Tweekolspinmyte op mielies onder die vergrootglas

1139

January 2019

DR ANNEMIE ERASMUS, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Min produsente besef dat spinmyte algemeen in die laat seisoen in rypwordende mielies voorkom. Omdat die plante se blare in hierdie stadium besig is om van onder af te verbruin, word die teenwoordigheid van die spinmyte nie opgemerk nie. Omdat daar nie oesverliese ter sprake is nie, word dit dus geïgnoreer.

As daar egter droogtetoestande is, is myte geneig om te floreer en probleme is dikwels tot ’n mate aan karige reënval te wyte.

Plantgasheerreeks
Die tweekolspinmyt word wêreldwyd aangetref. Dit is bekend dat hulle meer as 200 gasheerplante het waarop hul kan voed. Hierdie spinmytspesie het die wydste gasheerreeks en is die algemeenste spinmyt ter wêreld. Dit is ’n ekonomies belangrike plaag op baie gasheerplante, maar is bekend om skade aan te rig aan tamaties, komkommer, boontjies, rose, katoen, mielies, sojabone, aarbeie en ornamentele plante.

Beskrywing
Die tweekolspinmyt is ’n mikroskopies klein bruin, strooikleurig of groen, spinnekopagtige spinmyt met vier paar pote. Sy lyf is ovaalvormig en aan weerskante van die lyf is daar twee kolletjies (Foto 1a en Foto 1b). Die kleure van die spinmyte kan varieer as gevolg van temperatuur en die mannetjies is kleiner as die wyfies.

Lewensiklus
‘n Tweekolspinmyt se lewensiklus bestaan uit drie verskillende stadiums: Die eier, nimf en volwasse spinmyt. Die lewensiklus kan binne tien tot 14 dae voltooi word by temperature van 25°C tot 30°C en 45% tot 55% relatiewe humiditeit. Indien temperature hoër is as 30°C kan die ontwikkelingstyd van eier na volwasse afneem na slegs sewe dae.

Die tweekolspinmyt beskik oor arrhenotokous partenogenese: Dit beteken dat bevrugte eiertjies wyfies sal wees en onbevrugte eiertjies mannetjies. Alhoewel mannetjies en wyfies dieselfde aantal ontwikkelingstadiums ondergaan, is mannetjies vir ‘n korter tydperk in elke stadium as wyfies.

Die geslagsverhouding verskil van tyd tot tyd, maar oor die algemeen is die wyfiegetalle altyd meer as die mannetjies s’n. Seisoenale verskille in die geslagsverhouding kan wees as gevolg van wyfies wat “ballonvaren” kan doen. Dit beteken dat hulle op lugstrome kan migreer as omgewingsfaktore ongunstig word, terwyl mannetjies dit nie kan doen nie.

Wyfies lê gemiddeld 38 eiers in totaal, maar kan tot 100 eiers lê in gunstige omgewings. Hulle lewe tussen drie tot vier weke.

Terwyl spinmyte op ’n nuwe plant is waarop daar nog min skade aangerig is, is hulle uniformig versprei en in ’n sittende fase. Soos die blare van die plant begin kwyn en daar ’n afname aan voedingspasie is, sal die spinmyte na hoër blare beweeg. Sou die plant tot so ’n mate beskadig wees dat daar geen voedsel oor is nie, sal spinmyte van die sittende fase in ’n verspreidingsfase oorbeweeg.

Tydens die verspreidingsfase, spin die spinmyte spindrade waarmee hulle dan oor lang afstande deur die lug beweeg (“ballonvaren”). Spinmyte kan ook versprei deur te “ryloop” deur op ander organismes te klim en op só ’n manier per ongeluk versprei word.

Die reproduksie van die wyfiespinmyt neem toe soos wat die plant waarop gevoed word, kwyn. Wyfies wat versprei oor die plant of na ander plante skuif, beweeg gewoonlik na die blaarare en begin om ’n web te produseer. Eiertjies word gedeponeer onder die web en nimfontwikkeling vind daar plaas.

Hierdie web vorm die grens van die kolonie en soos die kolonie groei, word die web groter gemaak. Die web dien ook as ’n habitat waar die spinmyte beskerm word teen reën, wind en predatore (Foto 2). Indien hierdie web baie dig gespin is, kan dit spinmyte teen plaagdodertoedienings beskerm.

