Voetspore…reflekteer vandag oor joune, want dit is môre se nalatenskap

Alzena Gomes, skakelbeampte, Graan SA en foto’s deur Estie de Villiers, redakteur,
SA Graan/Grain en Karina Muller, SA Graan/Grain medewerker

3412

Ná groot onsekerheid die afgelope jaar moes Graan SA krities reflekteer en beslissende stappe doen om ’n nuwe voetspoor vir boerdery en plaaslike voedselproduksie te skep. Die organisasie het homself daartoe verbind om steeds belanghebbendes van die regering en landbou te betrek in sy pogings om volhoubare graanproduksie en nasionale voedselsekerheid te verseker.

Met die jaarlikse Kongres op 6 en 7 Maart het Graan SA-lede, produsente, regeringsamptenare, rolspelers, akademici, vennote en ander belanghebbendes op NAMPO Park byeengekom om dié jaar se tema “’n Kritiese refleksie vir ’n nuwe voetspoor/A critical reflection for a new footprint” te bespreek. Dié tema wou onder meer die klem plaas op hoe die voetspore lyk wat in landbou gelaat word – en vasstel wie presies nou die stewels gaan dra, die weg gaan wys en voetspore van waarde gaan agterlaat, aangesien niemand presies weet wat agter die bult wag nie.

Seer sekerlik dié belangrikste doel van ’n kritiese refleksie is om eienaarskap te neem. Graan SA het bo en behalwe om na sy eie voetspoor te kyk, kongresgangers aangemoedig om doelgerigte besluite te neem en die pad saam met die organisasie te stap.

Die agenda het onder meer temas soos “Die politieke en ekonomiese omgewing in Suid- en Suider-Afrika” gelei deur mnr Malcolm Ferguson (afgetrede ambassadeur) en “Verskansing van graanpryse: Tien lesse te leer” gelei deur dr Werner Rossouw (Silostrat), gedek. Kongresgangers se interaktiewe deelname is aangemoedig om sodoende besprekingsgeleenthede te bevorder. Die herinstelling van die elektroniese stemtoestelle het die weg gebaan vir konstruktiewe terugvoer na elke sessie en die geleentheid geskep om belangrike insette en opinies van lede in te win.

Tydens die verkiesing is Graan SA-voorsitter, Jaco Minnaar, onbestrede herkies en hy word deur die visevoorsitters, mnre Derek Mathews en Ramodisa Monaisa, ondersteun. Dié span is saam gereed vir die uitdagings wat voorlê, waarvan die belangrikste sekerlik is om die saak van die graanprodusent te beklemtoon, te beskerm en te bevorder te midde van die konstante veranderinge en uitdagings in die landbou-omgewing.

In die oudiovisuele voorsittersverslag het Jaco en mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder, Graan SA) die uitdagings van 2018 aangespreek. Vanuit ’n produsente-oogpunt was die afgelope jaar met groot onsekerheid gevul en Graan SA moes diep delf om oplossings vir die uitdagings te vind.

Onteiening sonder vergoeding was weer eens op sigself uitdagend, die weerstoestande was uiteenlopend en dit was van uiterste belang dat die onderskeie prosesse op die korrekte wyse benader en aktief bestuur moes word. Graan SA het geleenthede vir gesprek met die adjunk-president en tydens die Bela-Bela-konferensie ten volle benut.

Tog het die organisasie nie fokus verloor rakende die vele ander faktore wat die volhoubaarheid van graan- en oliesadeproduksie beïnvloed nie. Winsgewendheid, volhoubaarheid, titelaktes, navorsing en versekering was ook in die kollig die afgelope jaar.

Toekomsblik
Graan SA het bevestig dat al sy pogings en verbintenisse met tersaaklike rolspelers versterk sal word om die dringende behoefte aan ’n gesubsidieerde oesversekering vir graanprodusente te beklemtoon. Kommersiële graanproduksie is blootgestel aan geweldige risiko’s, met hael-, droogte- en vloedskade sowel as uitbrake van siektes, wat ware en konstante bedreigings bly. Daarbenewens het byna geen van die kleinboere in Suid-Afrika oesversekering nie as gevolg van die kostes daaraan verbonde – wat hulle kwesbaar maak en ook aan verskeie risiko’s blootstel.

Die organisasie sal verder streef na meer staatsinvestering in navorsing. Sonder navorsing sal boerderypraktyke, opbrengs, wins­gewendheid, en uiteindelik voedselsekerheid, kwyn. Laastens, met die klem op finansieringsmodelle vir graanprodusente, sal Graan SA poog om steunstelsels vir produsente wat tans skuld diens, te vestig, ten einde volhoubaarheid te ondersteun. Daar sal ook veral gefokus word daarop om nuwe produsente, wat tans nie in staat is om toegang tot finansieringstelsels te verkry nie, hierby in te sluit.

