Komitee plaas plantestand van mielies onder die vergrootglas

153

Om tans met mielies wins te maak, is nie maklik nie. Graanpryse aan die een kant en insetkoste aan die ander kant vorm die bekende kosteknyptang wat die winsgewendheid van mielies knel. Om sake te vererger, is ons reënval baie wisselvallig wat hoeveelheid en verspreiding betref en is dit ’n groot bron van risiko vir mielieproduksie.

Om onder dié omstandighede wins te maak, is doeltreffende produksie van die uiterste belang. Produksie-insette soos saad en kunsmis moet dus optimaal aangewend word om die winsgewendheid so hoog moontlik te hou.

Plantestand is een van die aspekte wat grootliks beheer kan word en gevolglik geoptimaliseer kan word. Die rasionaal is eenvoudig: Sou die plantestand te laag wees, beperk dit die opbrengs en gepaardgaande wins en die beskikbare grond en reënval word onderbenut. Indien die plantestand te hoog is, beperk dit ook die wins aangesien die saadkoste dan onnodig hoog is. ’n Te hoë stand kan ook die opbrengs onder droogte beperk wat die winsgewendheid verder ondermyn. Die logiese vraag is: Wat bepaal die optimale stand van mielies?

Op die keper beskou, is daar ’n lys van faktore wat die optimale stand van mielies beïnvloed. Die opbrengspotensiaal wat deur die grond en reënval daargestel word, is seker die belangrikste omgewingsfaktore wat die optimale stand bepaal. Daar is egter ook ’n rits ander faktore, onder meer die rywydte, kultivar en bewerking.

’n Faktor wat tans ook ’n impak op die plantestand het, is die prys van saad. Volgens Graan SA se begroting vir 2018/2019, beloop die saadkoste vir die Noordwes-Vrystaat, byvoorbeeld, tussen R740/ha en R1 264/ha wat tussen 12% en 15% van die totale direk-toedeelbare veranderlike koste uitmaak.

Die Sandgrondontwikkelingskomitee (SOK) wat in die Noordwes-Vrystaat bedrywig is, met mnr Danie Minnaar as voorsitter, doen proefwerk met die finansiële ondersteuning van die Mielietrust. Ander belangrike rolspelers is mnre Thabo van Zyl, Danie Crous en Lourens van der Linde op wie se gronde daar proewe gedoen word, asook dr Danie Beukes en dr André Nel wat as konsultante ’n diens lewer rondom hierdie spesifieke proewe.

Die doel van die ondersoek is onder meer om die doeltreffendheid van mielieproduksie so hoog as moontlik te hou. Só is die plantestand van mielies een van die aspekte wat die afgelope twee seisoene in proewe onder die vergrootglas geplaas is en insiggewende resultate is reeds ingewin.

Proewe is op Danie Minnaar se plase in die Kroonstad-distrik gedoen (Vlakvley in 2016/2017 en Hamiltonsrus in 2017/2018) en op Thabo se plaas Doornbult in die Bothaville-distrik in 2016/2017 en 2017/2018. Die proewe is oppervlaktegewys besonder groot, wat die resultate betroubaar maak. Die kleinste perseel wat aan ’n bepaalde stand toegeken is, was 0,15 ha.

Afgesien van die groot persele word die behandelings ook herhaal, wat ’n wetenskaplike ontleding van die resultate moontlik maak.

Vlakvley en Hamiltonsrus
Op Vlakvley is twee kultivars, naamlik DKC 78-87 B en DKC 78-17 B, op 23 November 2016 met ’n tussenryspasiëring van 1,5 m in ’n rip-op-ry-bewerkingstelsel geplant. Die stand is van 12 000 plante/ha tot 26 000 plante/ha gevarieer met die verwagting dat die opbrengs ’n draaipunt tussen 20 000 plante/ha en 26 000 plante/ha sou bereik.

Die weer was egter nie baie gunstig vir die opkoms van die mielies nie en die finale stand was gemiddeld sowat 93% van wat beoog is.

Weens goeie reën later in die seisoen (350 mm in Januarie tot Februarie 2017) was die opbrengspotensiaal in 2016/2017 hoog en van die persele wat die beste presteer het se opbrengste was hoër as 10 ton/ha. ’n Opbrengsdraaipunt is nie bereik nie en die optimale stand van die betrokke seisoen was hoër as dit waarvoor voorsiening gemaak is.

Grafiek 1 toon die verwantskap tussen die opbrengs en die oestydstand vir elke kultivar. Dit is duidelik dat elke kultivar ’n eie stand-tot-opbrengsverwantskap het.

Hoe laer die stand, hoe groter die verskil tussen die kultivars en omgekeerd.

