Spreek probleme met kanolasaadkwaliteit tydig aan

1014

February 2019

CORNÉ LOUW, senior ekonoom, Graan SA

In 2018 het produsente verskeie probleme met die kwaliteit van kanolasaad ervaar. Dit is egter vir my aangenaam om te kan rapporteer dat die spesifieke maatskappy sy verantwoordelikheid nagekom het en nie kanolaprodusente in die steek gelaat het nie.

Onder die Plantverbeteringswet word saad se kieming en suiwerheid beskerm. Die minimum ontkiemingsvereistes vir kanola onder die Plantverbeteringswet is 60%. Gesertifiseerde saad se ontkieming moet ten minste 70% wees, maar die meeste maatskappye waarborg tussen 80% en 90% of 90% en 100%.

Uiters belangrik:

  • Uit ervaring moet ons u waarsku dat dit belangrik is dat saad by ’n erkende maatskappy met ’n bewese rekord in Suid-Afrika gekoop word.
  • Dit is altyd beter om ’n kontrole te hê om na te verwys. Probeer om nie net een kultivar aan te plant nie.

As jy vermoed daar is fout met saad, volg hierdie wenke

Indien jy enige probleme met saadkwaliteit vermoed of ervaar, moet jy die volgende stappe doen:

  • Dring by die saadverteenwoordiger op ’n ondersoek ter plaatse aan.
  • Hou rekord van datums en gesprekke.
  • Versamel en stel soveel moontlik inligting op skrif, neem foto’s of maak video-opnames.

Indien die situasie nie opgelos word nie, moenie te lank wag voordat die volgende stappe oorweeg word nie:

  • Tree in verbinding met ’n onafhanklike wetenskaplike om ’n ondersoek ter plaatse te doen.
  • Lede kan Graan SA in kennis stel indien die saadmaatskappy nie die nodige aandag aan die kwessie skenk nie.

Neem die saak met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye op indien dit steeds nie opgelos word nie. ’n Handelskontrole-ondersoek sal ingevolge die Plant­verbeteringswet gedoen word.

Kontakpersone
Kontak die Wes-Kaapse streeksverteenwoordiger, Christo Gouws op Stellenbosch, by 021 809 1709 of by christog@daff.gov.za.

Die departement het ook die volgende wenke:

  • Produsente word aanbeveel om rekord van lot- of kodenommers te hou.
  • Tydens die aankope van saad behoort ’n ontledingsertifikaat van die kwaliteit van die spesifieke saadlot wat deur ’n geregistreerde saadlaboratorium uitgereik is, aangevra te word. Hierdie uitslae behoort nie ouer as drie maande te wees nie.
  • Produsente word ook aangeraai om die fisiese sak en etikette wat aan die sak aangebring is, sowel as die faktuur wat uitgereik is, te bewaar.

Publication: February 2019

Section: Mini-Focus on Canola