Bek-en-klouseer se invloed op
die mark bekyk

586
Gerhard Schutte,
hoof uitvoerende beampte, Rooivleis
Produsente Organisasie

Bek-en-klouseer was nog altyd endemies in Suid-Afrika – die eerste geval van die siekte is reeds in 1892 in Griekwaland-Wes aangemeld. Daarna het ’n bek-en-klouseeruitbreking in 1903 in die Kaapse Skiereiland voorgekom toe melkbeeste van Argentinië ingevoer is.

Die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) het in 1996 ’n versoek van Suid-Afrika toegestaan om as ’n bek-en-klouseervrye sone sonder inenting geklassifiseer te word. Die gebied wat van dié vrystelling uitgesluit was, was die endemies-besmette Kruger Nasionale Park, die kontrolegebied aangrensend, sowel as die gebiede wat aan Swaziland, Mosambiek, Zimbabwe en Botswana grens.

Daarna was daar weer ’n uitbreking van die siekte in die Nkomazi-gebied naby Komatipoort in Mpumalanga in September 2009.

In Februarie 2011 is ’n uitbreking noord van die Hluhluwe-Imfolozi Natuurreservaat in KwaZulu-Natal bevestig, waarna die land sy bek-en-klouseervryesonestatus verloor het. Suid-Afrika het dié status in Mei 2012 herwin.

Die jongste uitbreking van die siekte was in Januarie vanjaar in die Vhembe-distrik in Limpopo, waarna die OIE Suid-Afrika se bek-en-klouseervryesonestatus herroep het. Die meeste van die land se handelsvennote het toe uitvoere van gespletehoefdiere en -produkte vanaf Suid-Afrika opgeskort.

Invloed op rooivleisprodukte
Ongeveer 29 189 ton beesvleis of ongeveer 4,02% van plaaslike produksie is voorheen jaarliks na 42 lande uitgevoer. China, Hong Kong en Koeweit was die hoofmarkte. Altesaam 701 ton skaap­vleis of 0,69% van plaaslike produksie is jaarliks na hoofsaaklik Swaziland, Lesotho, Botswana en Noorweë uitgevoer. Dié vleis is nou in die plaaslike mark opgeneem.

Invloed op huide en velle
Geen rou, gesoute huide en velle kan tans na China uitgevoer word nie. Dit is veral problematies vir Merino-produsen­te aangesien 90% van dié velle normaalweg na China uitgevoer word.

China vereis ’n veeartsgesondheidsertifikaat wat sertifiseer dat die velle afkomstig is van ’n bek-en-klouseervrye sone, wat weens Suid-Afrika se huidige bek-en-klouseerstatus onmoontlik is.

Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het China versoek om ’n sertifikaat te aanvaar wat bevestig dat Suid-Afrika die OIE se aanbevelings volg. Dit bepaal dat die velle vir 28 dae gesout moet word. China het nog nie daarop gereageer nie. Dieselfde situasie geld vir blou en gesplete velle.

Weens dieselfde redes kan Suid-Afrika ook nie op die oomblik blou en gesplete velle na Thailand of Uruguay uitvoer nie.

Invloed op die wolbedryf
Die totale jaarlikse waarde van die Suid-Afrikaanse skeersel is nagenoeg R5 miljard en ongeveer 70% daarvan word na China uitgevoer. Die uitbraak het dus ook ’n drastiese impak op die plaaslike wolbedryf, aangesien dit daartoe gelei het dat die Chinese uit­voermark op die oomblik ontoeganklik is.

Suid-Afrika se wolproduserende gebiede is egter baie ver verwyderd van die gebied waar die uitbreking plaasgevind het en daar is geen risiko om die siekte via wol te versprei nie. Die wolbedryf het ook ’n uitstekende naspeurbaarheidstelsel in plek wat dit moontlik maak om wol te sertifiseer as afkomstig te wees uit ’n distrik waar geen uitbreking voorgekom het nie. Die naspeurbaarheidstelsel word deur Cape Wools SA bedryf volgens ’n statutêre maatreël wat in plek is by die Landboubemarkingsraad.

