Klop plaagdoderweerstand met slim planne

339
Dr Gerhard Verdoorn,
bedryfs- en rent­mees­terskapsbestuur­der, CropLife Suid-Afrika

Baie mense is skepties oor Charles Darwin se ewolusie­teorie, maar daar steek ernstige wetenskaplike waarheid in. Organismes het deur millennia ontwikkel en gedurig aangepas by veranderende omstandighede. Mense interpreteer dikwels Darwin se teorie verkeerd, naamlik dat die sterkste of fiksste individue oorleef.

Sterk of fiks is geen waarborg vir oorlewing nie, maar wel of die individu van ’n bevolking kan aanpas by veranderende omstandighede. Natuurlike seleksie is dus die proses waarin die aanpasbare individue van die spesies oorleef.

Die Neandertalmense was na alle waarskynlikheid baie sterker as Homo Sapiens, maar hulle kon nie aanpas by die verandering in die aarde se klimaat en ekosisteem nie en het stadig van die aardbol af verdwyn. Natuurlike seleksie het hulle uit die ekosisteem verwyder.

Landbouplae, onkruide en patogene se weerstand teen plaagdoders
Binne enige bevolking van ’n spesie is daar redelike tot groot genetiese diversiteit. Hoe groter die genetiese diversiteit binne die spesie is, hoe beter is die kans dat dit omgewingstressors kan oorleef. Alle spesies is gedurig besig om aan te pas – met die mees aanpasbare individue wat oorleef en die spesie voortdra die toekoms in.

Wanneer die genetiese diversiteit klein is, kan omgewingstressors die spesie geredelik laat uitsterf. Plantpeste, onkruide en patogene is ook soos ander spesies aan ’n verskeidenheid stressors onderworpe. Wat die toepassing van plaagbeheer doen, is om die spesie baie vinnig aan ’n geweldige groot stressor bloot te stel.

Die resultaat daarvan is dat die natuurlike seleksieproses vir individue in die plaagspesie drasties verhaas word.

Alle spesies het in hul geledere individue wat meer aanpasbaar as ander is by die verandering wat plaagdoders op hulle afdwing. Dit is nie asof die mens weerstand met plaagdodergebruik skep nie. Die weerstand bestaan inherent, maar word slegs gekataliseer met die gebruik van plaagdoders.

Hoe plaagdoderweerstand in ’n plaagspesie verhaas
Gestel binne ’n spesie is daar 90% van die individue wat vatbaar vir die plaagdoder se effek is, 5% wat weerstandig teen die plaagdoder is en 5% wat geringe weerstand teen die plaagdoder het.

Wanneer die plaagdoder streng volgens etiket aangewend word, word die grootste deel van die vatbare individue uitgewis, die weerstandige individue oorleef en die semiweerstandige individue oorleef ook in ’n groot mate. Al die oorblywende individue (vatbaar, weerstandig en semiweerstandig) teel en bring nuwe bevolkings van die spesie voort.

Daar sal “verbastering” tussen die weerstandige, semiweerstandige en vatbare individue wees asook “eiesoortige” teling, met ander woorde weerstandige individue wat met ander weerstandiges teel.

Wat na die eerste teelseisoen manifesteer, is ’n spesie met die bevolkings wat redelik na is aan dít wat voor die plaagdodertoediening plaasgevind het, met ’n effense verskuiwing na die meer weerstandiges in die bevolking. As dit seisoen na seisoen só plaasvind, sal die weerstandige deel van die spesie baie stadig groei tot waar dit na jare die plaagdoder totaal kan uitoorlê.

Die grootste katalisator vir versnelde weerstandsontwikkeling is wanneer dieselfde plaagdoder jaar na jaar óf onder die aanbevole dosis óf bo die aanbevole dosis aangewend word.

Oordosering
Oordosering se effek is eenvoudig: Dit elimineer feitlik al die vatbare individue sowel as die meeste van die semiweerstandige individue wat dan ’n bevolking wat deur weerstandige individue gedomineer word, voortbring. Wanneer daar geteel word, is die persentasie vatbaarheid vir die plaagdoder bitter klein en die bevolking is tegnies weerstandig.

