop met die hele waardeketting wat die las moet dra.

Vir die maand van Februarie 2022 het die olieprys gemiddeld teen $94,18/vat verhandel. Dit het gelei tot die verhoging in die brandstofprys in Maart 2022. Die basiese brandstofprys het vanaf R9,8/ℓ tot R11,08/ℓ in Februarie 2022 gestyg (die werklike koste van diesel sonder belasting, hef­fings en ander koste). Dit volg kort op die uiters hoë pryse wat verbruikers reeds in 2021 getref het toe die dieselprys die R20/ℓ-merk verbygesteek het. Vir Maart is diesel se groothandelprys R19,49/ℓ.

Werklike data vir die 2019/2020-seisoen toon dat brandstof naastenby 10% van produsente se totale produksiekoste uitmaak. Brandstofpryse het in 2021 met 40% verhoog en totale insetkoste (insluitende saad, kunsmis, chemie en brandstof) het jaar op jaar met 50% gestyg.

Bepaling van die dieselprys
Die bepaling van die brandstofprys is nie ’n konsep waarmee die meeste Suid-Afrikaners bekend is nie. Die aankoop van petroleumprodukte op die internasionale mark teen invoerpariteit en die vervoer daarvan is die grootste faktore wat die basiese brandstofprys opmaak. Hierdie twee faktore word ook baie sterk deur die internasionale olieprys en die rand/dollar-wisselkoers beïnvloed. Addisioneel tot die basiese brandstofprys word belasting en hef­fings deur die regering bygevoeg. Grafiek 1 bevat ’n uit­eensetting van die groothandelprys van diesel (0,05% swael) teen R19,49/ℓ (soos aangeteken op 2 Maart 2022).

Grafiek 1: ’n Uiteensetting van die groothandelprys van diesel.
Bron: Departement van Minerale Bronne en Energie, 2021

Op Grafiek 1 bestaan die “ander”-segment uit die groot­handelsmarge, opberging en verspreiding, vervoermarge en kleinhandelsmarge.

  • Basiese brandstofprys: R11,08/ℓ (57%)
  • Belasting en heffings: R6,50/ℓ (33%)
  • Ander: R1,91/ℓ (10%)

Grafiek 2 toon die prysverandering van die olieprys, basiese dieselprys (werklike koste van diesel) en die groothandeldieselprys vanaf Februarie 2014 tot Desember 2021. Die grafiek toon ’n duidelike korrelasie tussen die verandering in die olieprys en die basiese dieselprys.

Grafiek 2: Die verandering in die prys van ruolie, gelande diesel en groothandeldiesel in indeksvorm aangedui vanaf Februarie 2014 tot Desember 2021.
Bron: Graan SA

Belasting en heffings
Die twee grootste heffings is die algemene brandstofheffing en die Padongeluksfonds-heffing (POF-heffing).

Die algemene brandstofheffing is ’n heffing op elke liter brandstof en het in die 2019/2020-belastingjaar R80 biljoen gegenereer wat gelykstaande is aan omtrent 6% van die totale nasionale belasting­inkomste. Hierdie heffing vloei in die nasionale inkomstefonds in. ’n Gedeelte daarvan word geoormerk vir verdeling tussen Suid-Afrika se agt metrorade. In die 2019/2020- fiskale jaar is R13,2 biljoen gesamentlik aan dié munisipaliteite uitbetaal.

Tans beloop die POF-heffing R2,18/ℓ en dit het in die 2019/2020-belastingjaar R41,2 biljoen gegene­reer. Grafiek 3 toon dat basiese dieselkoste in die jaar 2000 R3,00 was. Van hierdie R3,00 was slegs 26% belasting teenoor vandag se 33%.

Grafiek 3: Die verhouding van die beweging van gelande koste van diesel met die beweging van belasting en heffings.
Bron: Graan SA

Grafiek 4 dui die toename in die basiese brandstofprys, die algemene heffing, die POF-heffing en ander bydraende faktore as indekse aan. Dit is duidelik uit die grafiek dat die belas­ting en heffings konstant sterk toeneem ongeag die basiese brandstofprys. Die POF-heffing het met 425% toegeneem en die algemene brandstofheffing het met 225% toegeneem vanaf Januarie 2008. Die basiese brandstofprys het met 119% toegeneem in dieselfde tydperk. Dit wil sê dat die POF-heffing 258% en die algemene heffing 90% vinniger toegeneem het as die basiese brandstofprys.

Grafiek 4: Die toename in die basiese brandstofprys, die algemene heffing, die Padongeluksfonds-heffing en ander bydraende faktore word as indekse aangedui.
Bron: Stats SA, 2021

Gevolgtrekking
Die basiese brandstofprys van R11,08/ℓ en heffings en belasting van R6,50/ℓ maak onderskeidelik 57% en 33% van die groothandelprys van diesel uit.

Baie individue is onder die wanindruk dat die brandstofpryse, ongeag belas­ting en heffings, nie korrek aangepas word nie. Dit is nie die waarheid nie. Soos gesien in Grafiek 1, is daar ’n duidelike verhouding tussen die brandstofprys en die olieprys. Die groot teenstrydigheid is die belasting en heffings en die effek wat dit op die kleinhandel- en groothandelprys van brandstof het. Hierdie effek kan deur produsente verminder word deur getrou boek te hou van brandstofverbruik en om die dieselrabat vir produsente van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) af terug te eis. Die waarde van hierdie rabat wat teruggeëis kan word, is R3,66/ℓ.