In 2017/2018 is ’n soortgelyke proef op Hamiltonsrus gedoen, maar slegs een kultivar, DKC 75-65 BR, is gebruik. Die plantdatum was 14 Desember 2017 en dié keer is die plantestand tussen 15 000 plante/ha en 40 000 plante/ha gevarieer. Die opkoms was goed en die verskil tussen die finale plante­stand en die aantal pitte wat geplant is, was onbeduidend. Die seisoen het, in teenstelling met ’n groot deel van die Noordwes-Vrystaat, weer gunstig verloop (seisoenale reënval was 430 mm) en die hoogste perseelopbrengs het weer die 10 t/ha grens oorgesteek.

Die opbrengs het wel ’n draaipunt bereik soos in Grafiek 2 gesien kan word. Die regressielyn in Grafiek 2 verteenwoordig die gemiddelde opbrengs wat by ’n bepaalde stand bereik kan word. Die hoogste gemiddelde opbrengs van 8,78 t/ha is dus in die omgewing van 38 600 plante/ha behaal. Dié opbrengs kan as die opbrengspotensiaal beskou word.

Die ekonomies optimale stand is egter laer as 38 600 plante/ha aangesien dit deur beide die saad- en graanprys bepaal word. Met die regressievergelyking is dit moontlik om die optimale stand te bereken as die graan- en saadprys bekend is. Die optimale stand is waar die laaste rand wat aan saad gespandeer word, net ’n rand se graan lewer.

Tabel 1 toon die optimale stand vir ’n reeks saad- en graanpryse vir bogenoemde opbrengspotensiaal. Die tabel toon byvoorbeeld dat berekende optimale stande gewissel het van 29 800 plante/ha (hoogste saadprys) tot 37 400 plante/ha (hoogste graanprys), respektiewelik.

Doornbult
By Doornbult, suid van Bothaville, is DKC 78-87 B op 30 November 2016 en weer op 18 Desember 2017 in ’n rip-op-ry-bewerkingstelsel geplant. ’n 16-ryplanter met 76 cm as tussenryspasiëring is gebruik. Twee eenhede is verwyder om vir die trekkerspore voorsiening te maak. Die gemiddelde tussenryspasiëring was gevolglik 0,87 m. In beide seisoene is die plantestand van 15 000 plante/ha tot 50 000 plante/ha gevarieer.

In 2016/2017 is ’n maksimum gemiddelde opbrengs van 8,5 t/ha by 42 900 plante/ha (teen oestyd) behaal. In 2017/2018 is vier herhalings gebruik wat in twee blokke verdeel is. Die opbrengspotensiaal van die twee blokke van nagenoeg 140 m x 146 m elk wat teen ’n effense helling lê, het aansienlik verskil. Die blok laer teen die helling se maksimum opbrengs was 7,04 t/ha wat by ’n plantestand van 39 700 plante/ha bereik is, terwyl die hoërliggende blok se ooreenstemmende waarde 9,78 t/ha by ’n stand van 50 000 plante/ha was. Die opbrengste is besonder hoog, wat aan gunstige reënval van sowat 100 mm wat in Maart geval het en die feit dat die ryp ook eers laat gekom het, toegeskryf word.

Met die resultate van Doornbult is die ekonomies optimale stand vir drie opbrengspotensiale bereken met inagneming van moontlike saad- en graanpryse. Die beraamde optimale stand vir 0,87 m-rye word in Tabel 2 getoon. Die tabel toon dat by ’n opbrengspotensiaal van 8,5 t/ha, die berekende optimale stan­de gewissel het van 35 600 plante/ha (hoogste saadprys) tot 42 000 plante/ha (hoogste graanprys), respektiewelik.

Samevatting
Die resultate wat tot dusver verkry is, bevestig wat ons weet, naamlik dat die ekonomies optimale stand van mielies in die sandgrond van die Noordwes-Vrystaat, soos elders, grootliks deur die opbrengspotensiaal van die seisoen bepaal word. Die opbrengspotensiaal word weer grootliks deur die seisoenale reënval bepaal wat baie wisselvallig is en vir ’n spesifieke land byna onvoorspelbaar is.

Om die langtermyn- gemiddelde opbrengs van ’n land as sy opbrengspotensiaal te beskou, is ’n goue middeweg. Teoreties gaan daar eweveel seisoene wees waar die plantestand onnodig hoog en dan weer te laag behoort te wees.

Wat die resultate wel duidelik demonstreer, is dat graan- en saadprys ook ’n beduidende invloed op die optimale stand het. ’n Hoër saadprys en ’n laer graanprys vereis ’n laer stand om die somme te help klop. Die proefwerk word voortgesit om ’n groter reeks opbrengspotensiale in te sluit.