Feite en riglyne vir saadbehandeling

1135

Saad is die een element waarsonder die graanprodusent glad nie kan boer nie. Die ander insette soos bemestingstowwe en plaagdoders is eintlik maar net ondersteunend tot saad, maar kan ’n oes vir die produsent van gemiddeld na hoogs winsgewend verander.

Soos wat tegnologie verbeter, het die produksiepotensiaal van gewasse ook toegeneem en plaagdoders of plantbeskermingsmiddels is deel van die gereedskap wat gewasse deesdae hoogs produserend maak. In die ou dae is gewasbeskermingsmiddels in die plantvore aangebring, maar in moderne landbou word die saad meer doelgerig beskerm teen siektes, insekte en aalwurms deur plaagdoders op die saad aan te bring.

Kundigheid en doelgerigte toerusting
Saadbedekking met ’n reeks beskermingsmiddels is nie sommer net ’n geval van “gooi en meng” nie. Dit verg kundigheid en doelgerigte toerusting om die kosbare saad effektief met die voorgeskrewe middels te behandel.

Verder is dit belangrik om die saadbehandelingsmiddels stewig aan die saad te laat vaskleef of bind sodat chemiese stowwe vanaf die saad nie die omgewing tydens plant besoedel en ’n gevaar skep vir waardevolle organismes soos heuningbye nie. Sommige van die saadbehandelingsmiddels soos die neonikotinoïede en piretroïede is baie giftig vir bye, maar as die middels korrek en onder die regte omstandighede aangewend word, is die risiko vir bye heeltemal uitgeskakel.

Wie mag dit doen?
Die groot vraag by saadbehandeling is: Wie mag dit doen? Is dit slegs die saadtelers soos die bekende saadmaatskappye of is dit landbouchemiese agente? Is dit die koöperasie/landboumaatskappy of mag die produsent dit self doen?

Dit is ’n komplekse vraag met ’n komplekse antwoord omdat dit onderhewig aan verskeie stelle wetgewing is wat nie altyd aan almal bekend is nie. Die vraag is ook hoe effektief die saadbehandeling deur die verskillende rolspelers gedoen kan word.

Regstegnies gesproke kan enige persoon wat ’n plaagdoder (die wet gebruik die woord landboumiddel) aankoop, dit streng volgens etiketvoorskrifte vir eie gebruik aanwend. Niemand kan dus die produsent verhoed om die plaagdoder aan te koop en sy gewassaad self daarmee te behandel nie. Wet No. 36 van 1947 wat alle landboumiddels beheer, vereis slegs van die produsent dat hy of sy die etiket se voorskrifte nakom.

Dit is soms nodig dat die produsent ander entiteite gebruik om bepaalde funksies vir hom te verrig en dit is waar Wet No. 36 van 1947 met beperkings intree. Sodra ’n persoon of ’n besigheid ’n plaagdoder vir ’n ander party aanwend (die wet noem dit “in die bedryf van besigheid”), dan moet daardie persoon as ’n plaagbeheeroperateur in terme van die wet geregistreer wees.

Dit is noodsaaklik omdat die dienste wat sulke mense of besighede aanbied, spesialisdienste is wat opleiding en bepaalde kundigheid sowel as ervaring vereis. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) en die plantebeskermingbedryfsvereniging (CropLife Suid-Afrika) is ook van mening dat saadbehandeling nie sommer met ’n skopgraaf en emmer gedoen kan word nie, maar dat dit toerusting van bepaalde standaarde verg om die taak suksesvol te verrig. Dit is ook belangrik dat mense verstaan dat sommige middels nie met mekaar versoenbaar is nie.

