Wegbreeksessies plaas bedryfsaangeleenthede onder die soeklig

SA Graan/Grain redaksiespan

330

Die liggingsdifferensiaal het aansienlike aandag op die wegbreeksessies gekry na aanleiding van die besoek van dr Matt Roberts en sy verwagte verslag en aanbevelings. Die uitbreiding van die kontantmark is ook bespreek.

Navorsing het heelwat aandag geniet by die Mieliewegbreeksessie, terwyl kwotas en tariewe weer in oënskou geneem is tydens die Wintergraansessie. Gradering en gehalte is bespreek by die Grondbonesessie, terwyl die voorgestelde nuwe heffing by sojabone verduidelik is. Die bespreking van oliegehalte en plantdatums het die Sonneblom- en Sorghumwegbreeksessie gekenmerk.

Mielies

Mnr Jaco Minnaar, voorsitter van die Mieliespesialiswerkgroep, het as voorsitter opgetree.

Oesversekering
Mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder, Graan SA), noem dat goeie vordering gemaak is om ’n staatsgesubsidieerde oesversekeringskema goedgekeur te kry. Hy noem dat dit as ’n belangrike prioriteit vir die graanbedryf ingesluit is by die vyfjaar- landbousektorplan. Die staat sal slegs betrokke raak by ’n Suid-Afrikaanse Versekeringsverenigingtipe skema as dit deur die maatskappy SASRIA bestuur word.

Volgens mnr Kobus van Zyl bestaan daar ’n Land Bank-skema vir veeprodusente: Wanneer daar ’n droogte is, kan produsente hul vee verkoop en die geld belastingvry belê en dan rente daarop verdien. Sy voorstel is dat Graan SA moet poog om ’n staatsgesubsidieerde skema vir graanprodusente daar te stel en ’n belastingvrye spaarplan vir graanprodusente.

Oesskattings
Mnr Tertius de Jager is bekommerd dat die min inligting oor oesskattings nie ’n akkurate verteenwoordiging van elke streek weergee nie.

In- en uitvoere
Jannie noem dat goeie terugvoer oor in- en uitvoere deurgegee is. Dit is reeds in 2018 goedgekeur en die Suid-Afrikaanse Graan Inligtingsdiens (SAGIS) publiseer die inligting weekliks.

Handelaarverpligtingsverslag
Hy verduidelik ook dat die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) ’n nie-reguleringsinstansie is en dat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) nuwe regulasies daar moet stel wat rolspelers by die JSE verplig om die inligting te verklaar. Hy wys daarop dat daar voortaan twee kategorieë gaan bestaan, naamlik die produsent, verwerker en verbruiker teenoor ander markdeelnemers.

Markte
Die Midde-Oosterse lande is volgens Jannie ’n belangrike mark vir Suid-Afrika omdat hulle onvoldoende mielies produseer. As Suid-Afrika egter in die buiteland wil meeding, sal daar jaarliks ’n surplus graan geproduseer moet word.

Hy bevestig dat die gesprekke rondom biobrandstof en die plastiekbedryf nog aan die gang is. Die struikelblok is die gebrek aan duidelike wetgewing.

Mielieproduksie teenoor weiding
Jannie sê dat daar vroeër jare ’n regeringsinsentief was as produsente mieliehektare omgeskakel het na weiding. Die mark dwing produsente nou weer in daardie rigting. Graan SA is besig met navorsing oor hoe produsente hul winsgewendheid kan verhoog deur sekere hektare na weiding om te skakel of alternatiewe gewasse te plant.

Liggingsdifferensiaal
Die voorsitter verduidelik dat die liggingsdifferensiaalprobleem na die JSE geneem is en dat die JSE besluit het om ’n ondersoek te loods. Dr Matt Roberts is aanbeveel om die ondersoek namens die JSE te doen en was vir ’n week in Suid-Afrika. Hy het al die belangrike rolspelers gesien asook verskeie werkgroepe en streeksvergaderings bygewoon. Graan SA het heelwat tyd saam met hom bestee en inligting aan hom deurgegee. Dr Roberts skryf nou ’n verslag en sal ’n aanbeveling aan die JSE maak vir die pad vorentoe. Hy het ook uitgewys dat daar belangrike punte is wat ons JSE Safex-mark en die Chicago Mercantile Exchange- (CME-) en Chicago Board of Trade- (CBOT-)mark onderskei.