Verder is georganiseerde landbou die een of ander vorm van oplossing aan sy lede verskuldig om sodoende die uitwerking van die droogte in graanproduksie te versag. Dus is die implementering van die aanbevelings deur die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye van die Seksie 7-komitee baie bemoedigend en word dit met afwagting dopgehou.

Terugblik
Grondhervorming
Die probleme ten opsigte van onteiening sonder vergoeding was regdeur ’n besprekingspunt. Graan SA het op die volhoubaarheid van produksie gefokus en handhaaf sy pogings om te verseker dat produsente wat nuwe plase ontvang, ook titelaktes van die grond kry.

Graan SA het wye ervaring in die ontwikkeling van produsente tot kommersiële status – ’n noodsaaklikheid om aan grondhervorming deel te neem sonder om voedselsekerheid te benadeel. Die effektiewe bestuur van hierdie proses was belangrik en Graan SA het sy teenwoordigheid verseker by die In-Transformasie-inisiatief Indaba asook die onteieningsdebatte in die parlement. Daarbenewens het die organisasie openbare verhore bygewoon, goeie gesprekke met die regerende party gehad en was hy relatief gemaklik met veranderinge aan die wetsontwerp op onteiening in sy voorgestelde vorm.

Landbou-ontwikkeling
Graan SA se Landbou-ontwikkelingsprogram is steeds die maatstaf in die landbousektor en het twee toonaangewende toekennings ontvang tydens die jaarlikse AgriSETA Uitnemendheidstoekenningseremonie. Die program het erkenning ontvang as ’n toonaangewende kommoditeitsorganisasie en is ook as die besbestuurde landelike ontwikkelingsprojek gekroon. Die ontwikkelingsprogram het voortgegaan om saam met strategiese vennootskappe ’n verskil aan nasionale en huishoudelike voedselsekerheidsvlakke te maak deur die vestiging van lewensvatbare graanboerdery-ondernemings.

Daar word ook groot moeite gedoen om die unieke uitdagings wat ontwikkelende boere ondervind, op te los. Dit gaan hier hoofsaaklik oor die toegang tot en die ontsluiting van finansieringsopsies.

Winsgewendheid
Winsgewendheid – steeds ’n groot bron van kommer in die graanbedryf – het Graan SA genoodsaak om meedoënloos vir die afskaffing van die 10%-invoertarief op kanolasaad te onderhandel. Die organisasie se deurlopende monitering van insetkoste en -kwaliteit het ook gelei tot ’n aansoek vir die verwydering van die 20%-invoertarief op sekere trekkerbande, sowel as uitgebreide bydraes tot die regering se voorgestelde nuwe dieselkortingstelsel. Graan SA het verder bygedra tot die instelling van ’n teling-en-tegnologieheffing vir sojabone, koring, gars en hawer. Dan was daar ook die organisasie se bydrae tot die veranderinge in die koringprysverskille en die verbetering van die koringgradering, wat ongetwyfeld op die wintergraanprodusente die grootste impak gehad het.

Graan SA het voortgegaan om alternatiewe binnelandse en internasionale markte vir mielies te ondersoek, met spesifieke fokus op Iran en suksesvolle mielie-uitvoere na Viëtnam. Besprekings met China gaan voort ten opsigte van mielies en sojabone as alternatief vir verskeie graanprodukte in uitvoerjare, wat voortgesette plaaslike produksie moontlik sal maak.

In terme van bedryfsinligting het Graan SA ingetree om die integriteit en deursigtigheid van fundamentele nasionale stelsels te verseker. Net so is die probleme rondom invoer- en uitvoerinligting suksesvol aangepak. Graan SA het voortdurend gestreef na die beskikbaarheid van tydige en relevante markinligting, wat die publikasie van die invoer- en uitvoerdata van mielies tot gevolg gehad het, met die verwagting dat koring, sojabone, sonneblom en soja-oliekoek ook gepubliseer sal word. Die organisasie het die instelling van ’n liggingsdifferensiaal op sojabone suksesvol verhoed en het verder, met sukses, ’n volledige ondersoek deur ’n onafhanklike deskundige rakende die JSE se plaaslike differensiële stelsel, geïnisieer.

Verder het Graan SA daarin geslaag om alternatiewe gewasse vir die wintergraanareas te ondersoek en na kanolasaadkwaliteit en -beskikbaarheid te kyk. ’n Lewensvatbaarheidstudie rondom sorghum is ook geloods om sodoende dié graan se lewensvatbaarheid te verhoog.