Bloot uit die oogpunt van Wet No. 36 van 1947 is dit dus noodsaaklik dat die produsent seker maak dat wie ook al saad namens hom behandel, aan die volgende vereistes voldoen:

  • Slegs landboumiddels wat as saadbehandelingsmiddels geregistreer is, mag gebruik word.
  • Middels moet streng volgens voorskrifte gemeng word ten einde voldoende beskerming aan die saad te gee – let veral op dosering. Dit word in aantal gram of milliliter per massa saad of per aantal saadkerne op die etiket aangedui.
  • Die persoon of maatskappy behoort as plaagbeheeroperateur by die registrateur van Wet No. 36 van 1947 geregistreer te wees en moet in besit van ’n wit kaartjie met ’n P-nommer wees.
  • Die saadbehandeling moet met die korrekte toerusting gedoen word – binnenshuis waar wind nie stof sal veroorsaak nie.
  • ’n Polimeer wat die middels aan die saad laat kleef, moet gebruik word.
  • Die saad moet na behandeling ordentlik gedroog word om swaminfeksie te voorkom.

Ander wetgewing wat ter sprake kom by saadbehandeling is die Plantverbeteringswet (No. 53 van 1976). Hierdie wet en sy regulasies skryf voor dat die perseel waar saad behandel word, onder die wet geregistreer moet wees. Dit is interessant dat die wet die term “skoonmaak” gebruik en dit omskryf as reiniging of enige ander behandeling met die doel om die plantmateriaal (insluitende saad) vir voortplanting aan te wend.

Die regulasies vereis ook sekere rekordhouding na die behandeling van saad ten einde te verseker dat die korrekte saad met die korrekte middels behandel is. Gelukkig bepaal die wet dat iemand wat sy eie saad behandel se perseel nie geregistreer hoef te wees nie.

Wette beskerm jou bate
Al hierdie vereistes klink dalk na ’n heksejag, maar dink mooi daaroor: Saad is die kosbaarste deel van die landbou-insette – as daar iets fout gaan met die saad is dit nie eers die moeite werd om dit te plant nie. Dit is waarom die wette streng uitsprake maak. Dit verseker dat die produsent se bate, naamlik die saad, voldoende beskerm word.

Saad wat vanaf SANSOR-lidmaatskappye aangekoop word, is reeds behandel met insekdoders en swamdoders. Daar is geen rede om ander plaagdoders te probeer aanwend nie. Wat wel op plaasvlak gebeur, is dat biologiese middels soos inokulante aangewend word om groei te bevorder.

Die nadeel daarvan is dat saad dadelik geplant moet word na behandeling en nie kan oorstaan nie. Weer eens is dit die moeite werd om seker te maak dat die proses reg verloop ten einde die saad se integriteit te verseker.

Ons aanbeveling
Die aanbeveling van CropLife Suid-Afrika is om sover moontlik saad aan te koop wat reeds deur die saadmaatskappy behandel is. Hulle gebruik gespesialiseerde toerusting en spesiale polimere wat die saadbehandeling uiters effektief en professioneel maak. Daar is ook ouditprosesse betrokke, soos die toetsing van die saad na behandeling vir chemiese lading en kiemkragtigheid.

Dit wat die produsent by ’n gerespekteerde saadmaatskappy aankoop, is ’n gewaarborgde produk. As onbehandelde saad gekoop word en iemand bied die diens aan om dit behandel, maak eers seker of daardie dienste geregistreer is en aan die vereistes voldoen. Saad wat deur swak saadbehandeling gekompromitteer is, kan die produsent ’n hele produksieseisoen kos.

Dit is ook noodsaaklik om te bepaal of die voorgestelde middel wel vir saadbehandeling geregistreer is, al dan nie. CropLife Suid-Afrika se Agri-Intel is ’n inligtingsbron wat van onskatbare waarde is. ’n Soektog met Agri-Intel se kragtige soekenjins op www.agri-intel.com sal berusting gee oor die keuse van saadbehandelingsmiddels.

Vir verdere inligting hou die webwerf www.croplife.co.za dop of skakel CropLife Suid-Afrika by 087 980 5163.