Suid-Afrikaanse produsente het baie meer lokaliteite om teen Safex te lewer. Op die JSE se verhandelingskerm kan jy sien wie die koper en die verkoper is – Suid-Afrika is van die min markte ter wêreld wat kan sien wie die teenparty is. Dit is belangrik omdat Suid-Afrika nie ’n Commitment of Traders Report het nie. Verder kan nie enige produsent op die CME-mark lewer nie: Jy moet ’n groothandelaar wees of ’n baie groot waarborg kan lewer. Op die JSE kan enige produsent ’n 100 ton-kontrak op Safex lewer.

Dr Dirk Strydom (bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA) sê die voordeel wat ons op die oomblik het, is dat wanneer die fisiese markte laer beweeg as Safex minus differensiaal, die produsent die opsie het om by ’n Safex-silo te lewer, waar Safex
minus differensiaal verkry kan word. Dit gee basies vir die produsent ’n vloerprys.

Die voorsitter noem dat volgens dr Roberts die grootste probleem nie die liggingsdifferensiaal is nie, maar die tekort aan deursigtigheid in die kontantmark ten opsigte van waar, hoe en op watter tye premies betaal word. Hy stel in die vooruitsig dat, na die beoordeling en implementering van dr Roberts se verslag, die fokus na die kontantmark sal verskuif. ’n Aktiewe kontantmark en ’n termynmark sal die liggingsdifferensiaal irrelevant maak.

Kontantmark
Dr Strydom verduidelik dat ons ’n punt wil bereik waar die werklike koste van ’n gegewe silo se graanbeweging bekend is. Tans dien die liggingsdifferensiaal as ’n indeks en verwysingsprys per silo. As die optimale waarde teoreties per silo bereken kan word, kan dit dien as die fisiese mark se indeks. Dit bied die produsent nuwe markinligting vir beter bedingingsmag.

Verandering in graderingsregulasies
Jannie sê dat baie druk van kopers ontvang word om die graderingsregulasies aan te pas, veral rondom die mikotoksienvlakke in mielies. Heelwat navorsing is reeds in dié verband gedoen en die saak word nie ligtelik hanteer nie.

Navorsing
Dr Marinda Visser (bestuurder: Navorsing en Beleidsentrum, Graan SA) bespreek verskeie punte rondom navorsing en meld dat die Landbounavorsingsraad (LNR), SANSOR en Graan SA as ’n vennootskap befondsing by die Mielietrust gekry het vir ’n nuwe idee met die 2020-seisoen se kultivarevaluasies. Daar gaan op beide statistiese en strookproewe gefokus word. Projekte is ook begin om op swart kommersiële produsente te fokus en te help met plaagbeheer.

Dr Visser gee terugvoer dat die herfskommandowurm steeds aanwesig is en dat Limpopo steeds ’n hoërisikogebied is. Sy noem dat SANSOR besig is met ’n studie oor die MLN-virus binne Afrika wat nou al tot in Tanzanië versprei het.

Nuwe knelpunte
Koolstofbelasting
Tertius vra dat koolstofbelasting en hoe dit die produsent gaan beïnvloed, ondersoek moet word. Dr Hendrik Smith (bewaringslandboufasiliteerder, Graan SA) verduidelik dat die koolstofbelasting wel toegepas gaan word op enige maatskappy of individu wat oor ’n 100 000 ton koolstof per jaar vrylaat. Dit beteken dat die meeste produsente vrygestel sal wees, behalwe baie groot boerderye wat die vlak oorskry.

Dit kan wel voordelig wees omdat die produsente wat koolstof vaslê en kan bewys dat hulle ’n netto koolstofvaslegging het, voordeel sal trek uit die koolstofbelasting. Die Mielietrust befonds tans ’n studie oor hoe om die koolstofvoetspoor te bepaal sodat wanneer die koolstofbelasting wel deurkom, produsente gehelp kan word om voordeel daaruit te trek.

