November 2016

THINUS UYS en BRIAN DE VILLIERS, Villa Crop Protection

Maak só die meeste van glifosaatbespuitings

Glifosaat word nou al vir vier dekades met groot sukses toegedien en is die bekendste en mees verbruikte onkruiddoder ter wêreld. Ten spyte hiervan bestaan daar steeds ‘n klomp wanpersepsies daaroor.

In hierdie skrywe word ‘n paar praktiese wenke gegee om glifosaatbespuitings en onkruidbeheer te optimaliseer.

Glifosaat en waterkwaliteit

Glifosaat is ‘n wateroplosbare, swak, suur onkruiddoder. Daarom kan dit verbindings met ione, wat natuurlik in spuitwater voorkom, vorm.

Hierdie glifosaatverbindings wat in beide harde en brak water kan voorkom, verlaag die effektiwiteit van glifosaat omdat dit swakker opneembaar is. Dit is een van die hoofredes vir verlaagde onkruidbeheer met glifosaat.

Die effektiefste manier om hierdie probleem te oorkom, is om ‘n goeie kwaliteit ammoniumsulfaat-byvoegmiddel te gebruik. Die ammoniumsulfaat bind met die soute in harde en brak water voordat dit met die glifosaat kan bind. Sodoende kan die glifosaat optimaal opgeneem word en die onkruidbeheer herstel word.

Die gebruik van ammoniumsulfaatbyvoegmiddels word egter as ‘n standaard praktyk aanbeveel, omdat verhoogde onkruidbeheer selfs met goeie water bewerkstellig word. Daar word vermoed dat die ammoniumioon van die ammoniumsulfaat tot verhoogde glifosaatopname bydra. Moet egter nooit kunsmisgraad ammoniumsulfaat as byvoegmiddel gebruik nie.

Glifosaat met ander byvoegmiddels

Daar word soms addisionele benattingsmiddels by glifosaat bespuitings gevoeg – veral as daar toedienings op groot, of moeilikbeheerbare onkruide gemaak word. Maak seker dat die praktyk wel op die etiket aanbeveel word en maak ook seker dat die korrekte byvoegmiddel gebruik word.

Glifosaat vaar gewoonlik beter met wateroplosbare benatters wat nie te veel op die blaar versprei nie. Dit vaar gewoonlik baie swakker met olieagtige byvoegmiddels en sekere olies kan selfs die werking van glifosaat benadeel. Wees dus baie versigtig watter byvoegmiddels met glifosaat toegedien word.

Daar word ook soms ander waterregstellende byvoegmiddels verkoop. Maak seker op die betrokke glifosaatetiket of hierdie produkte geregistreer is. Moet nooit ‘n ongeregistreerde byvoeg middel gebruik nie. Verwys altyd na die glifosaatetiket.

Glifosaat in tenkmengsels

Glifosaat meng oor die algemeen swak met ander onkruiddoders en landbouchemikalieë (soos blaarvoedings) en tenkmengsels kan die onkruidbeheer verswak. Dit is dus van kardinale belang om net geregistreerde mengsels te maak.

Met ongeregistreerde mengsels kan daar fisiese onverenigbaarheid voorkom – wat kan lei tot reaksies in die spuittenk. Dit kan ongewenste reaksies soos flokkulasie, presipitasie en geblokte spuit punte veroorsaak.

Met sekere mengsels kom daar egter geen fisiese onverenigbaarheid voor nie, maar dit kan nog steeds die effektiwiteit van glifosaat nadelig beïnvloed. Die rede daarvoor is omdat die glifosaat opnameproses deur die mengsel benadeel word.

‘n Goeie voorbeeld hiervan is hormoondoders – al is dit geregistreer. Glifosaatonkruidbeheer word soms benadeel deur dit te meng met hormoondoders. Gelukkig herstel ammonium sulfaatbyvoeg middels gewoonlik die glifosaatwerking in hierdie mengsels. Wees egter baie versigtig om die regte ammoniumsulfaat byvoegmiddel hiervoor te gebruik.

Sekere byvoegmiddels met ‘n lae pH-waarde sal die probleem vererger deur jellieagtige spuitoplossings te veroorsaak. Die am moniumsulfaatbyvoegmiddel kan egter nie in alle gevalle die antagonisme van tenkmengsels oorkom nie en daarom is dit belangrik om net geregistreerde tenkmengsels met glifosaat te maak.

Glifosaatmengproses

Glifosaatetikette dui gewoonlik die mengprosedure daarvan aan. Riglyne van geregistreerde tenkmengsels, asook die mengvolgorde, word aangedui. Gewoonlik word aanbeveel dat die glifosaat laaste in die spuitoplossing ingemeng word.

Die redes hiervoor is om skuimvorming te verminder en om mengselprobleme soos flokkulasie te verhoed. Moet nooit glifosaat en ander konsentrate vooraf meng voordat dit in die spuittenk gevoeg word nie. Dit kan rampspoedige gevolge hê.

Glifosaat en watervolume

Dit is alombekend dat glifosaat se effektiwiteit verhoog soos wat watervolume afneem. Die verbeterde effektiwiteit van glifosaat is te danke daaraan dat:

  • Glifosaat se aktiewe bestanddele en bevorderingsmiddel konsentrasies in die spuitoplossing verhoog – met ander woorde meer gekonsentreerde druppels; en
  • minder antagonistiese soutione in laer watervolumes teenwoordig is.

