Swart ekonomiese bemagtiging
– Deel 2 : Gewysigde agri-SEB-sektorkode

Johann van Huyssteen, Van Huyssteens Kommersiële Prokureurs

121

In die Maart-uitgawe (Deel 1) is ’n uiteensetting gegee van verskeie praktiese en volhoubare oplossings rakende eienaarskap wat in die landbousektor toegepas kan word. Aangesien daar nog nie duidelike riglyne vir grondhervorming is nie, moet deelnemers in dié sektor hulself intussen vereenselwig met die raamwerk van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) – dit mag dalk net relevant word.

Die kennis en oplossings moet dáárin gevind word om volhoubaarheid te verseker in die spesifieke landboubesigheid. Alvorens ’n behoorlike uiteensetting van al die moontlike oplossings (soos kortliks in Deel 1 van die SEB-artikel bespreek is) behandel kan word, is dit belangrik om die agri-SEB-sektorkode, soos gewysig, beter te verstaan.

Met voortdurende wysigings wat afgekondig word, is die generiese, algemene SEB-kodes al ’n geruime tyd op alle besighede van toepassing. Behalwe die generiese kodes is daar spesifieke sektorkodes. Die gewysigde agri-SEB-kode is in Desember 2017 aangekondig. Dié kode benodig verduideliking voordat gekyk kan word na die herstrukturering van ’n landboubesigheid.

Dit moet egter gemeld word dat die landbousektor tot op hede traag was om SEB toe te pas. Die rede kan waarskynlik gevind word in die feit dat SEB soos BTW werk – die een besigheid hou die ander dop om te sien wat hulle doen.

Sodra daar min beweging is om SEB toe te pas van die een kant af, verminder dit die druk op die ander kant om dienooreenkomstig ’n SEB-oplossing vir die besigheid te vind. Die nadeel wat hierdie optrede natuurlik inhou, is dat wanneer die regering besluit dat transformasie te stadig plaasvind, daar radikale wysigings ingestel kan word. Die resultaat kan byvoorbeeld gesien word in die voorgestelde grondhervormingsbeleid en die sterk moontlikheid van onteiening sonder vergoeding.

Dit is vanselfsprekend dat die huidige regering, veral met die druk van meer radikale persone en politieke partye, toenemend die kwessie rondom grondhervorming sal gebruik om kiesers tevrede te stel. Landbougrond en die eienaarskap daarvan gaan ’n warm patat bly totdat daar einde ten laaste ’n oplossing gevind kan word. Hierdie patat gaan nie sommer afkoel nie en blankes, tans in besit van die meerderheid van landbougrond, gaan die druk toenemend voel.

Soos in Deel 1, gaan ons enkele van die aspekte verder in meer besonderhede in die artikels wat hierop volg, bespreek. ’n Kort bespreking van die agrisektorkode is daarom van belang.

Toepassing van die agri-SEB-sektorkode
Die agri-SEB-sektorkode is van toepassing op ondernemings wat meer as 50% van hul omset kry uit:

  • Die primêre produksie van landbouprodukte;
  • die verskaffing van goedere en dienste aan ondernemings wat landbouprodukte produseer;
  • waardetoevoeging tot landbouprodukte, hetsy in primêre of sekondêre vorm; en
  • die stoor, verspreiding en/of verhandeling in aanverwante aktiwiteite tot onverwerkte landbouprodukte.

Let daarop dat landbouondernemings met ’n jaarlikse omset van minder as R10 miljoen vrygestel is van voldoening aan die landbousektorkode en hulle word geag ’n vlak 4-SEB-onderneming te wees. Landbouondernemings wat 51% in swart besit is, maar ’n omset van minder as R50 miljoen het, sal outomaties ’n vlak 2-SEB-onderneming geag word. Ondernemings onder ’n R50 miljoen-omset, maar 100% in swart besit, is outomaties ’n vlak 1-SEB-onderneming.

Berekening van die agri-SEB-status
Vyf sleutelelemente vorm die gewysigde telkaart by agri-SEB-ondernemings:

  • Eienaarskap (stemreg en grondeienaarskap);
  • bestuursbeheer;
  • vaardigheidsontwikkeling;
  • ondernemer- en verskaffersontwikkeling; en
  • sosio-ekonomiese ontwikkeling.

Eienaarskapsvereiste
Die doel van die eienaarskapselement is die bevordering van billike toegang en deelname in die eienaarskap van ’n onderneming asook die ontsluiting van entrepreneuriese potensiaal in die landbousektor. Die regering het ten doel om uiteindelik hierdeur volhoubaarheid in die sektor te verseker. Die regering besef egter terdeë dat finansiering van herstrukturering, ten einde eienaarskap te verseker en bevorder, ’n geweldige uitdaging is. Die agrisektor se onderneming aan die regering was dat hulle graag wil bydra deur swart deelname te laat groei en eienaarskap in die sektor te bevorder. Dit behels nie net dat swart mense ekonomies vooruit moet kan gaan nie, maar ook dat hul stem gehoor moet word. Hierdie mag die verkoop van eienaarsbelang en bates en/of vennootskappe met plaaswerkers en ander swart entrepreneurs insluit. Dienooreenkomstig was die regering se onderneming om ’n wetlike omgewing te skep wat swart eienaarskap bevorder en SEB-fondse beskikbaar stel en fasiliteer.