Wêreldvoorraad
Mnr Phillip de Jager vra dat gekyk moet word na die korrektheid van inligting ten opsigte van wêreldvoorrade, veral met betrekking tot China, en die deursigtigheid van die kontantmark. Dr Strydom sê dat dit die Internasionale Graanraad se doel is om die inligting so akkuraat moontlik deur te gee en dit is ’n gereelde punt op hul agenda.

Wintergraan

Mnr Andries Theron (voorsitter: Wintergraanwerkgroep) tree vir die laaste keer as voorsitter op nadat hy vroeër aangedui het dat hy wil uittree.

Liggingsdifferensiaal
Na aanleiding van dr Matt Roberts se besoek, sit dr Dirk Strydom die huidige stand van sake uiteen. Hy sê dat die koringbedryf moontlik kan verander, maar dat baie uitdagings voorlê. Daar is twee markte vir koring in Suid-Afrika – Safex en die kontantmark – wat meebring dat die Kaapse produsente nie die regte prys vir hulle produk ontvang nie. Die prys is onder invoerpariteit.

Mnr Richard Krige (hoofbestuurslid vir Streek 27) noem dat Kaapse silo’s dieselfde prys het en net 3% van koring word op Safex gelewer. Hy meen dat verskansing gebruik moet word om die kontantmark te skep. Dr Strydom sê die grootste probleem is dat die kontantmark nie optimaal funksioneer nie. Die sessie is egter gemaklik met ’n moontlike voorstel dat die verwysingspunt na die Kaap skuif.

Omdraaistrategie
By die JSE is daar kontrakte geloods wat goedgekeur moet word deur publikasie in die Staatskoerant. Die mikpunt bly om dit goedgekeur te kry voor Oktober. Richard sê dat reëls vir Safex standaard is, maar produsente moet en kan vir beter pryse beding in die kontantmark. Andries noem dat meulenaars nie altyd die hoëkwaliteitkoring wil hê nie en dat jou mandjie goed bestuur moet word.

Graderingsveranderinge is by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye ingedien. Die veranderinge is ook by die JSE ingedien en kontrakte is reeds geloods sodat gradering moontlik kan verander na die nuwe voorstelle met nuwe prysverskille.

Gradering
Dr Strydom verduidelik dat die nuwe voorgestelde gradering kan meebring dat graan geproduseer word wat vergelykbaar is met internasionale standaarde, sonder om gehalte te laat daal. Dit kan ook besparings op insette meebring en spasie in die mark vir koring met ’n hoë proteïenvlak skep.

Volgens die nuwe gradering dien ’n B1-kontrak as verhandelingsbasis. Supergraad is +2% van basis, B2 is -1% van basis en B3 is -4% van die basis. Daar word beoog om dit in die 2019-seisoen te implementeer.

Kwotas en tariewe
Mnr Jannie de Villiers noem dat tariefvrye kwotas ’n groot probleem is. Die metodiek is dat dit op ’n eerste-kom-eerste-dien-basis werk. Daar word al drie jaar lank gespook om die stelsel te verander. Die kwota moet slegs deur die meulenaars ontvang word. Die aansoek op intensies vir in- en uitvoere is ingedien en Graan SA sal volhou om dit in plek te kry ten einde die hoeveelheid invoere te kan bepaal.

Die Europese Unie en Brittanje wil tariefvrye koring hê, maar Graan SA ondersteun dit nie, want dit neem beskerming vir plaaslike produsente uit die mark.

Terugvoer vanaf spesialiskomitees
Kanola
Andries noem dat kanola ’n goeie seisoen met verbeterde opbrengste beleef het. Daar is ’n behoefte om olie wat nie geneties gemodifiseerd (GMO) is nie, te produseer.

Daar was die vorige seisoen probleme met die beskikbaarheid van saad en twee kultivars het probleme met saadgehalte getoon. Graan SA het die produsente ondersteun om vergoeding vanaf verskaffers te ontvang vir die laegehaltesaad. Daar is vir een kultivar vergoed, maar daar word nog oor die ander een onderhandel. Mnr Willie Smal noem dat die kanolasaadprys ’n probleem is en dat dit meer betalend is om jou eie saad skoon te maak.

