Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 7: Borseltjiegras (Anthephora pubescens)

1727

Hierdie artikel is die sewende in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplante weiding-rotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van aangeplante weidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies word. Dit is egter noodsaaklik om ’n aangeplante weidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en grondherstel.

Anthephora pubescens/borseltjiegras (bottle brush grass)

Borseltjiegras is ’n meerjarige polgras met ’n enkelaar-bloeiwyse wat op lang, dun stele groei.

Die lengte van die stoele kan tussen 400 mm en 1 200 mm wissel. Die blare het ’n tipiese blougroen kleur en wissel tussen blare met hare en haarlose blare. Verskillende ekotipes van die gras is in die verlede by die Vaalharts-navorsingstasie geëvalueer. Tot op hede is die twee algemeenste kultivars op die mark egter Common en Wollie.

Borseltjiegras-saadkop.

Landbou-ekologiese verspreiding

Borseltjiegras word wyd in Suid-Afrika aangetref en is by verskillende groeitoestande aangepas. Dit groei meestal in sandgrond en word dikwels ook in grond met ’n hoë klei-inhoud gekweek. Die beste produksie word verkry in grond met ’n relatief neutrale pH van 6,5.

Een van die aantreklikste eienskappe van die gras is dat dit in grond met ’n relatief lae fosfaat (P) -status kan groei. Borseltjiegras word algemeen in warm en droë gebiede aangetref. Dit groei in streke met ’n jaarlikse reënval van tussen 250 mm en 650 mm.

Borseltjiegraspol.

Bestuur en benutting

Borseltjiegras moet in ’n onkruidvrye en fyn en ferm saadbed gevestig word. As hierdie spesie in suur grond geplant moet word, moet die grond se pH na 6,5 verhoog word deur landboukalk te gebruik.

Grond met ’n lae P-inhoud sal ongeveer 150 kg/ha tot 200 kg/ha superfosfaat vereis voordat die spesie gevestig word. Borseltjiegras is egter by grond met ’n lae P-inhoud aangepas, dus is hierdie aanbeveling bloot om ’n hoër produksie te verseker.

Die beste tyd om borseltjiegras te saai, is aan die einde van Januarie tot die einde van Februarie. As onkruid egter nie enige bedreiging vir die vestiging inhou nie, is dit ’n lewensvatbare opsie om vroeër te plant. In hierdie konteks kan daar gesê word dat hierdie grasse se saailinge baie goed met onkruidspesies meeding vergeleke met die saailinge van grasse soos Cenchrus ciliarisDigitaria eriantha en Panicum maximum.

Oor die algemeen word daar aanbeveel dat die beste tyd vir vestiging dié tyd van die jaar is wanneer die reënval die betroubaarste is.

Dit is raadsaam om nie vars geoeste saad te plant nie, maar dat die saad toegelaat word om vir ten minste nege tot twaalf maande lank ryp/volwasse te word voordat dit geplant word. Hierdie spesie kan teen digthede van 3 kg/ha tot 5 kg/ha in 1,5 m tot 0,75 m rye en tot 7 kg/ha breedwerpig gesaai word.

Die tipiese blougroen kleur van borseltjiegras.

Goeie stande borseltjiegras is al in die Molopo-streek verkry teen ’n plantdigtheid van 2,5 kg/ha tot 14 kg/ha. Vir optimale plantestand word goeie gehalte saad teen 5 kg/ha vir plant in rye en 7 kg/ha tot 9 kg/ha vir breedwerpige saai aanbeveel. In droër streke word daar verkies om in rye te plant sodat die grondvog beter benut kan word.

Soos vroeër genoem, het borseltjiegras die vermoë om in grond met lae vlakke van P te oorleef, maar daar word aanbeveel om ’n grondfosfaatinhoud van niks laer nie as 12 mg/kg grond vir hoë produksie in stand te hou.

Stikstof (N)-toedienings sal hoofsaaklik bepaal word deur die reënval wat ontvang word. Gedurende die droë seisoen moet N- toedienings in die omgewing van 20 kg N/ha wees om ekonomies te wees. As die reënval hoër is as 450 mm per jaar, kan ’n toediening van 75 kg/ha gebruik word saam met 25 kg P/ha en 50 kg K/ha.

Navorsing in die Vrystaat het getoon dat dit nie net die makrovoedingstowwe is wat in die produksie van hierdie aangeplante weidingspesie belangrik is nie, maar ook die mikrovoedingstowwe. Hierdie navorsing het aangedui dat die sinkinhoud laer kan wees as wat die diere wat wei nodig het. Hierdie situasie, soos in baie ander gevalle van mikrovoedingstoftekorte, kan aan grond met min mikrovoedingstowwe toegeskryf word. Dit is dus noodsaaklik dat sulke grond wat op ’n tekort aan mikrovoedingstowwe dui, reggestel word om waar nodig die gehalte van die aangeplante weiding te verbeter.

