November 2017


Beste Grootneef

“Op elke veiling is daar ‘n bok vir ‘n bargain en dan moet jy toeslaan,” was ou oom Albie se vroegoggend wenk by die veilingskrale. Só is ons van kraal tot kraal met oom Albie wat sommer so in die gesels die fynere kunsies van boerbokboerdery gedeel het. Van die ooitjies se slanke nekke tot die horings wat in lyn met die voorkop moet wees. Al die bokke was blinkvet uitgespaar en gekam vir die veiling.

Met die deurstap van die kraaltjies, loop ‘n bokkapater die tralies storm dat die hele stellasie dril. Almal was winduit geskrik. ‘n Bok bly maar ‘n blikskottel. Met die katalogus uitgemerk het die kopers hul sit op die pawiljoentjie om die arena gekry. Almal in afwagting op die afslaer se klok. Na die terme en voorwaardes luister niemand nie, maar wurg dit af – tot by die kommissie en BTW. En toe trek die afslaer weg met die eerste hok soos die All Blacks net na die haka. Die afslaer is ‘n spoedvraat wat happe van R100e uit die kopers se sakke vat. Met ‘n flinke kombinasie van dreigemente oor verlore kanse en geleenthede vir die koop van die dag, laat die afslaer almal aan sy lippe hang. Kort-kort gee hy die podium ʼn kloppie met sy hamertjie om seker te maak almal is by – en dan laat vat hy weer met bieërs voor of agter in die saal. Hy vat kleintjies ook met R25e, om die laaste twee kopers teen mekaar af te speel. Na ʼn fair warning klap die hamer finaal vir die bod wat toegeslaan word!

Hier en daar trek ‘n uitstaande dier die aandag en dan sit die afslaer oor in nóg ‘n hoër rat wat almal laat regop sit, of jy nou bie of nie. Met een of twee hokke haak die openingsbod vas en dan word die vloer uitgelok met ‘n dalende prys: “R2 000, R1 500, R1 000?! Enige bod?” As almal afkyk of wegkyk, laat wiel die afslaer met ‘n: “Jaag uit, jaag uit, julle moet maar na die tyd met die baas kom praat. ”En so kom ons toe by hok nommer 24: Die befoeterde bokkapater in al sy glorie. Met die intrapslag skraap hy die handlanger dat dié skoon teen die tralies uithardloop! Die afslaer delf diep en begin die bod op
‘n: “R3 000, R2 000, R1 000, R500?!” Almal kyk dak toe of lees die katalogus. Ek kry die bok jammer wat so sonder ‘n bod bly staan en waai vir die afslaer net om die spul aan die gang te kry. Die afslaer reageer so vinnig soos ‘n geelslang met ‘n “Doodskoot, R500, bod toegeslaan!” Alles in een asem. Die oom langs my lag kliphard vir my aankoop.

Daar sit ek toe met die kapater wat vir almal mik wat hom uit die arena wil jaag. Ou Neef, die eintlike moeilikheid het gekom met die bok se tydelike verblyf. Geen kampie was dig genoeg om die bok vir ‘n eerste aand op hok te hou nie. Vandaar die blink gedagte om die kapater in die opwaskamer langs die kombuis te bêre – met die edele bedoeling om hom die volgende oggend tussen die kalwers te laat los. Nou ja, partykeer neem die lewe sy eie verloop. Niemand het beplan dat Vroulief teen skemeraand iets in die opwaskamertjie gaan soek het nie. Óf dat die bok vir haar sou voetestamp en blêr nie. Toe Vroulief en die huiskat by my kom, was altwee se rûe stokstyf en krom, met naels uit; ou Neef, naels uit! Ou koeie van ‘n wittebrood in ‘n rondawel by Maselspoort is ook weer opgegrawe.

Die oomblik is egter finaal bederf toe Vroulief wou weet oor die kapater se stank in haar opwaskamer en ek haar wou gerusstel dat die bok dit sou gewoond raak. En dis hoekom ek in die opwaskamer moes oornag. Die bok (intussen gedoop Frank) onder die stryktafel en ek bo-op vir die nag – altwee aan’t herkou oor die dag se gebeure. Ou Neef, hier’s die les: As die afslaer ‘n openingsbod laat sak, lees jou katalogus.

Groete op die Oosgrens!
Kleinneef

Publication: November 2017

Section: Features