Gars
Richard sê dit is nodig om ’n onafhanklike forum vir die bedryf daar te stel. Die Suid-Afrikaanse mark is voldoende en daar hoef nie gars ingevoer te word nie. Suid-Afrika se kwaliteit is tans die beste in die wêreld.

Wintergraan- spesiale wegbreeksessie
Wintergraantrust
Jannie verduidelik hoe die Wintergraantrust saamgestel is en waarvandaan die fondse kom. Daar is tans konflik in die trust wat hanteer word. Die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap is gestig vir spesifieke telingsdoeleindes en die ontwikkeling van nuwe tegnologie.

Die termyn van die trustheffing eindig in September 2020. Hy wys daarop dat landbou-ontwikkeling standaard is en moet plaasvind met enige statutêre maatreël en dat dit goed bestuur word. Die probleem is dat administrasie- en bestuurkostes al hoe meer word wat beteken dat daar minder fondse vir navorsing en ontwikkeling beskikbaar is.

As die trust se bestuur nie regkom nie, sal daar opnuut gekyk moet word na die funksionering van die heffing teenoor die trust.

Navorsing
Dr Marinda Visser bespreek die uitkomste van navorsing en ontwikkeling vanaf Graan SA se kant. Sy meld dat bestuur van fondse, klimaatsaanpasbaarheid, kwaliteit teenoor opbrengs en gewasbeskerming van belang is vir produsente. R16 miljoen is van die regering ontvang vir navorsing en ’n vennootskap is met die Universiteit van Stellenbosch aangegaan oor voorteling. Nuwe siektes is ’n probleem vir wintergraan en kort die nodige aandag. Internasionale navorsing waarby Graan SA tans betrokke is, behels die klimaatbestendigheid van koring. Daar word genoem dat onafhanklike navorsing gedoen moet word op kalktoediening, chemikalieë en spoorelemente.

Produksie
Produksieprobleme wat deur Jannie uitgewys is, behels onkruidweerstand, insetkoste, optimale benutting van kunsmis en die probleem van vatbaarheid vir swamme. Die vraag is gevra of ons nog die regte koring produseer vir die tipe brood wat gebak word.

Mnr Luan van der Walt (landbou-ekonoom, Graan SA) wys daarop dat die getal wit en bruin 600 g-brode die afgelope vier jaar aansienlik gestyg het. Daar was ook ’n geringe styging in die getal 700 g-brode gebak.

Die voorgenome garsaanplantings was 475 000 ton, maar het gerealiseer op 360 000 ton. Dit is belangrik om nog rolspelers in die bedryf te vestig om produsente te help. Die garsbedryf wil uitbrei omdat dit ’n baie goeie risikobestuursgewas binne ’n produksiesisteem is.

Daar word aandag gegee aan roesweerstand, droogtetoleransie en wortelontwikkeling, aldus mnr Willem Botes van die Universiteit van Stellenbosch. Dr Renée Prins, van CenGen, meld dat dit nie maklik is om al die navorsing te doen met die beperkte fondse wat hulle het nie.

Sensako, by monde van mnr Francois Koekemoer, meld dat die groep besig is om met Brasilië te onderhandel om GMO’s na Suid-Afrika te bring. Hy noem dat die winterkoringgebied aandag nodig het om volhoubaar te bly en dat hulle besig is om te kyk na kruisings tussen wit- en rooikoring, want die meulenaars het geen probleem met witkoring nie.

Dr Toi Tsilo (LNR-Kleingraan) noem dat hulle fokus op goeie kwaliteit en opbrengs. Hy bepleit nouer samewerking tussen navorsers en vra dat duidelike doelwitte gestel moet word. Hy is van mening dat hulp vanaf die buiteland verkry moet word en dat
ons stelsels moet kry waar produsente en verbruikers albei bydra tot navorsing.

Me Ida Wilson sê dat navorsers na ander lande gelok word. Dit kan die volhoubaarheid van die koringbedryf ernstig skaad.

Volgens dr Strydom is die grootste probleem befondsing. Hy noem dat die staat onder druk is, dat navorsing se befondsing gesny is en dat fondse ondoeltreffend aangewend word.