Spinmyte begin oorwinter as temperature afneem en die daglengtes korter word. Wyfies of eiers is die algemene stadium waarin spinmyte kan oorwinter. Tydens hierdie oorwinterende fase word daar nie gevoed of eiers gelê nie, maar vind die spinmyte skuiling tussen boombas, grondkluite en afvalblaarmateriaal.

Die oorwinterstadium kom tot ’n einde sodra die daglengtes langer word en die temperature begin styg. Lae humiditeit kan voordelig wees vir reproduksie.

Skadesimptome
Tweekolspinmyte voed aan die onderkant van die blare en het steek- en suigende monddele waarmee sap gesuig word. Hierdie suigaksie veroorsaak klein kolletjies op die blare wat wit of grys verkleur waar die blaar gesteek is.

Die spinmyte suig plantsap en in die proses word die epidermisselle van die blare sodanig beskadig dat die plant uitermatig vog verloor. Die effek is dus soortgelyk aan dié van droogtetoestande en as ’n bepaalde omgewing droogte ondervind, kan ernstige verliese binne een week aangerig word.

Ontblaring, verbruining van blare en selfs die dood van ’n plant kan die gevolg van spinmytskade wees. Voeding geskied eers op die onderste blare, maar kan later na hoër plantdele beweeg.

Beheer
Spinmyte is een van die moeilikste plae om te beheer. Slegs die gebruik van beperkte produkte gee voldoende beheer. Dit is belangrik dat tydens toediening van plaagdoder die doder só toegedien moet word dat daar voldoende oppervlakte bedek word, veral die oppervlak onder die blaar. Die spinmyte is onder die blare en skuil ook tussen die web wat beheer bemoeilik.

Dit is belangrik om seker te maak dat die doder op die regte plek toegedien word asook teen die regte druk om klein druppels te vorm wat die teikenareas effektief sal bereik. Die eiertjies word nie deur die plaagdoders beheer nie, wat ’n opvolgbespuiting soms nodig maak.

Die uitbraak van spinmyte kan soms vererger. Dit gebeur wanneer piretroïde teen laat besmetting van stamboorders toegedien word, veral as dit onder spilpuntbesproeiing is waar die totale oppervlakte behandel word en nie net op die ry toegedien word nie. Piretroïde beheer nie die spinmyte nie, maar vernietig hulle natuurlike vyande. Omdat die spinmyte vinnig aanteel, lei dit dan tot bevolkingsontploffings. Produkte wat geregistreer is teen spinmyte op mielies word in Tabel 1 gelys.

Die plant is vanselfsprekend besonder vatbaar tydens die periode wanneer die pitte gevul word. ’n Drumpelwaarde vir die chemiese beheer bestaan ongelukkig nie. As die pitte egter begin induik of naby dié stadium is, is dit waarskynlik nie die koste werd om te beheer nie. Op vroeër stadiums is beheermaatreëls noodsaaklik.

Spinmyte ontwikkel maklik weerstand teen plaagdoders en daarom is dit baie belangrik om verskillende doders te gebruik. ’n Paar eksterne faktore kan ook ’n rol speel om die gewas meer vatbaar te maak vir spinmytskade. Dit sluit in die oormatige toediening van stikstof, plante wat naby stowwerige plekke soos ’n grondpad groei en plante wat onder stres verkeer as gevolg van lae vog en hoë temperature.

Onkruidbeheer is ook belangrik aangesien sommige onkruidspesies alternatiewe voedselbronne vir spinmyte kan wees. ’n Belangrike manier van infestasie is deur die beweging van mense, diere en implemente. Die beweging tussen besmette landerye en onbesmette lande moet liefs vermy word. Deur hierdie faktore te probeer beheer, kan spinmytgetalle afneem.

Dit is van belang om mielielande voortdurend te ondersoek vir tekens van spinmytprobleme. Onthou om veral aan die onderkant van blare te kyk. Tree vroegtydig op voordat spinmytpopulasies onbeheerbaar raak.

Verdere leesstof
Brits, J. 2016. Tweekolspinmyt op mielies – veral probleem in Noordwes Provinsie en Noord-Vrystaat. SA Graan/Grain Mei 2016 p 38 – 39.

Publication: January 2019

Section: On farm level