‘n Lewe met weerstandige onkruid

Gepubliseer: 13 Desember 2023

377
Dr Maryke Craven LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Ek wonder dikwels of die geskiedenis homself werklik herhaal. ’n Mens bly hoop dat met die verbetering in tegnologie, kommunikasie en die maklike toegang tot inligting, dit die mensdom daarvan sal weerhou om weer met dieselfde probleme te sit of dieselfde foute te herhaal.

Wanneer dit egter by onkruidbeheer kom, wil dit voorkom of daar wêreldwyd nie uit foute geleer word nie – en dat die gemak wat onkruiddoders vir ons en ons voorgangers gebring het dalk nie vir ons kinders beskore sal wees nie.

Weerstandigheid
Weerstandigheid ontstaan wanneer dieselfde produk herhaaldelik – nie net binne dieselfde seisoen nie, maar ook jaar na jaar – gespuit word. Jaarliks word daar wêreldwyd ’n gemiddeld van tien nuwe biotipes (’n spesifieke groep plante wat almal ’n gemeenskaplike eienskap soos weerstandigheid teen ’n spesifieke onkruiddoder deel) geïdentifiseer. Tans bestaan daar 523 unieke gevalle van onkruiddoderweerstandigheid in 269 spesies, met onkruide wat suksesvol weerstand kon ontwikkel in 21 van die 31 bestaande “plek-van-werking”-onkruiddoders (site of action). In baie gevalle is die onkruide ook nie net weerstandig teen een aktiewe bestanddeel (onkruiddoder) nie, maar selfs drie of meer gelyktydig.

Op eie bodem is Palmer amarant ’n sprekende voorbeeld van weerstandigheid teen meer as een aktief (Foto 1). Hierdie onkruid het weerstandigheid teen saflufenasiel, chlorimuron-etiel én glifosaat in dieselfde populasie ontwikkel. Sedert die toetrede van glifosaat is daar weinig nuwe aktiewe bestanddele (onkruiddoders) in die laaste 30+ jaar tot die mark gevoeg, wat die probleem net vererger en ’n donker toekoms vir produsente voorspel.

1. Volwasse Palmer amarant-plant in die Potchefstroom-omgewing.
Foto: C Reinhardt, SAHRI UP, Maart 2022

Alhoewel die ideaal sal wees om te voorkom dat onkruid­weerstandigheid op die plaas ontstaan, het daardie skippie egter reeds vir baie produsente geseil, veral as dit by glifosaat kom. Met hierdie artikel word gepoog om produsente te help met voorstelle oor hoe om weerstandige onkruide te benader.

Hoe om weerstandige onkruid te identifiseer
’n Onkruid is waarskynlik weerstandig as die onkruiddoder nie meer die onkruid teen die dosis wat deur die produketiket aanbeveel word, doeltreffend beheer nie. In so ’n geval moet die dosis nie net verhoog word nie, omdat dit juis die probleem sal vererger. Die verantwoordelike optrede is om die produkeienaar (maatskappy) te verwittig van moontlike weerstandigheid sodat kenners verder daaraan aandag kan gee.

Beheer van die weerstandige onkruid
Wanneer dit by die beheer van weerstandige onkruid kom, is daar vier basiese doelwitte wat nagestreef moet word:

  1. Voorkom die verspreiding van saad;
  2. verhoed saadproduksie;
  3. vernietig die saad; en
  4. volg ’n omkeerstrategie om heeltemal van die weerstandige onkruid ontslae te raak.

Om hierdie doelwitte te bereik, sal daar ’n paar belangrike kopskuiwe gemaak moet word:

Geen wondermiddel
Besef dat wanneer dit by onkruidbeheer kom, daar nie ’n spreekwoordelike silver bullet is wat alles in een seisoen sal regmaak nie. Glifosaat is in baie opsigte as só ’n kitsoplossing beskou, maar die natuur het ons herinner aan sy aanpasbaarheid. Sou daar weer so ’n wondermiddel beskikbaar gemaak word, sal dit ook maar net ’n kwessie van tyd wees voordat weerstand teen daardie aktief ontwikkel – want die geskiedenis herhaal homself.

’n Geïntegreerde benadering
Volg ’n geïntegreerde benadering bestaande uit agronomiese, meganiese sowel as chemiese aspekte. Daar sal nuut gedink moet word oor die onkruidbeheerstrategie wat kan werk op ’n spesifieke plaas met sy eie bestaande, unieke sisteme (bewerking en wisselbou). Elke plaas sal dus sy eie unieke “wenresep” hê wat nie noodwendig vir ander produsente sal werk nie.