Onsekerheid is volgens Jannie die grootste probleem en dat navorsing ’n langertermynprojek bly. Dr Strydom noem dat produsente nie self kan bly befonds nie en dat daar na ander bronne gekyk sal moet word.

Grondbone

Mnr Gerhard Bruwer, voorsitter van die Grondbonewerkgroep, het as voorsitter opgetree.

Verbruikstendense
In ’n voorlegging verwys dr Charl van der Merwe na die gesondheidsvoordele wat grondbone inhou. Dit is van toenemende belang danksy die tendens onder verbruikers om na gesonde kosse te skuif. Aspekte soos die groei in huishoudelike inkomste en verandering van inkomstegroepe is van die faktore wat bydra tot grondboonbotterverbruik.

Plaaslike grondboonproduksie was hoofsaaklik weens weerstoestande die afgelope vier jaar wisselvallig en dit het ’n negatiewe impak op die waardeketting gehad. Die toename in invoere van grondboonbotter is een van die grootste uitdagings waarmee die bedryf te doen het, veral weens die feit dat daar geen invoertarief daarop is nie. Die sessie besluit dat daar voortgegaan moet word met die ondersoek na ’n invoertarief op grondboonbotter.

Nat gradering van grondbone
Mnr Lourens de Kock gee ’n oorsig oor die natgraderingstudie asook die implementering daarvan in die bedryf. Hy wys daarop dat die gradering van grondbone slegs ’n riglyn en nie ’n regulasie is nie en nie afdwingbaar is nie. Die finale ooreenkoms lê steeds tussen die produsent en aankoper. Mnr Christiaan Bouwer spreek sy kommer uit dat die vogaanpassing in die studie gedoen is tot op 6%-voginhoud en nie soos in die graderingsriglyn tot op 7%-vog nie.

Lourens noem dat hy en mnr Neels Wegner van Suid-Afrika se amptelike bederfbareproduk-uitvoersertifiseringsagentskap (PPECB) besig is om die addendum vir die graderingsriglyn saam te stel en dat hulle dit tot 7% sal aanpas. Die sessie besluit dat die beoogde addendum tot die graderingsriglyn op 7%-voginhoud aanvaar word.

Teling-en-tegnologieheffing
Mnr Luan van der Walt verduidelik hoekom die moontlikheid van ’n teling-en-tegnologieheffing in die grondboonbedryf ondersoek word. Só ’n heffing is werkbaar en ’n maklik implementeerbare manier om aansporing vir die bedryf te gee om nuwe kultivarontwikkeling te doen.

Teen huidige saadaankope en aanplantings, word daar beraam dat R2,967 miljoen nodig sal wees om die saadmaatskappye te vergoed vir die tantieme wat dan nie meer op nuwe saad gehef word nie. Dit beteken dat die teling-en-tegnologieheffing ongeveer R46/ton sal beloop.

Mnr Schalk Fourie meen dat die bedrag nie noodwendig genoeg sal wees om maatskappye aan te moedig om nuwe kultivarontwikkeling te doen nie. Hy sê dat Graan SA met maatskappye moet kontak maak om vas te stel watter bedrag die ontwikkeling van nuwe kultivars kan stimuleer en om te bepaal wat hulle bereid sal wees om by te dra tot ’n teling-en-tegnologieheffing.

Inligtingsdae
Daar word aanbeveel, na aanleiding van terugvoer, dat die grondbooninligtingsdae wat vir April beplan was, steeds gehou moet word, maar dat dit later in die seisoen moet plaasvind – waarskynlik in Augustus of September.

Buro vir Voedsel- en Landboubeleidstudie
Me Adri Botha noem dat die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) versoek is om weer ’n studie oor die grondboonbedryf te doen. Die studie beoog om onder meer die 2012-studie op te dateer met nuwe inligting oor internasionale en plaaslike markte, tariewe en prysbepaling van grondbone en grondboonprodukte, die uitwerking van hoër invoerheffings op grondbone en grondboonprodukte op die binnelandse produksie en verbruik en meganismes wat in plek gestel kan word om die bedryf te beskerm.

Sojabone

Mnr Ralf Küsel (voorsitter van Graan SA se Sonneblom- en Sojaboonspesialiswerkgroep) het as voorsitter opgetree.

