Temperatuur se effek op koring se opbrengspotensiaal

2068
Leon Weber,
onafhanklike
landboukonsultant

Koring is ’n koelweergewas. Die warm produksiegebiede onder besproeiing noord van die Magaliesberg (die Krokodilrivierkom, die Loskopskemagebied en die besproeiingsgebiede in Limpopo) het nie die ideale klimaat vir hoë koringopbrengste nie. Die koel produksiegebiede van die Noordwes Provinsie, die Vrystaat en die Noord-Kaapse besproeiingsgebied het ’n veel hoër opbrengspotensiaal as die warm produksiegebiede.

Die vraag ontstaan hoekom die warm gebiede nie die hoë potensiale kan behaal nie, want die koring groei daar besonder geil en mooi, met soms te lang strooihalms, breë blare en groot are sonder om hoë opbrengste te behaal.

In die 1999-seisoen is daar ongekende hoë opbrengste behaal in MGK se tradisionele gebiede noord van die Magaliesberg asook in die kultivarproewe te Koedoeskop, Beestekraal en Rustenburg. Opbrengste van 7 t/ha tot 8 t/ha is oor groot oppervlaktes geoes terwyl opbrengste van hoogstens 6 t/ha by goeie produsente met goeie grond en bestuur behaal word in normale jare. Die 1999-oes se proteïeninhoude was egter betekenisvol laer.

Hierdie selfde produksiegebied se opbrengste in 1995 was aansienlik laer as die gemiddelde produksie van ongeveer 6 t/ha by goeie produsente. Die proteïene was egter betekenisvol hoër.

Baie moeite en navorsing is deur MGK se landboukundige afdeling gedoen om te verklaar hoekom die opbrengste van 1999 soveel hoër was by dieselfde produsente met dieselfde grond en behandeling. Koring was voor 1999 net so mooi, net so goed bemes, besproei en versorg, maar met teleurstellend lae opbrengste.

Temperatuur
In die soeke na ’n verklaring vir die hoë opbrengste van 1999, is die volgende uit die bestudering van temperatuurdata van Koedoeskop (geleë in die Krokodilrivierkom ongeveer 100 km noord van Brits) gevind:

Dit is bekend dat temperatuur ’n rol speel in koringopbrengs, maar ons weet nie wanneer en hoe laag temperature moet wees om opbrengs te bevoordeel nie en wanneer en hoe hoog temperature moet styg om produksie drasties te benadeel nie. Die temperatuurdata van 1995, wat ’n swak produksiejaar was, is vergelyk met dié van die 1999-seisoen wat hoër opbrengste gelewer. Dit word uitgebeeld in Grafiek 1 en Grafiek 2 wat die weeklikse gemiddelde minimum en maksimum temperature asook die langtermyn- gemiddelde temperature aandui van die 1995- tot 1999-oesjaar.

Grafiek 1 en Grafiek 2 toon dat 1999 (die goeie jaar) ’n relatief warmer winter gehad het in vergelyking met die langtermyngemiddeld en ook die 1995-seisoen. Uit die grafieke is dit ook duidelik dat die 1999-seisoen betekenisvol laer temperature gehad het vanaf die tweede week in September. Daarteenoor was die 1995-seisoen aansienlik warmer in dieselfde tydperk (gemiddeld ongeveer 4°C hoër as die van 1999 en 3°C hoër as die langtermyn- gemiddelde temperature.)

Uit die navorsingsresultate wat oor die jare te Koedoeskop verkry is, blyk dit dat koring wat in die eerste twee weke van Junie geplant is, afhangend van kultivar, begin bestuif het en dat saadvul begin plaasvind het vanaf 10 tot 20 September.

Grafiek 3 toon die verskille van die gemiddelde van die minimum plus maksimum temperature tussen 1995 en 1999 in die saadvulstadium aan teenoor die langtermyn- gemiddelde temperature van elf jaar.