Bestuur
Hierdie element se doelwit is om die deelname van swart mense (insluitend swart vroue) op bestuursvlak in landbouondernemings te bevorder. Meganismes moet dus in plek gestel word om swart persone in bestuursposisies te bevorder om sodoende hul vaardigheidsvlakke uit te brei by wyse van sekondêre en tersiêre opleiding, beide binne die onderneming asook deur middel van ander ontwikkelingsprogramme.

Vaardigheidsontwikkeling
Ten einde die landbousektor kommersieel lewensvatbaar te hou, is die volgende noodsaaklik:

  • Produktiwiteit;
  • hoë vlakke van entrepreneurskap; en
  • ’n langtermynverbintenis tot vaardigheid- en hulpbronontwikkeling.

Transformasie vereis dat die sektor so spoedig moontlik veranderinge moet maak om ’n omgewing te skep waarin menslike hulpbronne behoorlik aangewend kan word deur in mense te investeer om arbeidsgelykheid te skep en institusionele transformasie te laat plaasvind.

Spesifieke (en kritieke) vaardighede in die landbousektor moet geïdentifiseer word sodat die onderwys- en opvoedingstelsel daarop kan fokus om sodoende aan die mark en landbousektor se vereistes te kan voldoen.

Onderneming- en verskaffersontwikkeling
Meer swart entrepreneurs en nyweraars moet geïdentifiseer en in hulle eie ondernemings gevestig word. Elke tweede jaar gaan die agri-SEB-sektorraad die situasie beoordeel ten einde uitspraak te lewer of daar aan die vereistes voldoen word.

Die beoordelingsvereistes is dat daar voorkeurverskaffing asook onderneming- en verskafferontwikkeling moet plaasvind. Die algemene beginsel is om swart ondernemings te ondersteun waar sulke ondernemings aan die landbousektor verskaf. Die doelwit is om die nywerheidsbasis in kritieke sektore van ’n produksie- en waardetoevoeging by vervaardiging, te ondersteun en uit te brei.

Plaaslike aankope moet die kapasiteit uitbrei en deur middel van die verskaffingsontwikkelingsprogramme en ander aansporings kan kapasiteit verhoog word. Geleenthede moet dus geïdentifiseer word ten einde die aankope by geselekteerde verskaffers te bevorder.

Daar word beoog om sulke swart-beheerde ondernemings so gou moontlik tot die hoofstroomekonomie te bevorder. Die landbou-industrie het onderneem om proaktief ’n verskaffings- en aankopestrategie en -beleid te implementeer. Daar sal ook jaarliks gerapporteer word wat die spandering op voorkeurverskaffing was.

Konsensus tussen georganiseerde landbou en die regering is bereik dat die operasionele en finansiële kapasiteit van swart entrepreneurs so spoedig moontlik versterk moet word en dat daar behoorlike mentorprogramme moet wees. Deel van die opheffing is dat die infrastruktuur en markte oopgemaak moet word. Die toepassing van tegnologie is wesenlik tot die sukses daarvan.

Sosio-ekonomiese ontwikkeling
Sosio-ekonomiese ontwikkeling verwys na die bydraes binne die landbousektor ten einde swart mense toegang tot die ekonomie te gee. Die inisiatiewe moet ten doel hê om aan swart mense sosiale en ekonomiese geleenthede te verskaf en prioriteit moet daaraan gegee word om die toegang te implementeer.

Die doelwit is weer eens dat die uiteinde hiervan die skep van ’n volhoubare lewensbestaan moet wees. Ondernemings gaan moet bewys dat hulle gekonsulteer het met die begunstigdes om aan hulle verwagtinge te voldoen.

Wat die kode nie ten doel het nie, is dat sosio-ekonomiese ontwikkeling aan lone gebind moet wees – dit het eerder ten doel om swart persone deel te maak van die hoofstroomekonomie. Deel hiervan is inisiatiewe waar plattelandse werkers en lede van die landbousektor toegang moet hê tot goeie behuising, skoon water en sanitasie, elektrisiteit, ontspanningsfasiliteite, behoorlike gesondheidsprogramme asook onderwys en opleiding.

Soos die lesers sal merk, is hierdie slegs ’n kort opsomming van die landbousektor-SEB-kode en sal die kode, soos afgekondig op 8 Desember 2017, in meer besonderhede nagegaan moet word. Aandag moet veral gegee word aan die samestelling van die telkaart. Na die lees van hierdie artikel behoort die leser egter met beter insig na die opvolgartikels te kan kyk.

Vir navrae hieroor, kontak Johann van Huyssteen by 012 349 2306 of besoek www.vanhuyssteens.co.za.