Produksie en insette
Mnr Corné Louw (senior ekonoom: Insette, Graan SA) toon deur middel van ’n voorlegging die tydlyn van die reeds afgekondigde teling-en-tegnologieheffing op sojabone aan. Vanaf 1 Maart 2019 tot 29 Februarie 2020 beloop die heffing R65/ton en vanaf 1 Maart 2020 tot 28 Februarie 2021, R80/ton.

Mnr Arthur Schroder verduidelik die verskillende stappe wat nodig is om ’n geneties gemanipuleerde (GMO) event in Suid-Afrika te registreer. Proefaanplantings is hierdie seisoen vir ’n derde jaar herhaal vir registrasiedoeleindes. Volgens Arthur word daar beplan om die dossier na afloop van die seisoen by die Registrateur van die GMO-wet in te dien.

Die wegbreeksessie spreek kommer uit oor saadpryse en vra Graan SA om pryse streng te monitor omdat daar verwag word dat saadpryse gaan afkom, veral nadat die teling-en-tegnologieheffing in werking gestel is.

Markinligting
Corné rapporteer dat die sonneblom- en sojaboonforum ’n aansoek ingedien het vir die weeklikse statutêre rapportering van in- en uitvoere van sonneblomsaad en sojabone. Daarmee saam is aansoek gedoen vir die rapportering van in- en uitvoerintensies. Graan SA het die forum amptelik versoek dat sonneblom- en sojaboonoliekoek ook deel uitmaak van hierdie statutêre markinligting.

Kwaliteit van sojabone in die waardeketting
Me Wiana Louw van die Suid-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) lewer ’n voorlegging oor die kwaliteit van sojabone vir die afgelope sewe seisoene. Uit die inligting is daar konsensus dat die kwaliteit in terme van olie- en proteïeninhoud op ’n gemiddelde basis baie goed vergelyk met ander lande. Dit is wel ook duidelik dat daar ’n groot variasie is tussen die minimum inhoud en die maksimum inhoud van olie-inhoud in die meeste gevalle.

Dr Erhard Briedenhann toon met behulp van ’n voorlegging waarna die verwerker van sojabone kyk in terme van kwaliteit. Hy noem dat die faktore wat proteïeninhoud bepaal, die kombinasie van klimaat, lokaliteit, bemesting, stikstofbinding, plantdatum en plantdigtheid is. Hy gee voorbeelde van proteïen- en olie-inhoudvlak­ke in ander lande. Lande soos die VSA en Argentinië begin ook al meer probleme ervaar met hulle sojaboonproteïeninhoud. Hy sê verder aan die een kant is ’n te hoë voginhoud vir berging ’n probleem terwyl ’n te lae voginhoud weer vir die verwerkers ’n probleem is.

Daar word op hierdie stadium na ’n wen-wen-situasie gesoek. Tans doen die Oliesade Verwerkers Vereniging ’n studie oor die huidige situasie en hoe daar gewerk kan word na ’n beter struktuur om die verskillende kwaliteite reg te verpak. Daar word ook verder gekyk na die uitslae van die SAGL teenoor die kwaliteit wat verwerkers in die industrie ervaar.

Liggingsdifferensiaal op sojabone
Corné gee terugvoer oor dr Matt Roberts se besoek om die wer­king van liggingsdifferensiale te ondersoek. Dr Roberts is van mening dat ’n liggingsdifferensiaal bepalend is vir die optimale funksionering van die sojaboonmark. Hy het spesifiek verwys na die groot hoeveelheid sojabone wat op Safex vanuit afgeleë silo’s herlewer word. Die wegbreeksessie is van mening dat daar steeds nie ’n liggingsdifferensiaal op die Safex-sojaboonkontrak moet wees nie.

Sojaboonbedryf- strategiese werkswinkel
Corné rapporteer oor ’n sojaboonbedryfwerkswinkel wat einde verlede jaar gehou is ten einde uitdagings in die bedryf te bespreek. Volgens die groot veevoervervaardigers is die tekort aan ’n konstante kwaliteit teen ’n konstante hoeveelheid plaaslike oliekoek, die rede hoekom hulle steeds sojaboonoliekoek moet invoer.