Hierdie laer temperature van die 1999-seisoen in die saadvulstadium verklaar ook waarom die koring langer geneem het om ryp te word (langer in die saadvulstadium was) in die 1999-seisoen.

Met die hoë temperature in die saadvulstadium, soos in 1995, brand die koring vinnig en geforseerd ryp terwyl die koring in die laer temperature, soos in 1999, nie so vinnig ryp word nie.

Dit het gevolglik meer tyd om die fotosintaat (koolhidrate en proteïene) wat in die stingels en blare vervaardig en opgeberg is, te translokeer in die pitte in. Dit verklaar ook die voller, vetter en swaarder pitte wat deurgaans in 1999 waargeneem is.

Uit die bestudering van die temperatuurdata van die Brits- en Koedoeskopweerstasies van 1995 en 1999 het die volgende duidelik geword ten opsigte van die effek van temperatuur op koringopbrengs.

’n Gebied of jaar met gemiddeld laer temperature, veral in die saadvulstadium, het ’n hoër opbrengspotensiaal.

Lae temperature in die seisoen (plant- en stoelstadium) het nie so ’n groot invloed op opbrengs nie, behalwe dat die koring beter stoel en gevolglik meer halms en are kan vorm.

Wat klimaat en temperatuur aanbetref, speel lae temperature in die saadvulstadium beslis die grootste rol in opbrengspotensiaal. In die betrokke twee jare, 1995 en 1999, het temperatuurverskille in die saadvulstadium opbrengsverskille van ongeveer 1,5 t/ha tot 2,5 t/ha tot gevolg gehad.

Uit Grafiek 3 blyk dit dat goeie opbrengste verwag kan word as die gemiddeld van die minimum plus maksimum temperature in die saadvulstadium nie 22°C oorskry nie. Met laer as 22°C kan nog hoër opbrengste verwag word en heelwat hoër as 22°C lei tot besonder lae opbrengste. ’n Voorspelling kan dus gemaak word met behulp van die gemiddelde temperature in die saadvulstadium of daar goeie, gemiddelde of swak opbrengste behaal gaan word deur te bepaal wat die gemiddelde temperatuurstand is in vergelyking met die 22°C-lyn (van die gemiddeld van die gemiddelde minimum plus maksimum temperature).

Plantdatums
Om hierdie groot effek van laer temperature in die saadvulstadium maksimaal te ontgin ten einde hoër opbrengste te behaal, moet plantdatums so gekies word dat saadvul plaasvind by die laagste moontlike temperature met inagneming van die uittreedatum van moontlike ryp- of koueskade.

Omdat temperature geleidelik styg vanaf 1 Julie tot Desember, sal vroeër plantdatums lei tot saadvul in koeler omgewingstemperature met gevolglik hoër opbrengste. As handreël kan daarop gewerk word dat koring een dag vroeër blom vir elke twee dae vroeër geplant.

Dat koring koue- of rypskade kan opdoen in die pyp-, bestuiwing- en saadvulstadium, moet voortdurend in berekening gebring word met die kultivar se groeiseisoenlengte, plantdatum asook ryp- en kouemoontlikhede.

Kultivars
Heelwat vordering is egter al gemaak met dwergkultivars en kultivars met korter asook sterker strooi.

Daar word nog beter kultivars benodig wat staanvermoë aanbetref asook vinniger saadvul om hierdie potensiaal wat die klimaat toelaat, te benut. Strooilengte kan in ’n mate beperk en bestuur word deur stikstoftoediening en ook besproeiingskedulering.

Hoër opbrengste lewer hoër winsmarges omdat vaste kostes soos bewerking, saad, onkruidbeheer, plaagbeheer, reparasie, arbeid en depresiasie dieselfde is vir 5 t/ha as vir 8 t/ha. Deur slim plantdatumkeuses kan die goeie bestuurder die maksimum opbrengs behaal deur die bestaande temperature in sy gebied, op sy plaas en ook selfs op afsonderlike lande, tot die maksimum voordeel te benut.