Die daaropvolgende seisoen is die doodsteek vir die plaagdoder, want die enkelinge wat nog vatbaar is sowel as die skaars semiweerstandiges word uitgewis en al wat oorbly is die weerstandiges. Om dan weer dieselfde plaagdoder aan te wend, is futiel, want dit sal geen effek op die weerstandige individue hê nie.

Onderdosering
Onderdosering is net so ’n groot sondaar as oordosering. Met onderdosering word te min van die aktiewe bestanddeel toegedien met die gevolg dat geen van die semiweerstandige individue uitgewis word nie. Alhoewel daar meer van die vatbare individue oorbly, help dit nie, want met die aanteel is daar nou persentasiegewys baie meer semiweerstandiges wat hul weerstandige gene in die vatbare deel van die bevolking inteel.

Saam met die weerstandiges se aanwas is daar nou ’n verskuiwing van die bevolking na die weerstandige kant wat niks goed vir die plaagdoder voorspel nie. As dieselfde onderdosering oor ’n paar seisoene plaasvind, is die plaagspesies vinnig op pad na totale weerstand.

Buffers teen weerstand
Daar is verskeie maatreëls wat produsente kan instel om weerstand teen plaagdoders te fnuik.

Volg altyd die etiket se aanbevelings
Die etiket se aanbevelings is die resultaat van jare se navorsing en groot finansiële beleggings om seker te maak die dosis wat op die etiket is, is die dosis wat die plaag sal beheer sonder om noodwendig weerstand te kataliseer.

Nog iets wat van kritieke belang is, is die metode en tegnologie van toediening. Al word die tenkmengsel korrek voorberei, kan die dosis verkeerd toegedien word as die tegnologie nie met die gewas versoenbaar is nie. ’n Voorbeeld hiervan is wanneer ’n insekdoder met lugbespuiting op volgroeide mielies toegedien word.

Gewoonlik is die spuitvolume met lugtoediening rondom 40 liter/ha tot 50 liter/ha. Dit is totaal onvoldoende om die plaagdoder in die mielieplant in te “was” waar die ruspes met hul vernietiging besig is. Dieselfde dosis plaagdoder met ’n oorhoofse trekkerspuit teen 300 liter spuitvolume per hektaar is baie meer effektief en sal die plaagdoder teen die regte dosis by die teiken besorg.

Maak gebruik van die korrekte bevorderingsmiddels
Bevorderingsmiddels sluit chemiese stowwe soos buffers, kleefmiddels, benatters en dryfweermiddels in, wat almal ten doel het om die aktiewe bestanddeel optimaal op die teiken toe te dien. Onkruiddoders faal dikwels as gevolg van hardheid in water of die verkeerde pH, terwyl dit maklik met buffers en versagmiddels aangespreek kan word.

Kleefmiddels is vir insekdoders, swamdoders en onkruiddoders belangrik omdat dit die aktiewe bestanddele laat klou waar dit hoort. Sommige plaagdoders het kleefmiddels in die formulasies ingebou, terwyl ander weer ’n kleefmiddel as tenkmengsel benodig.

Wissel die weerstandsgroepe met mekaar af
Elke plaagdoderetiket dui aan watter weerstandsgroep die “eienaar” van die aktiewe bestanddeel is. Die groep word gewoonlik net onder die aktiewe bestanddeel op die hoofpaneel aangedui as HRAC (onkruid), IRAC (insek en myt) of FRAC (swam).

’n Voorbeeld is die kode vir glifosaat, naamlik “HRAC groep G” en vir atrasien “HRAC groep C1”. Dit beteken dat die produsent die groepe onkruiddoders moet afwissel. Dit sal byvoorbeeld goed wees om glifosaat “HRAC groep G” met glufosinaat-ammonium “HRAC groep H” af te wissel.

Só ook moet insekdoders met mekaar afgewissel word: Piretroïede wat almal aan “IRAC groep 3A” behoort, moet afgewissel word met iets soos indoksakarb wat “IRAC groep 22A” is.

In die geval van swamdoders is die afwisseling nog meer belangrik omdat swamme baie vinniger weerstand opbou as insekte of onkruide. Die strobiluriene is “FRAC groep 11” en behoort afgewissel te word met swamdoders uit ’n ander groep soos byvoorbeeld benomiel “FRAC groep B1”.