Sonneblom en sorghum

Mnr Willem Groothof (voorsitter: Sorghumwerkgroep) tree as voorsitter op.

Sonneblom
Sonneblomolie
Volgens me Wiana Louw is 2017/2018 die sesde jaar waarin sonneblomkwaliteitsanalises gedoen is. Die data op nasionale en streeksvlak wys dat die laaste drie seisoene se olie-inhoud laer is as ses jaar gelede, maar dat die plaaslike sonneblomolie-inhoud van gemiddeld 40% relatief goed is. Die wegbreeksessie voel dat die afgelope paar seisoene se laer olie-inhoud moontlik kan wees as gevolg van die later aanplantings weens droogtetoestande.

Plantdatums
Dr Safiah Ma’ali, van die LNR-Graangewasse, het ’n voorlegging gedoen oor die impak van sonneblomplantdatums op olie-inhoud, saad asook olie-opbrengs na aanleiding van veldproewe wat gedoen is. Sy adviseer produsente om sonneblom in November en nie later as einde Desember aan te plant nie ten einde meer as 2 t/ha te bereik.

Siektes
Tydens ’n voorlegging het me Miekie Human (navorsingsassistent, Graan SA) produsente oor die Suid-Afrikaanse Sclerotinia Navorsingsnetwerk (SASRN) ingelig. ’n Navorsingsprojek word tans onderneem op sonneblomme oor die genotipiese en fenotipiese sifting van sonneblomkultivars om bronne van verdraagsaamheid te identifiseer.

Monsternemingsapparaat
Me Petru Fourie (navorsingskoördineerder en produksiekoste-analis, Graan SA) noem dat produsente bekommerd was oor die monsternemingsproses van sonneblom. SAGL het op versoek van Agbiz Graan ’n studie gedoen en verskillende monsternemingsinstrumente getoets en met mekaar vergelyk. Sy sal ’n artikel oor haar resultate skryf.

Opbrengs
Volgens mnr Willem van der Walt het sonneblomopbrengste die afgelope paar jaar sywaarts beweeg en is daar ’n behoefte aan produksiepraktyknavorsing (soos bemesting en plantdatums).

Dowwe pitte by sonneblom
Na aanleiding van produsente se ervaring van dowwe pitte sal Petru ’n artikel hieroor deur dr André Nel aan produsente stuur.

In- en uitvoerrapportering
Me Ikageng Maluleke (landbou-ekonoom, Graan SA) meld daar is versoek dat die voornemens vir in- en uitvoere van sonneblom, agt weke voor die fisieke lewering daarvan plaasvind, aan die mark bekend gemaak moet word, soos dit reeds die geval met mielies is.

Sorghum
Markuitbreiding
Willem meld dat die sorghummark stagneer en dat die verbruik vir die vervaardiging van sorghumbier na die meelmark verskuif het. Slegs ’n klein persentasie van die plaaslike sorghumproduksie word vir dierevoeding gebruik en nuwe markte moet gesoek word. Hy meld ook dat Graan SA verlede jaar die vernaamste sorghumverwerkers besoek het.

BTW op sorghum
Graan SA het in 2018 weer aansoek gedoen dat BTW op sorghum geskrap moet word, maar dit is weer eens afgekeur.

Safex-kontrakte
Ikageng wys daarop dat verlede jaar se Kongres besluit het om die sorghum-Safex-kontrak te verwyder. Graan SA het egter aan die bedryf en die JSE voor­gestel dat die sorghumkontrak kleiner gemaak moet word en dit is verminder van 100 ton tot 30 ton. Produsente het positief gereageer en verhandelinge is gestimuleer.

Pannar se sorghumteelprogram
Willem sê dat Pannar moontlik hulle plaaslike sorghumteelprogram gaan staak en dat dit dringend met Pannar opgeneem sal word.

Kweleabeheer
Die Departement van Klimaatsverandering en Rampbestuur sê dat daar min aanmeldings was as gevolg van laer reënval en ’n afname in sorghumhektare. Dr Marinda Visser sê dat Graan SA ’n vergadering met die departement gehad het waar langtermynbeplanning vir kweleabeheer bespreek is.