Aangesien borseltjiegras daarvoor bekend is dat dit onder strawwe groeitoestande ’n smaaklike gras is, kan dit met vertroue as ’n somer- sowel as wintervoer gebruik word. Borseltjiegras het sy waarde as ’n uitstekende wintervoerspesie in Noordwes bewys. Een van die belangrikste bydraende faktore hiertoe was die oorvloed van blare en die gehalte.

’n Land met borseltjiegras.

Bestuursuitdagings

Soos voorheen genoem, het borseltjiegras baie wollerige sade en die vestiging van hierdie saad kan dus moeilik wees op ’n winderige dag.

Winderosie en versuipte toestande kan probleme vir suksesvolle vestiging skep. Saadbedekkingstegnologieë kan hierdie proses verbeter om beter vestiging van die saad te verseker. Daar is al talle kere gemeld dat borseltjiegras nie besproei moet word nie, aangesien dit tot roes lei, wat die gesondheid van die plant beïnvloed en tot die agteruitgang daarvan lei. Die gras word ook nie vir hooiproduksie aanbeveel nie.

Grondbewaring en -gesondheidsvoordele

Borseltjiegras het getoon dat dit teen droë toestande bestand is; dit korreleer gewoonlik goed met grond van ’n baie swak gehalte.

Die grond waar borseltjiegras geplant word, is dikwels sanderiger grond wat vatbaar is vir winderosie. Hierdie spesie het egter die potensiaal om in hierdie sand- en dikwels voedingstof-arm grond te groei en bind hierdie grond om dit teen erosie te beskerm.

As gevolg van hierdie spesie se uitstekende doeltreffendheid om water en voedingstowe te benut, word die hoeveelheid voedingstowwe en water wat vir groei gebruik word grondorganiese materiaal vlakke op te bou. Dit skep gevolglik ’n beter grondstruktuur, verbeter die waterhouvermoë en verskaf ’n energiebron vir grondmikroörganismes wat gevolglik vir beter beskikbaarheid en opname van voedingstowwe verantwoordelik is.

Diereproduksie-aspekte

Ten opsigte van borseltjiegrasproduksie en -gehalte, is daar waargeneem dat die verwagting is dat een grootvee-eenheid (GVE) per 5 ha tot 6 ha onder droëlandtoestande in droër bosveldstreke met ’n reënval van ongeveer 400 mm gedra kan word.

In hoër reënvaltoestande van ongeveer 600 mm per groeiseisoen is dit moontlik om een GVE per 2 ha tot 3 ha te dra. Werklike weidingkapasiteitsgetalle wat uit die Vaalwater-streek verkry is, het aangedui dat een GVE/ha vir 80 dae in die somer haalbaar is, en as gevolg daarvan kan daar volgens Dickinson et al., (1990) tot 112 kg/ha beesvleis geproduseer word.

Dit kom neer op 0,4 GVE/ha/180 dae of 2,5 ha/GVE/180 dae. In die westelike streke van die Noord-Kaap het Fourie et al., (1984) 100 GVE-weidingsdae per hektaar op volwasse borseltjiegras gekry. Dit kom neer op ’n weidingkapasiteit van 0,5 GVE/ha/180 dae of 3 ha/GVE/180 dae.

Dit is algemeen bekend dat borseltjiegras ’n laer droëmateriaalproduksie (DM-produksie) het as die ander bekende droogtebestande blou buffelsgras.

’n Algemene reël om te gebruik om droëmateriaalproduksie te beraam, is 0,75 t/ha per 100 mm reën ontvang. As gevolg van ’n hoër benuttingspersentasie (± 90%), sal dit kompenseer vir die laer DM-produksie wat verkry word, aangesien lewendehawe-produksie oor die algemeen baie beter is met hierdie gras.

Navorsing in die Vrystaat het getoon dat die ru-proteïeninhoud van borseltjiegras tussen 6% en 10% in die somer kan wissel en in die winter tot onder 6% kan daal. Die verteerbaarheid is ook al gemeet op ongeveer 55% in die groeiseisoen en selfs so laag as 50% in die winter en in die somer.

Gevolgtrekking

Die droogtebestande subtropiese borseltjiegras is al dekades lank ’n betroubare aangeplante weiding. In gebiede waar grond arm aan voedingstowwe is en die reënval laag, het hierdie spesie die vermoë om goeie gehalte aangeplante weiding vir optimale lewendehaweproduksie te verskaf.

Waar grond in ’n gebied waar ’n relatief aanvaarbare reënval ontvang word deur intensiewe bewerking uitgeput raak, sal hierdie spesie floreer en die geleentheid verskaf om die grond se kwaliteit (gesondheid) en tot ’n mate sy voedingstatus te verbeter, terwyl dit weiding van ’n goeie gehalte deur ’n groter deel van die groeiseisoen tot in die middel van die winter verskaf.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.