Maak gebruik van geregistreerde tenk- of formulasiemengsels
Sommige swamdoders is reeds as mengsels in formulasies beskikbaar met die voordeel dat dit weerstandsbestuur vergemaklik. Dit is egter soms nodig om twee verskillende weerstandsgroepswamdoders volgens die etiket se aanbevelings in die spuittenk te meng om hardnekkige swamme uit te wis.

Swamdoders soos die strobiluriene word selde sonder ander swamdoders aanbeveel en word meestal as mengsels in formulasies voorsien. Koperswamdoders is beskikbaar om met iets soos chloortaloniel te meng om weerstand die hoof te bied.

Bly weg van slangspoegmengsels
Dit is ongelukkig standaardpraktyk om tenkmengsels voor te berei waarin daar soms onkruiddoders, swamdoders en selfs insekdoders gemeng word om spuitkoste te bespaar.

Sonder twyfel is dit ’n fatale fout, want die chemie is meestal onversoenbaar met een of meer van die aktiewe bestanddele wat in die slag sal bly en die teikens oneffektief sal beheer. Enigiemand wat vir ’n produsent só ’n mengsel aanbeveel, is ’n agent van weerstandsontwikkeling en behoort glad nie eers plaagdoders te voorsien nie.

Weerstandkomitees
CropLife SA se weerstandkomitees, naamlik die IRAC (insekdoderweerstandskomitee), HRAC (onkruiddoderweerstandskomitee)en FRAC (swamdoderweerstandskomitee) is gedurig besig om moontlike weerstand teen plaagdoders te ondersoek en werkbare planne teen weerstand te smee.

As produsente vermoed daar is weerstand van peste, onkruide of swamme teen plaagdoders, moet hulle dit by CropLife SA aanmeld by info@croplife.co.za.

Huidige probleme met weerstand in die graanbedryf
Daar is tans ’n paar ernstige uitdagings in die graanbedryf met insekte en onkruide wat weerstand teen plaagdoders het.

Herfskommandowurm
Die nou alreeds bekende Spodoptera frugiperda het Suid-Afrikaanse mielieprodusente groot skrik op die lyf gejaag toe dit in 2016 kop uitgesteek het. Hierdie uitheemse indringer is totaal weerstandig teen piretroïede en organofosfate. Gelukkig is daar blitsig ander aktiewe bestanddele soos indoksakarb, emamektienbensoaat, chloorantraniliprool, spinetoram en verskeie ander geregistreer om die wurm te beheer.

Dit is egter belangrik dat selfs dié middels afgewissel moet word ten einde die swaard oor die wurm se kop te hou.

Palmer amarant
Die onkruid Amaranthus palmeri het skielik in 2017 sy verskyning in die Noord-Kaap gemaak en is totaal weerstandig teen glifosaat en waarskynlik teen ses ander groepe onkruiddoders. Dit is skrikwekkend dat ’n onkruid glad nie op glifosaat reageer nie en dit hou ’n ernstige bedreiging vir alle mielieprodusente in.

Daar is riglyne vir die uitwissing van die onkruid op www.croplife.co.za onder Resources by Guidelines for pest management.

Plaagdoders alleen is nie die antwoord nie
Landbou moet nog die ernstige kopskuif na geïntegreerde plaagbeheer maak. Dit beteken dat biologiese beheer, bewerkingspraktyke, meganiese beheer en kultivarseleksie stadig maar seker ingewerk moet word in die totale produksieplan.

Daar is deesdae baie biologiese middels soos Bacillus thuringiensis en Beauveria bassiana wat komplementêr tot chemiese plaagdoders is en weerstand te bowe kan kom.

Bewerkingspraktyke soos om dan en wan ordentlik diep te ploeg ten einde onkruidsaad, insekeiers en -larwes asook patogeenbesmette plantreste diep in die grond in te ploeg, is ’n belangrike bestuursmaatreël – veral in die bewaringsbewerkingarena.

Kultivarseleksie is ook belangrik soos om kultivars te plant wat insekdodergene bevat in plaas daarvan om groot volumes insekdoders toe te dien. Produsente moet bedag wees op plaagdoderweerstand, maar hulle moet ook die ander gereedskap om peste, siektes en onkruide die hoof te bied, gebruik.

Vir meer inligting kontak dr Gerhard Verdoorn by gerhard@croplife.co.za of 082 446 8946.