Afrika-mieliestamboorders – waar oorwinter hulle?

Gepubliseer: 4 Mei 2020

2486
Dr Annemie Erasmus,
LNR-Graangewasse, Potchefstroom

In Afrika word mielies aangeval deur ’n groepering stamboorders, wat die Afrika-mieliestamboorder (Bus­seola fusca), die Chilo-boorder (Chilo partellus), die pienk stamboorder (Sesamia calamistis) en die suikerrietstamboorder (Elanda saccharina) insluit. Die Afrika-mieliestamboorder is inheems aan Afrika, wat beteken dat hierdie stamboorder net op die kontinent voorkom.

Voordat die herfskommandowurm (Spodoptera frugiperda) Afrika binnegedring het, is die Afrika-mieliestamboorder as die belangrikste insekplaag wat mielies aanval, beskou. Indien die stamboorderlarwes aan mieliekoppe vreet en so veroorsaak dat Fusarium-kopvrot intree, kan feitlik die hele oes vernietig word. Dele wat wel in so ’n geval geoes word, kan ’n gesondheidsgevaar vir mens en dier inhou. Oor die algemeen word daar aanvaar dat ongeveer 10% van ’n totale mielie-oes vernietig word deur die Afrika-mieliestamboorder. As gevolg van hierdie tipe skade wat aangerig kan word, word dié insekspesie steeds beskou as ’n belangrike insekplaag op mielies.

Lewensiklus
In ’n seisoen kom daar twee tot drie duidelik afgebakende motvlugte voor. Afhangende van die plantdatum kan mielieplante deur óf die eerste óf die tweede generasie besmet word. Wyfiemotte lê eierpakkies agter die blaarskede. Pasuitgebroeide larwes is donkerbruin van kleur en word ligter namate hulle ouer word. Pas nadat larwes uitgebroei het, migreer hulle opwaarts na die kelk, waar hulle begin voed. Skade wat deur hierdie larwes veroorsaak word, vertoon as “venstertjies” op kelkblare (Foto 1). Groter larwes vreet regdeur die kelkrol, sodat kelkblare ’n ry gate vertoon as hulle uitgroei. Sulke tipe skade staan bekend as “haelskade”.

Kelkskade wat as “venstertjies” vertoon nadat ’n stamboorder aan die kelk gevreet het.
Foto: Dr Annemie Erasmus

Indien die groeipunt van die plant deur die voeding van die larf beskadig word, lei dit tot dooiehartsimptome. Larwes bly ongeveer twee na drie weke in die plantkelk, voordat hulle in die stam inboor. Die duur van die Afrika-mieliestamboorder se larwale stadium is ongeveer ses weke, waarna hulle papies word. Die laaste generasie larwes van ’n groeiseisoen word nie papies nie, maar hierdie larwes oorwinter as diapouselarwes (Foto 2) in stoppelreste en is dan die hoofbron van besmetting gedurende die volgende seisoen.

Die Afrika-mieliestamboorder se diapouselarf.
Foto: Dr Annemie Erasmus

Wat is ’n diapousefase?
Diapouse is ’n vorm van rusfase in insekte soortgelyk aan hibernasie by sommige soogdiere. Dit stel insekte in staat om ongunstige omgewingstoestande te oorleef. Diapouse is ’n ontwikkelingsrespons wat slegs tydens ’n sekere ontwikkelingstadium tot uiting kom en dit verskil van insek tot insek.

Indien diapouse plaasvind as gevolg van ongunstige omgewingstoestande, staan dit bekend as fakultatiewe diapouse. Indien diapouse egter voorkom met elke generasie wat die insek voltooi, staan dit bekend as verpligte diapouse. Fakultatiewe diapouse is die algemeenste vorm van diapouse by insekte en vind slegs plaas as ’n generasie ongunstige toestande moet oorleef. Verpligte diapouse vind egter op ’n vasgestelde tyd plaas, ongeag omgewingsfaktore.

Tydens die Afrika-mieliestamboorder se derde motvlug, wat ook die finale motvlug van ’n seisoen is, lê die motte vir die laaste keer eiers. Larwes wat uit hierdie eiers broei, voltooi nie die lewensiklus tot motte nie, maar berei voor om die winter as larwes te oorleef. Slegs larwes wat volgroeid is voor die winter aanbreek, sal as diapouselarwes kan oorleef.

Faktore wat bepaal watter gedeelte van die bevolking teen die winter wel volgroeid gaan wees, is: die lokaliteit waar die besmetting voorkom; hoe gou wintertoestande gedurende ’n spesifieke jaar aanbreek en wanneer die derde motvlug se motte gevlieg en eiers gelê het. Die larwes wat in staat was om voor die winter volgroeid te wees, beweeg later na die mieliestam se basis (Foto 3) om te oorwinter.

’n Diapouselarf in die mieliestambasis.
Foto: Dr Annemie Erasmus

Gedurende laat herfs tonnel die larwes direk na die stambasis, waar hulle dan vir die winter in diapouse verkeer. In hierdie tyd vreet hulle nie meer aan plantmateriaal nie en stop die tonnel agter hulle toe met die boorsels. Indien daar meer as een larf in die plant is, migreer die larwes gewoonlik na ’n ander plant sodat daar net een larf per plant teenwoordig is.

Diapouselarwes oorwinter vir vyf maande in die mieliestambasis, voordat hulle na die volgende ontwikkelingstadium oorgaan om papies te word. Dit beteken dat larwes genoegsame reserwes moes opbou om die tydperk te kan oorleef en om nog steeds in staat te wees om nakomelinge te produseer sodra omgewingstoestande gunstig word.

Hoe kom larwes uit hulle winterslaap?
Die eerste lentereën (verandering in humiditeit), temperature wat begin toeneem en dag-nag-lengtes (fotoperiode) wat verander, stimuleer diapouselarwes om papies te word. Larwes wat in diapouse was, maak enkele sentimeters bokant die grondoppervlak gate in die stoppels, wat soos venstertjies vertoon. Die motte ontsnap ongeveer twee weke nadat papies gevorm het deur hierdie gate. Terwyl hierdie larwes in die stambasis lê, verander hulle in papies en hulle gee oorsprong aan die eerste motvlug van die nuwe seisoen.