Breek met tradisie
Weerstandige onkruid vereis dat daar veral in twee opsigte met tradisie gebreek sal moet word:

  • Gewasse wat tradisioneel geplant word. Die uitbreking van Palmer amarant in 2018 het uiteindelik daartoe gelei dat katoen nie meer in die aangetaste gebied verbou word nie. Hierdie stap is genoop deur ’n gebrek aan onkruiddoders wat op katoen geregistreer is vir die beheer van Palmer amarant. Tradisionele wisselbousisteme (of die gebrek aan wisselbou) sal dus hersien moet word. Produsente sal alternatiewe gewasse moet ondersoek en daarmee eksperimenteer. Deur alternatiewe gewasse in te sluit, word toegang verkry tot ’n nuwe reeks onkruiddoders wat wel die weerstandige onkruid kan beheer.
  • Bewerkingspraktyke: Produsente wat getrou bewaringsbewer­king toegepas het, sal moet oorweeg om ’n skoffelbewerking te doen. Onkruide soos skraalhans, wat veral ’n probleem onder bewaringsbewerking is, kan uiters effektief met skoffelbewerking beheer word.

Bou kundigheid op
Bou kundigheid op rakende onkruiddoders, die verskillende soorte groepe (HRAC-groepe) en hul gebruik. Niemand weet beter wat op ’n plaas aan die gang is as die produsent self nie. Om die keuse aan iemand anders oor te laat om ’n pakket vir spuit saam te stel, kan daartoe bydra dat omstandighede geskep word waar sekere onkruide nie beheer word nie. ’n Spuitprogram wat 100% by die buurman werk, sal nie noodwendig dieselfde effek op jou plaas hê nie. Bestudeer dus etikette van doders wat aanbeveel word. Stel vas watter on­kruide word tans moeilik op die plaas beheer en bevestig dat dit wat voorgeskryf word, wel die gewenste beheer sal gee.

Beproef nuwe benaderings
Voorstelle rakende die beheer van weerstandige onkruid, stuit produsente dikwels teen die bors. Alhoewel daar baie redes hiervoor is, vind ek dat die algemeenste rede is dat daar net na ’n nuwe onkruiddoder gesoek word… daardie silver bullet wat dinge sal regruk sonder enige groot verandering aan bestaande sisteme. Hier­die benadering stel egter net die probleem uit. Neem ’n bietjie tyd om alternatiewe benaderings te oordink, kyk wat sal kan werk op die plaas en stel dit op die proef op daardie stukkie grond waar die onkruid die grootste probleem is.

Vermeerder beheerstrategieë
Probeer om drie of meer beheerstrategieë in te bou in elke jaar se beplanning. Identifiseer die beheerstrategieë (sien hier onder gelys) wat kan pas by die standaardaktiwiteite, -strukture en -sisteme op die plaas en toets dit dan op klein skaal. Navorsing toon inderdaad dat die beste langtermynonkruidbeheer verkry word as daar minstens drie strategieë per seisoen geïmplementeer word.

