Heffing om telers te vergoed

1018

December 2018

LEON DU PLESSIS, L&L Landboudienste

Die statutêre heffing wat deur die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye op koring en gars, met ingang van 1 Oktober 2016 ingestel is, is onlangs deur die Minister na 30 September 2020 verleng. Die doel van dié heffing is om telers van koring- en garskultivars te ondersteun.

Daar is deur die bedryf aansoek gedoen vir die voortsetting van hierdie heffing vir ’n verdere periode van twee jaar, asook om ’n heffing op hawer in te sluit. Die Nasionale Landboubemarkingsraad het die versoek vir die voortsetting van die heffings by die Minister aanbeveel en dit is op 28 September 2018 in die Staatskoerant gepubliseer.

Die belangrikste besonderhede van die heffing en heffingstariewe is soos volg:

Omstandighede waaronder die voorgestelde heffing betaalbaar sal wees
Hierdie heffing sal van toepassing wees op koring, gars en hawer wat in Suid-Afrika geproduseer is en:

A. Wat deur of namens die produsent daarvan verkoop word;
B. wat deur of ten behoewe van die produsent daarvan verwerk of omgeskakel word tot ‘n koring-, gars-, of hawerproduk indien die
verwerkte produkte bestem is om van die hand gesit te word;
C. ten opsigte waarvan ‘n silosertifikaat uitgereik is, indien die heffing ten opsigte van sodanige graan nog nie in terme
van paragraaf A of B hierbo betaal is nie; en
D. wat uitgevoer word uit Suid-Afrika, indien die heffing ten opsigte van sodanige graan nog nie ingevolge paragraaf A, B of C betaal
is nie.

Onder alle omstandighede soos hierbo genoem, sal die heffing betaalbaar wees. Dit sal ook van toepassing wees op soanige handelinge met die koring, gars en hawer, ongeag die graad daarvan of die doel waarvoor dit aangewend word.

Persone deur wie die heffing betaalbaar sal wees
In terme van die regulasie sal die heffing deur die volgende persone betaalbaar wees:

  • Deur die koper van die koring, gars en hawer in die geval van paragraaf A hierbo;
  • deur die verwerker of omskakelaar van die koring, gars en hawer in die geval van paragraaf B hierbo;
  • In die geval van paragraaf C hierbo deur die uitreiker van die silosertifikaat;
  • deur die uitvoerder van die koring, gars en hawer in die geval van paragraaf D.

Bedrag van die heffing
Die bedrag van die heffing vir koring, gars en hawer is R30/metrieke ton (BTW uitgesluit) vir die twee jaar-tydperk tot 30 September 2020.

Verhaling van heffing
In terme van die voorgestelde regulasie kan die heffing deur die koper van die koring, gars en hawer, in die geval van paragraaf A, van die koopprys wat aan die produsent betaal word, afgetrek word.

Die heffing wat betaalbaar is deur die verwerker of omskakelaar van koring, gars en hawer, in die geval van paragraaf B, kan van die produsent van sodanige graan verhaal word.

Die heffing wat betaalbaar is deur die uitreiker van ’n silosertifikaat ten opsigte van koring, gars en hawer, in die geval van paragraaf C, kan verhaal word van die persoon aan wie sodanige silosertifikaat uitgereik word.

In die geval van paragraaf D sal die uitvoerder van die koring, gars en hawer aanspreeklik wees vir die betaling van die heffing.

Betaling van heffing
In terme van die regulasie sal die heffing betaalbaar wees nie later nie as die laaste dag van die maand wat volg op die maand waarin die graan verkoop, verwerk of omgeskakel, uitgevoer of ’n silosertifikaat daarvoor uitgereik is.

Betaling van die heffing moet gedoen word aan:
SA Cultivar and Technology Agency NPC (SACTA)
Posbus 74626
Lynnwood Ridge
0040

Inligting wat verskaf moet word
Alle geaffekteerde partye word versoek om die telers wie se variëteite van produsente aangekoop, of namens produsente verwerk of omgeskakel word, of ten opsigte waarvan ’n silosertifikaat uitgereik is, te identifiseer, onder andere by wyse van verklarings van die produsente betrokke of deur die fisiese identifisering van variëteite.

Die doel met sodanige identifisering van variëteite is om die betrokkenheid van die verskillende telers van koring-, gars-, en hawervariëteite in die mark te bepaal en sodoende die telers pro rata volgens hul onderskeie markaandele uit die heffingsfondse wat gevorder word, te vergoed.

Dit sal as stimulering dien vir die bekendstelling van nuwe telingstegnologie in die land ten einde produktiwiteit in die wintergraanbedryf te verbeter.

Navrae
Navrae kan gerig word aan L&L Land­boudienste, die administrateurs van SACTA, by 012 807 3958 of direk aan die senior heffingsinspekteur, mnr Awie Coetzee, by 082 818 9620 of awie@llagric.co.za.

Publication: December 2018

Section: Relevant