Grense

Published: 3 May 2022

837

Beste Grootneef

Die dae gly verby op pad na ’22 se halfjaarmerkie. Korter dae en kouer nagte vertel van die midwinter wat op pad is.

Ou Neef, soms kom jy by plekke waar jy jou wydsbeen oor fisiese grense kan tuismaak. Soos Kaap Agulhas. Daar kan jy met die een voet in die Indiese Oseaan staan terwyl die koue Atlantiese Oseaan die ander voet kielie. Net so wanneer jy die Steenbokskeerkring oorsteek. Daar kan jy met een tree in die noorde of suide van die sonkring wees. Nog ’n grens sonder perke is Union’s End in die noordste van ons Kalahari. Daar kan jy op die presiese kolletjie waar Botswana, Namibië en die Republiek byeenkom, jou hak inslaan om in al vier windrigtings te kyk. Met net die Kalahari-leeus wat die strate tussen die duine patrolleer.

Een van die mees unieke grense waaroor ons wydsbeen kon gaan staan, was op ’n verlate agterpaadjie tussen Oostenryk en die Tsjeggiese Republiek. Die pad het deur klein dorpies en oor heuwels met wingerde gekronkel. By die grens tussen die twee lande was daar bloot ’n streep oor die pad met ’n verlate wag­toring en ’n kennisgewing wat reisigers meedeel dat hulle ’n internasionale grens oorsteek.

Dié kronkelpaadjie het ons tot in ’n klein dorpie onder in die vallei geneem. ’n Wynkelder met ’n reusehoutdeur het op ons gewag. Voor die deur was enkele vate. Ons het ingeloer en ’n paar vreemdelinge voor ’n kaggelvuur sien staan. Ons is binne­genooi en is dadelik omring met ’n gemoedelikheid wat oor taal­grense gestrek het.

Eers moes ons op ’n wêreldkaart wys waar die Republiek inpas. Met die uitwys van die suidelikste deel van Afrika as tuiste, het die keldermeester terstond twee glase met rooiwyn vol geskink en werkers in die kelder nader geroep sodat ons op mekaar se geluk ’n glasie kon klink. In vino veritas. Geen tolk was nodig om dié besondere middag van gemeensaamheid met goeie wyn voor ’n kaggelvuur te vertaal nie. Ons het welkom en tuis in die vreemde gevoel.

Ons is laat die middag verder, met heelparty van die vreemde kelder se vrug van die wingerd op die agtersitplek. Ons is deur die vallei, teen ’n pas uit, verby sluimerende dorpies met mis wat van die bergtoppe gerol het en donker woude tot teen­aan die pad. Die platteland het mettertyd plek gemaak vir harde ny­werheidsgebiede, met uitgestrekte laaisones en eindelose treintrokke.

Naby die stadskern van ons bestemming was ’n besondere katedraal. Ons wou bene rek en het na binne gestap. Die aanwysings was totaal vreemd op die oor, maar ons het die nodige toegangs­kaartjies in krone gekoop. Die omvang van die bouwerk uit die Middeleeue het van uitnemende vakmanskap getuig. Van die klippe het so dig op mekaar gepas dat jy nie ’n vingernael tussen die twee kon indruk nie. Die vloer was kunstig met marmer gepak, in vorms wat ’n mens eenvoudig verstom het.

Ou Neef, met die deurstap was daar egter geen gewyde atmosfeer nie. Die katedraal is na die kommunistiese oorname in die Tweede Wêreld­oorlog bloot as ’n museum gebruik. Eredienste was lank taboe, met ’n generasie wat grootgeword het sonder aanbidding. Drie geslagte later was die katedraal bloot ’n dop wat gespog het met uitnemende bouwerk, maar sonder ’n gemeente. Ten spyte van die ontneming van ’n plek van aanbidding was daar egter steeds aktiewe Christene in die ou stad.

Op pad na die volgende bestemming, met die katedraal wat kleiner in die truspieël geraak het, het ek meteens verstaan – ’n kerk het nie ’n grens nie en dit gaan nie oor ’n plek nie. Want dit is in jou hart.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.