Vermy aksies soos verhoogde spuitspoed, verlaagde spuitdruk en die gebruik van die verkeerde spuitkoppe.

Een of meer kombinasies van hierdie aksies kan daartoe bydra dat oneweredige en ondoeltreffende spuitdruppels gevorm word – wat verhoogde newelwegdrywing tot gevolg het of te groot druppels vorm wat van die blaaroppervlak kan afrol.

Uit verskeie navorsingstudies van oor die wêreld blyk dit dat spuitvolumes van 100 l/ha tot 150 l/ha die mees geskikte volume vir matige tot hoë druk-onkruidinfestasie is.

Omgewingstoestande se rol op glifosaateffektiwiteit

Omgewingstoestande beïnvloed die effektiewe onkruidbeheer van enige onkruiddoder. Optimale omgewings- en klimaatstoestande is bevorderlik vir die groei van plante, lei tot effektiewe onkruidbeheer en het die minste risiko vir skade aan die gewas.

Enige omgewingstoestand wat stres by plante tot gevolg kan hê, mag onkruiddoderopname en die effektiwiteit van onkruiddoder nadelig beïnvloed.

Omgewingsfaktore wat moontlik kan lei tot swak werking van glifosaat sluit in droogte, temperatuur (te hoog of te laag), versuiptoestande, relatiewe humiditeit, reën kort na toediening, hewige douneerslag op plante en ligintensiteit.

Onkruidbeheer en die spoed van glifosaatopname verhoog gewoonlik namate die temperatuur verhoog – solank die plant aktief groei. Bonormale hoë temperature tesame met droogtetydperke en lae humiditeit wat strestoestande by plante tot gevolg het, sal die werking van glifosaat nadelig beïnvloed en swak beheer veroorsaak.

Glifosaattoedienings gedurende relatiewe koue periodes voor, met of na toediening, sal ook ‘n nadelige uitwerking op die effektiwiteit hê. Hewige douneerslae vroeg in die oggend as gevolg van hoë nagtemperature met hoë, relatiewe humiditeit sal die opname en werking van glifosaat nadelig beïnvloed deurdat spuitdruppels tesame met die doudruppels, oorbenatting op die blaaroppervlakte veroorsaak – wat die glifosaatkonsentrasie in die druppel verlaag en afloop bevorder.

‘n Hewige reënbui kort na bespuiting kan swak beheer van veral eenjarige grasonkruide (of plante met fyn, smal vertikale blaargroei), asook meerjarige plante tot gevolg hê. Glifosaatopname geskied vinniger by aktiefgroeiende, eenjarige breëblaarplante as by grasagtige plante en daarom is die reënvrye tydperk wat nodig is, aansienlik korter. Vermy glifosaatbespuitings indien reën kort na toediening verwag word.

Verandering in die ligintensiteit tussen dag en nag het ‘n nadelige invloed op die werking van glifosaat. Navorsing het bewys dat die effektiwiteit van ‘n glifosaatbespuiting na sononder en voor sonsopkoms (met ander woorde gedurende die nag) aansienlik afneem.

Glifosaat moet verkieslik na sonsopkoms (vroegoggend) voordat dagtemperature te veel toeneem en weer agtermiddag, maar voor sononder, gespuit word vir optimale werking. Glifosaatopname, translokasie en metaboliese aktiwiteit word beïnvloed deur die plant se fotosintetiese siklusse tussen dag en nag.

Neem die omgewingstoestande voor, met en net ná ‘n beplande bespuiting in ag wanneer glifosaat toegedien moet word, om sodoende te verseker dat optimale toestande vir spuit, asook vir die aktiewe groei van onkruide, heers.

Onkruidgroeistadium en glifosaatdosis

Glifosaat se effektiwiteit word nadelig beïnvloed deur verskeie omgewings- en klimaatfaktore buite die beheer van die toediener. Die belangrikste oorsaak van swak beheer is gewoonlik te wyte aan onkruide wat te groot is en gespuit word met dosisse wat geskik is vir kleiner plante.

Die meeste van die glifosaataanbevelings en dosisse – veral op eenjarige onkruide soos dit nog tans op etikette verskyn – is vir situasies waar onkruide na ‘n saadbedvoorbereiding ontkiem het en voordat daar geplant kan word.

Die eenjarige onkruide is dus nog relatief jonk en etiketaanbevelings en dosisse vir voor-plantbespuitings is effektief genoeg om ‘n wye spektrum onkruide te beheer. Met die oorskakeling na minimum- en geenbewerkingsmetodes, het dit praktyk geword om te wag met bespuitings tot kort voor die gewasaanplanting plaasvind.

Hierdie verandering in die voor-plantbespuiting het bygedra daartoe dat eenjarige onkruide tydens toediening, wanneer daar ook winteronkruide in die onkruidspektrum voorkom, aansienlik groter en ouer is. Onkruidspektrum en ouderdom is van kardinale belang en dosisse moet opwaarts aangepas word om hoër doeltreffendheid te verseker.

Slot

Glifosaat is en bly ‘n puik, nie-selektiewe onkruiddoder. Dit is egter belangrik om te besef dat dié produk deur verskeie faktore beïnvloed word. Hierdie faktore moet in ag geneem word om optimale onkruidbeheer te bewerkstellig.

Publication: November 2016

Section: On farm level