Voorneme om te plant en nuwe seisoen-voorraad

1167

December 2018

In die somergraanmark is daar verskeie faktore wat ’n groot rol in plaaslike prysvorming speel. Hierdie faktore sluit internasionale pryse, die wisselkoers, die plaaslike produksie-omstandighede en voorraadvlakke in.

Met die aanvang van die nuwe somergraanproduksieseisoen is dit essensieel dat produsente dié faktore in ag neem wanneer hulle hul beplanning vir die nuwe seisoen doen. Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) het aan die einde van Oktober die voorneme om te plant-verslag bekend gemaak.

Volgens die verslag is die beplande mielie-oppervlakte vir die seisoen 5,6% meer as die vorige seisoen se oppervlakte, terwyl die sojaboonoppervlakte na verwagting 8,2% hoër as die vorige seisoen se oppervlakte sal wees. Die sonneblomsaadoppervlakte vir die seisoen blyk 4,45% laer te wees as die vorige seisoen.

Vraag-en-aanbodscenario’s
Tabel 1
 tot Tabel 3 toon die verkorte vraag-en-aanbodscenario’s wat moontlik die komende seisoen gesien kan word, gegewe die huidige voorneme om te plant en aannames vir moontlike opbrengssituasies.


Die vraag-en-aanbodscenario’s is saamgestel vir die drie grootste somergrane, naamlik mielies, sojabone en sonneblomsaad en die volgende aannames is gemaak met die opstel van die scenario’s:
Verbruik = ±drie jaar-gemiddeld

Opbrengste gebruik in die scenario’s:
Scenario 1: Laagste opbrengs oor die afgelope vyf jaar
Scenario 2: Gemiddelde opbrengs oor die afgelope vyf jaar
Scenario 3: Rekordopbrengs

Tabel 1 illustreer die vraag-en-aanbod­moontlikhede van mielies vir die 2019/2020-seisoen, gegewe die bostaande aannames. Uit Tabel 1 kan ons aflei dat sou die gemiddelde scenario dié seisoen realiseer (Scenario 2) ’n uitvoerbare surplus van ongeveer 2,8 miljoen ton mielies in die 2019/2020-seisoen moontlik behoort te wees.

Die plaaslike markprys behoort dan weer eens redelik naby aan uitvoerpariteit te wees – soos wat ons die afgelope twee seisoene gesien het. Ingeval die rekordscenario dié seisoen ’n werklikheid word, kan die moontlike uitvoerbare surplus vir die seisoen tot oor die 6 miljoen ton wees, sou daar nie groot veranderinge in die binnelandse verbruik plaasvind nie.

Indien Scenario 1, wat die laagste opbrengs die afgelope vyf jaar is, die seisoen realiseer, is dit ’n gegewe dat daar slegs ’n uitvoerbare surplus van ongeveer 304 000 ton behoort te wees. Ingeval só situasie hom in die komende seisoen uitspeel, sal Suid-Afrika hierdie seisoen weer genoodsaak wees om mielies in te voer.

Tabel 2 en Tabel 3 wys die moontlike vraag-en-aanbodscenario’s vir sojabone en sonneblomme onderskeidelik. Tabel 2 illustreer dat groot hoeveelhede sojabone tans beskikbaar is. Daarvolgens is die verwagte oordragvoorraad vir die 2018/2019-seisoen ongeveer 600 000 ton. Dit verteenwoordig ongeveer 50% van die plaaslike verbruik.

As die totale oppervlakte van 851 800 ha hierdie seisoen aangeplant word en Scenario 1 realiseer, behoort die eindvoorraad vir die 2019/2020-seisoen ongeveer 613 000 ton te wees – mits daar nie groot veranderinge in die binnelandse verbruik plaasvind nie. Ingeval die gemiddelde scenario ’n werklikheid word en daar nie drastiese toename in die plaaslike verbruik van sojabone is nie, kan die eindvoorraad op 919 000 ton te staan kom.

’n Rekordscenario sal veroorsaak dat die plaaslike eindvoorraad vir die seisoen ongeveer 1,3 miljoen ton sal wees. Sou die totale geskatte oppervlakte aangeplant word, sal dit, tesame met die groot oordragvoorraad van die huidige seisoen, weer meer as genoeg sojabone beskikbaar maak. Die plaaslike verbruik sal in die komende seisoen drasties moet verhoog of meer uitvoere sal in die seisoen moet plaasvind ten einde van die groot plaaslike sojaboonvoorrade ontslae te raak.

Plaaslike sonneblomsaadvoorrade is volgens Tabel 3 aansienlik laer as dié van sojabone en die verwagte eindvoorraad vir die huidige seisoen word op slegs 78 600 ton geskat. Die huidige seisoen se lae oordragvoorraad, tesame met die lae aanplantings vir die nuwe seisoen, sal veroorsaak dat die plaaslike sonneblomsaadvoorraad in die komende seisoen ook beperk sal wees.

Sou die oppervlakte van 575 000 ha aangeplant word en ’n rekordopbrengs (1,54 t/ha) verkry word, sal die plaaslike voorraad genoegsaam vir die gemiddelde plaaslike verbruik wees. Indien ’n gemiddelde opbrengs of ondergemiddelde opbrengs die seisoen teen die huidige geskatte oppervlakte verkry word, sal die plaaslike voorraad laer as die gemiddelde verbruik wees. Daar sal dan ’n plaaslike tekort van sonneblomsaad sal wees.

Ten slotte
In dié artikel is die berekeninge vir die nuwe seisoen na aanleiding van die NOK se voorneme om te plant-verslag wat einde Oktober bekend gemaak is, gedoen. Dit is slegs ’n aanduiding van wat moontlik in terme van voorraadvlakke verwag kan word, gegewe die verskillende scenario’s.

Daar is wel ’n legio ander faktore wat steeds ’n bydrae kan lewer soos die seisoen vorder. Die werklike oppervlakte wat in die komende seisoen aangeplant sal word, is een van die groot aspekte wat ’n effek daarop sal hê. Produksie-om­standighede gedurende die res van die plantseisoen en produksieseisoen sal ook ’n deurslaggewende rol in die plaaslike markpryse speel.

Dit is belangrik dat produsente deur die loop van die seisoen die verskillende aspekte dophou en deurlopend bemarkingsbesluite neem ten einde te verseker dat hulle vir prysrisikobestuursdoeleindes van goeie bemarkingsgeleenthede in die mark gebruik maak.

Publication: December 2018

Section: On farm level