Die pypvanger

290

Beste Grootneef

Soms word maklike keuses moeilik gemaak. Die “prez” se onlangse rit op ’n oorvol voorstedelike trein wat met beurtkrag vasgeval het, het gewys hoe moeilik ’n maklike keuse soms kan wees. Want so hou die goewerment die SAL in die lug, terwyl werkers daagliks sukkel om met lendelam treine by die werk te kom. Volgens Buurman is dit ’n maklike keuse: Sit die vliegmasjiene se geld in treine en spoorvrag, want ons kan sonder ’n SAL klaarkom. Maar ons kan nie sonder behoorlike treine klaarkom nie.

Ou Neef, die vindingrykheid van skelmstreke borrel daagliks by die Zondo-fontein uit. Dit is asof blatante onderduimsheid deel van ons land se DNS geword het. Nie net met staatskontrakte nie – sommer ook in die hof van Steinhoff. Die slimste direksie in die land is met ’n slap riem gevang en probeer na meer as ’n jaar steeds uitpluis wat gebeur het. Buurman sê die moeilikheid is dat daar nie ’n enkele bevinding van ’n kommissie op ’n hofrol beland nie – dis asof die kuns van vervolging verleer is en die grense van reg en verkeerd vervaag het.

Dit laat my dink aan oom At Kaalkop en Armaans Boorgat wat mekaar amper misverstaan het.

Oom At se beste eienskap was spaarsamigheid. Party mense het dit sommer prontuit suinigheid genoem. Om geld uit te gee was vir oom At ’n moeilike ding. Die destydse munte het nog met die koningin van Engeland op die een kant gespog. Party vertel dat oom At ’n sjieling kon druk dat die koningin se oë getraan het voordat hy laat los het.

Hoe dit ook al sy, een goeie Maandagoggend trek oom At die pype uit die huispomp se boorgat. Met ’n leë tenk en ’n pomp wat pomp, maar geen water trek nie, was dit al genade. Maar o wee, die pypstut was nie mooi vasgetrek nie en daar neuk vyf lengtes pyp in die boorgat af net toe die boonste stang en pyp losgewikkel is.

Oom At het eers ’n werker huis toe gestuur om ’n spieël te bring om die spul uit ’n hoek van bo af te bekyk. In die weerkaatsing onder in die gat, was net ’n rimpeling op die water sigbaar wanneer ’n klippie in die gat afgegooi is – ’n Loch Ness-monster in die Vrystaat. Die spieël is daarna op ’n ander hoek gehou om die sonlig in die gat af te kaats. Met nog minder sukses. Die pype was steeds nie te sien nie. Die sonkring het net ’n leë gat weerspieël, met die pype wat in die waters onder die aarde verdwyn het.

Ou Neef, oom At moes versterkings inroep om die pype uit die gat te vis. Die enigste raad was om Armaans Boorgat, die distrik se boorgat- en windpompdokter, te laat kom.

Met Armaans se afgeleefde bakkie op die werf en die honde oor hul ergste blaf vir die vreemdelinge, het oom At aangestryk na die boorgat, met Armaans en sy twee helpers agterna.

By die boorgat gekom, het Armaans dié kant toe gekyk en daardie kant toe gemeet, sy hoed rondgeskuif en sy kop gekrap. Die spieëltjie het bevestig dat die pype die gat af is. Met dié diagnose het hy bevestig dat al raad is om die pype uit te vis – vir 5 pond. Want, het ou Armaans beduie, dit kan heeldag vat, of dalk vat hy die pype met die eerste probeerslag raak. ’n Mens weet nooit met ’n pyp nie. Oom At het eers oor die prys murmureer, maar die tenk was leeg en ta Bettie vol moeilikheid oor die waterskaarste. Die aanbod van 5 pond vir die pype se vang en uithys is met ’n brom aanvaar.

Armaans laat toe sy handlangers naderstaan met ’n tou en ’n pypvanger vooraan vasgemaak. Die spulletjie is die dieptes in laat sak, totdat die tou slap geword het – dit was die teken dat die pypvanger op die boorgat se boom te ruste gekom het. En toe begin Armaans die tou stadig en versigtig intrek. Almal, oom At inkluis, in ’n kring om Armaans gepak om die aksie in die gat dop te hou.

En toe, meteens, trek ou Armaans die tou styf soos die pypvanger om ’n las sluit. Die tou word aan die driepoot se “blok en tackle” vasgemaak, waarna die span die vyf pype een vir een uit die gat hys. Toe die pype uiteindelik langs die gat in die sonlig lê, het ou Armaans tevrede sy “sigret” opgesteek en ’n diep trek gevat. “Soos ek gesê het, ou At, 5 pond”.

Oom At was nie geneë om van ’n pennie afskeid te neem as dit nie verhelp kon word nie. Om 5 pond te betaal vir pype wat met die eerste probeerslag raakgevat is, was vir hom te dik vir ’n daalder.

Ou Neef, Armaans se lont was kort. Van 0 tot 100 in sekondes. Met die aanhoor van die klaagliedere van oom At, het Armaans sy “sigret” se kooltjie afgeknyp en met ’n draai van die voet doodgetrap. En toe vat hy ’n pyp en begin aanstryk boorgat toe. Hy was so ’n paar treë op pad voordat oom At besef het dat Armaans die pyp in die boorgat gaan teruggooi. Oom At het begin keer vir al wat hy werd was. As Armaans dié kant toe mik gat toe, keer oom At. As Armaans ánder kant toe mik, was oom At daar. En heeltyd beduie oom At van die 5 pond wat reg en billik was.

Die grimmigheid het nooit heeltemal tussen die twee gesak nie. Maar daardie aand het ta Bettie se waterbeker oorgeloop.

Ou Neef, dalk kort ons ’n Armaans by die Vervolgingsowerstes, sodat die boodskap weer kan loop. Reg is immers reg en verkeerd is verkeerd.

Groete op die Oosgrens.

 


Lesers kan ‘n e-pos aan Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.