As rolspelers in die wêreldwye sojaboonmark, is toegang tot die nuutste saadtegnologie noodsaaklik vir plaaslike produsente om mededingendheid te verseker.

Navorsing
Navorsing het ’n belangrike fokuspunt gebly. Strategiese vennootskappe is aktief gesoek om alternatiewe navorsing- en befondsingsplatforms te vind weens die ongelukkige gebreke van ’n ou stelsel. Graan SA het vir hierdie doel verskeie konsortiums geskep om die beste persone op die mees ekonomiese manier te vind om spesifieke navorsing te doen.

Met die verkryging van eksterne befondsing, word fondse binne die konsortiums geplaas vir die bevordering van navorsing, met gewasverbetering en -beskerming as twee hooffokusareas. Die biosekuriteit van ons land bly van kardinale belang tesame met klimaatsverandering en bewaringslandbou. Hierdie oorhoofse temas sluit koringteling, grondgedraagde siektes en gewasbeskerming in.

Oesfinansiering vir die “ontbrekende middel”
In Graan SA se deurlopende ontleding van sy Landbou-ontwikkelingsprogram wat fokus daarop om nuwe swart boere op ’n volhoubare wyse suksesvol te vestig, is opgemerk dat vordering met kleiner boere van 1 ha veel beter is as die vordering van diegene wat groter plase bewerk (die sogenaamde “ontbrekende middel”).

Laasgenoemde is boere met toegang tot groter stukke grond wat die potensiaal het om kommersiële produsente te word. Die grootste struikelblok wat hierdie boere egter het, is toegang tot finansiering. Hulle kwalifiseer nie vir produksielenings nie, want hulle kan nie sekuriteit aan die banke bied nie: Hulle bewerk grond in staatsbesit sonder enige titelaktes.

Die uiteindelike oplossing en uiteraard die beste plan vir dié boere is om titelaktes van die grond te bekom: Óf deur die aankoop daarvan deur middel van gunstige langtermynlenings óf die regering moet ’n waarborg opstel wat deur die finansiële instelling as sekuriteit gebruik kan word om ’n lening te bewerkstellig. Die Landbousektorplan (2019 – 2024) het bogenoemde voorgestel, naamlik ’n Landbou-ontwikkelingsagentskap (ADA). Dit is in die vooruitsig gestel dat dit ’n vennootskap tussen die regering en die private sektor sal wees en daar word hard gewerk aan die vestiging van so ’n entiteit.

Alle faktore in ag genome, het die Graan SA-leierskap besluit om ’n eie inisiatief te loods om sodoende die “ontbrekende middel” in die komende seisoen by te staan. Alhoewel dit nie op dieselfde skaal sal kan geskied nie, sal dit op die verwagte ADA-basis geskoei word. Graan SA sal ’n geoormerkte bedrag uit sy landbou-ontwikkelingsfonds by ’n kommersiële bank (Standard Bank) belê. Dit sal dan kan dien as ’n waarborg, tesame met ’n mate van befondsing van Standard Bank, wat as sekuriteit sal dien vir “ontbrekende middel”-lede om aansoek vir lenings te doen.

Met al die nodige prosedures en korporatiewe bestuur in plek om aan die wetlike en regulatoriese vereistes van Suid-Afrika te voldoen, sal begunstigdes ook gevra word om bydraes te lewer. Tesame met die betrekking van Graan SA se insetverskaffersvennote kan die inisiatief groot hoogtes bereik.

Vennootskappe
Graan SA het ook tydens Kongres klem geplaas op die belangrikheid van vennootskappe – veral in die landbousektor – en met NAMPO was die sukses van sulke inisiatiewe duidelik. Die NAMPO-handelsmerk is in die Wes-Kaap geloods, met die eerste, uiters suksesvolle NAMPO Kaap-skou te Bredasdorp Park.

Deur middel van effektiewe bestuur en kommersieel suksesvolle gebeure soos NAMPO, sal Graan SA voortgaan om sy basis as die onafhanklike stem van die Suid-Afrikaanse graanprodusent te laat groei.

Voetspore
Om stappe te doen om sodoende ’n stewige nuwe voetspoor te skep vir graan- en voedselproduksie, was noodsaaklik. Die besluite wat vandag gemaak word, is van kritiese belang om ’n veilige en volhoubare toekoms vir almal te verseker.

Ons almal laat voetspore soos ons deur die lewe reis – maak seker joune is die moeite werd om te volg.