Om gees te vang

Gepubliseer: 29 Februarie 2024

329

Beste Grootneef

Liggaam, siel en gees hou ’n mens in een stuk. Indien een van hierdie drie die pad vat, plof die res inmekaar. Dan is daar net ’n velsak met ’n klompie bene oor.

Jou siel is daar vir ’n ewigheid. Maak betyds seker dat jy de smalle weg volg. Jou gees bepaal hoe jy oor jou lewenslot en die mense om jou dink. Die liggaam – soos ’n trekker – is blootgestel aan slytasie. ’n Stywe rug en knieë wat kraak is stille getuies van die ure op die klok. Soos Fanus Rautenbach van Flink uit die Vere-faam opgemerk het – jeugdigheid word op jong mense gemors, dis die oues wat dit nodig het!

Om gees te vang en op te skerp is ’n lewensreis. ’n Stomp mes kan nie sny nie. Netso kan daar in menswees nooit ’n einde aan die verkenningstog vir vernuwing en groei wees nie. Hou aan lees. Besoek nuwe plekke. Leer nuwe vaardighede. Die wêreld om ons verander voortdurend. Daar is nie meer ’n plaaslyn waarmee jy vir buurman met ’n korte en drie langes kan bel nie. Bly op hoogte en pas betyds aan – ’n gees wat stagneer, boer agteruit.

Beleef die lewe. Moenie toelaat dat weke en maande bloot verbyglip nie. Maak tyd om te luister na die voëlgesang douvoordag. Klim uit jou bakkie, gaan sit op ’n miershoop in die veld en ervaar die diep gang van die natuur. Die geritsel van die wind deur grashalms en die donderweer wat vêraf dreun.

Kyk vanaand voordat jy kooi toe gaan na die uitspansel met al die sterre en planete. Hou dop hoe die son elke oggend effe later opkom om plek vir ’n nuwe en ’n kouer seisoen te maak. Die bome se geel vertel dat herfs op pad is.

Winter in ’n mens se lewe is ook van tyd tot tyd nodig sodat nuwe gedagtes in die lente daarna kan uitspruit. Uitbranding is nie verpligtend nie. Vat ’n breek voor jy breek.

Elke dag is propvol geleenthede en keuses. Kies positief. Dit laat jou gees ophelder. Elke dag kom ook met vars nuwe genade, soos manna op die duine. Soos wat jy genade ontvang, gee dit ook vir die mense om jou. ’n Nuwe dag gee nuwe krag.

In die daaglikse handel en wandel, vra vrae. Indien jy onseker is, vra nog vrae totdat die prentjie in fokus kom. Indien jy
nie saamstem nie, sê dit, anders is jy deel van ’n besluit.

Geld is daar om gespaar te word, nie om uitgegee te word nie – want jy weet nooit wanneer die sewe maer jare begin nie.

Indien jy twyfel oor iets, slaap daaroor. Soms kom die antwoord of uitkoms vanself. Moenie besluite neem terwyl jy kwaad is nie.

Vermy negatief. Sommige mense se gees is met klaagliedere verweef. Beweeg verby die suurknol wat daarvan hou om ander met negatiewe kritiek af te kraak.

Van tyd tot tyd slaan ’n opslagklip jou voorruit aan flarde – dit is deel van die lewe. Aanvaar dit, jy is nie die eerste mens op aarde wat ’n onverdiende hou moet verduur nie.

Ou Neef, dit is immers nie hoe oud jy word nie, maar hóé jy oud word. Geniet die reis!

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.