Woluitvoersertifikate na Maleisië en Egipte is hersien sodat uitvoere na dié lande hopelik binnekort hervat kan word. Die goedkeuring van die aangepaste sertifikate word tans nog van die uitvoerlande afgewag. Woluitvoere na Europa is tot dusver nie deur die uitbreking geraak nie.

Beheermaatreëls
Ná die uitbreking in Januarie 2019 het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in samewerking met die vleisbedrywe onder die vaandel van die Nasionale en Provinsiale Dieregesondheidsforums ’n gekoördineerde veldtog begin om die siekte hok te slaan. Dit sluit in die daarstelling van drie werksgroepe: Die kommunikasiewerksgroep, die handelswerksgroep en ’n tegniese taakspan.

Volgens die laaste gesamentlike verslag van die departement en die bedrywe was die departement besig om ’n aansoek vir ’n deklarasie van ’n siektebeperkte gebied voor te berei wat voor die einde van April by die OIE se tegniese komitee ingedien sou word.

Indien dié aansoek suksesvol is, kan die res van die land se status as ’n bek-en-klouseervrye sone heringestel word. Dit sal ook ’n groot verskil maak in Suid-Afrika se pogings om betrekkinge met voormalige handelsvennote te hervat.

Intussen het die departement suksesvol beding vir die hersiening van veterinêre gesondheidsertifikate vir die uitvoer van beesvleis na Bahrein, Egipte, Jordanië, Koeweit, Lesotho, Mosambiek, Katar, Swaziland en die Verenigde Arabiese Emirate.

Handel in varkvleis wat van bek-en-klouseervrye kompartemente afkomstig is, is met die Seychelle, Mosambiek, Swaziland, Lesotho en Namibië (gedeeltelik) hervat.

Namibië, Botswana en China
Onderhandelinge met Namibië oor die uitvoer van beesvleis en met Botswana oor die uitvoer van varkvleis is nog nie afgehandel nie. Die markte vir suiwelprodukte is grootliks herstel. Sommige markte vir huide, velle en wol word nog steeds geraak en daadwerklike onderhandelinge vind plaas, veral vir produkte wat op so ’n manier verwerk word dat die bek-en-klouseervirus sonder enige twyfel vernietig word.

Die Direkteur-Generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Hoofdirekteur: Diereproduksie en -gesondheid is goed ontvang tydens ’n besoek aan China. Voorleggings is gedoen oor die bek-en-klouseeruitbreking en die aksies wat onderneem gaan word om Suid-Afrika se vryesonestatus te herwin. China het aangedui dat hulle die inligting sal evalueer en ’n risiko-analise oor handel in veilige produkte sal doen.

In die laaste sewe weke is daar geen gevalle van bek-en-klouseer aangemeld nie. Monsters is by al die diptenke en drukgange in die siektebeheersone geneem en dit word tans by Onderstepoort getoets. Meer as 13 000 diere in die voormalige bek-en-klouseervrye sone is teen die einde van Maart vir ’n tweede keer ingeënt.

Die beperking op die beweging van diere is steeds van toepassing en geen diere mag in of uit die siektebestuursgebied beweeg sonder veterinêre toestemming nie. Padblokkades is steeds in plek en sal moontlik binnekort met rondreisende patrollering vervang word.

In die verslag het die departement daarop gewys dat die siektebeheerstrategie positiewe resultate afwerp.

Dit is egter duidelik dat die rooivleisbedryf nie van die staat alleen kan verwag om dieresiektes te beheer nie en dat die weg van die openbare-private-vennootskap wat tans met die bek-en-klouseeruitbreking gevolg word, die korrekte een is. Op dié manier sal dit moontlik wees om die buffersones beter te bestuur.

’n Diere-identifikasie- en opspoorbaarheidstelsel is ook onontbeerlik as ons land sy kuddes teen siektes wil beskerm.