Beheerstrategie-opsies vir onkruidbeheer

  • Grondbewerking: In haar artikel “Weed control for herbicide resistance” (SA Graan/Grain, September 2018), gee Hestia Nienaber (voormalige LNR-Kleingraan-onkruidkundige) terugvoer oor ’n besoek van ’n groep Australiese navorsers rakende die kopskuiwe wat in Australiese geenbewerkingsgebiede gemaak moes word om weerstandige raaigras te beheer. Omdat skaarploegbewerking (mouldboard plough) maar die beste manier bly om raaigras te beheer, is Australiese produsente besig om weer skoffelbewerkings toe te pas in hulle geenbewer­kingslande. Die geheim is egter dat dit slegs elke vier of selfs agt jaar gedoen word.
  • Wisselbou: Die hoofrede vir wisselbou is om toegang te verkry tot alternatiewe onkruiddoders (HRAC-groepe). Nog ’n belangrike rede is die feit dat elke gewas verskillend met onkruide kompe­teer as gevolg van hulle groeiwyses en die blaredak wat hulle vorm. Sommige gewasse kan sekere onkruide dus beter “onderdruk”.
  • Rywydte: Rywydte kan gebruik word om ’n gewas in staat te stel om ’n beter blaredak te vorm sodat dit moeilik is vir ’n onkruid­saad om in die skaduwee te ontkiem en te groei. Rywydtes moet egter steeds in oorleg met die spesifieke area- en gewasaanbevelings toegepas word.
  • Kultivarkeuse: ’n Kultivar wat goed aangepas is vir die omge­wing waarin dit geplant word, vinnig ontkiem en miskien droogtetolerant is, kan beter met onkruide kompeteer. ’n Hoë-opbrengs­kultivar wat nie goed aangepas is vir die spesifieke gebied nie sal nie noodwendig goed teen ’n onkruid kan kompeteer nie. Sodoende kan die onkruid steeds ’n effek op die kultivar se opbrengs uitoefen.
  • Tussenverbouing en dekgewasse: Die doel van hierdie twee strategieë is om die oop ruimtes tussen die primêre gewas te vul sodat die onkruide se kieming, groei en ontwikkeling onderdruk word. Tussenverbouing word in die seisoen gedoen waar die “vuller” tussen-in die primêre gewas geplant word en dekgewasse word in die tydsverloop tussen primêre gewasse geplant.
  • Tyd van onkruiddodertoediening: Dit is belangrik om onkruiddoders toe te dien as die onkruidplantjies nog klein is. Navor­sing toon byvoorbeeld dat 99% van skraalhanssaad in die herfs ontkiem. ’n Herfsbespuiting op die klein plantjies verleen goeie beheer wat tot ver in die volgende seisoen kan strek (Foto 2). ’n Rotasiesisteem, byvoorbeeld sojabone met mielies, laat toe dat daar elke tweede jaar tyd is vir ’n herfsbespuiting met sojabone wat vroeër as mielies geoes kan word. Rakende ander onkruide wat in die lente ontkiem, moet gepoog word om toedieningstye te beperk tot wat die etikette van die gekose produkte aanbeveel.
  • Voor- versus na-opkomsonkruiddoders: Vooropkomsonkruiddoders word net ná plant toegedien en benodig reën of besproeiing van ongeveer 15 mm binne sewe tot tien dae nadat dit toegedien is om geaktiveer te word. Bitter min onkruidweerstand het al ontwikkel teen vooropkomsdoders. Internasionaal is die gevoel dus dat hierdie tipe doders ’n heelwat groter rol sal begin speel in ’n lewe met weerstandige onkruid. Vooropkomsdoders beheer oorwegend grasse vir ’n periode wat wissel tussen ongeveer drie tot vyf weke (Foto 3), afhangend van heersende weerstoestande. Baie van die produkte kan ook sommige breëblaaronkruide beheer (Foto 4). Raadpleeg dus die etikette van die vooropkomsdoders om vas te stel waar dit moontlik gebruik kan word in gewasverbouing. Na-opkomson­kruiddoders word toegedien wanneer die onkruid (en gewas) reeds opgekom het. Die ideaal is om van beide voor- en na-opkomsdoders gebruik te maak binne dieselfde seisoen.
  • Wissel HRAC-groepe af: Onkruiddoders word gegroepeer volgens hulle “metode van werking” (mode of action). Metode van werking verwys na die proses wat deur ’n spesifieke aktief (on­kruiddoder) in die plant ontwrig word en tot die plant se dood lei. Deur te wissel tussen HRAC-groepe (tussen en binne seisoene), word die plant voortdurend vanuit verskillende “hoeke” aangeval en kry dit nie die geleentheid om aan te pas en weerstandig te word teen een spesifieke aktief nie.
  • Tenkmengsels met verskillende HRAC-groepe: Die gebruik van geregistreerde tenkmengsels bestaande uit twee of meer verskillende HRAC-groepe, word tans beskou as die beste benadering vanuit ’n chemiese oogpunt om weerstandige onkruid te beheer, asook om te keer dat weerstandigheid ontwikkel. Die waarskuwing word egter gerig dat deur net op chemie staat te maak (bestaande uit dieselfde tenkmengsels), die natuur net weer ’n manier sal vind om aan te pas en dat selfs hierdie stra­tegie in die toekoms nie meer sal vrugte afwerp nie.

Kontak dr Craven vir navrae by 018 299 6100.

2. Skraalhansbeheer waargeneem gedurende Oktober 2022 in ’n geenbewerkingsland na ’n herfsbespuiting gedurende April 2022 op ’n glifosaatweerstandige populasie. Die groen bane verteenwoordig die kontrolepersele waar geen doder toegedien is nie.
3. Grasbeheer deur verskeie vooropkomsonkruiddoders (LNR-proewe).
4. Kakiebosbeheer verkry met vooropkomsonkruiddoders (LNR-proewe).