’n Lewe van oorwinning is JOU keuse

1454

January 2019

MARIETJIE DU TOIT, hoof: Mesites Christen Akademie

Trauma en stres is ’n realiteit in ons alledaagse lewe. Is daar dan enige hoop op ’n lewe van vrede en vryheid? Word my gedrag en lewe bepaal deur omstandighede buite my beheer en is ek net ’n pion van my situasie?

Ek wil onomwonde vir jou sê dat jy nie net ’n pion van omstandighede is nie. Jy is geskape met ’n opdrag wat in jou DNS ingeweef is: Om te heers en nie om beheer te word nie. Met ander woorde, jy het die vermoë om te heers oor die effek van omstandighede op jou lewe.

Dit mag vir jou soos ’n wollerige gedagte klink en dalk wil jy nou vir my sê: “Word wakker en sien die realiteit om jou.”

Kom ek verduidelik dit soos volg: Ek en jy is geskape met ’n liggaam, ’n siel (denke, wil en emosies) en ’n gees. Die blootstelling aan bedreigende omstandighede word deur die sintuie (liggaam) waargeneem. ’n Sekere interpretasie word daaraan gegee deur middel van prosesse wat in jou onbewuste plaasvind.

Hierdie prosesse vorm jou denke ten opsigte van die gebeure en die denke aktiveer jou brein, wat weer op sy beurt jou liggaam in staat stel om tot die veg-, vlug- of vries-aksie oor te gaan. Emosies soos aggressie is onmiddellik beskikbaar. Dit stel ’n persoon in staat om te kan veg of vlug. Die probleem is egter dat jy nie noodwendig kán veg of vlug nie en gevoelens van magteloosheid en hopeloosheid word dan ervaar.

Hierdie gevoel van magteloosheid kan jou laat voel dat jy slegs ‘n pion van jou omstandighede is, want hoe veg of vlug jy teen droogtes, politieke besluite en ekstreme weersomstandighede?

Jou interpretasie daarvan
Ek hoop om met hierdie verduideliking vir jou ’n antwoord te gee. Kom ons neem net ’n paar tree terug en kyk weer na die proses:

Iets gebeur (A) → ons gee ’n interpretasie daaraan (B) → en dit het ’n resultaat (C). 

Die gebeure (A) is buite ’n persoon se beheer. Die resultate (C) is die gevolg van die interpretasie (B) van die gebeure. Indien positiewe resultate verlang word, moet die interpretasie positief wees. Die enigste plek waar ’n persoon, ten opsigte van die resultate, beheer kan neem, is om die interpretasie wat jy aan die gebeure gee, te beheer. Dit beteken dat jy deur middel van jou denkpatrone, wat onder andere deur jou lewensbeskouinge gevorm word, wel ’n invloed kan uitoefen op die effek van gebeure op jou lewe.

Iets buite jouself het dus nie beheer oor jou lewe nie, maar jy kan self ’n groot bepalende effek op jou lewe uitoefen deur die korrekte denkpatrone en lewensbeskouinge.

Lokus van beheer
Korrekte denke en lewensbeskouinge hou direk verband met ’n persoon se lokus van beheer. Indien ’n persoon se lokus van beheer ekstern is, sal omstandighede en wat ’n persoon doen, bepaal wie die persoon is – met ander woorde die persoon vind sy identiteit in dinge om hom/haar.

’n Interne lokus van beheer, is wanneer die persoon sy identiteit vind in wie hy/sy is en nie in wat gedoen of besit word óf wat ander van die persoon dink nie.

Indien jou identiteit deur eksterne faktore bepaal word, word jy beheer deur die omstandighede in die wêreld. As jou identiteit kom van wie jy is, word jou lewe intern beheer deur onder ander jou lewensbeskouinge wat diep gewortel is in jou geesdimensie.

Ek wil dit vanuit my eie verwysingsraamwerk soos volg met jou deel: Indien jy ’n kind van die Here is, lê jou identiteit in wie jy in Jesus Christus is. Die Heilige Gees binne in jou rig onder andere jou wil, denkpatrone, emosies en gedrag. Dit stel jou in staat om na situasies te kyk vanuit die wysheid en insig wat die Heilige Gees jou gee. Indien jou identiteit deur omstandighede in die wêreld bepaal word, word jou denke, emosies en gedrag deur die wêreld bepaal.

Dit laat my tot die gevolgtrekking kom dat alhoewel ons nie beheer oor omstandighede het nie, ons wel beheer oor die effek daarvan het, afhangende van wie jy in beheer van jou lewe geplaas het – die wêreld óf die Here.

Nie ’n pion van omstandighede nie
Ek wil graag vandag vir jou bemoedig deur te sê dat jy nie ’n pion van omstandighede is nie; jy is geskape om te heers (Genesis 1:24 – 31). Dit is in jou DNS ingeweef deur die hand van jou Skepper. In sy hande en onder sy beheer is jy veilig en het jy die reg ontvang om te heers.

Moenie die beheer van jou lewe aan die wêreld oorgee nie, want dan sal jy soos ’n brander wees wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word (Jakobus 1:6). Die waarheid is jou anker deur alle storms heen en kan jy as oorwinnaar staan. Jou Skepper het jou geskape met ’n vermoë om na gees, siel en liggaam vry en in vrede te lewe, bewerkstellig deur Jesus Christus en geanker in sy Woord, genade en waarheid.

Publication: January 2019

Section: Relevant