November 2018
PROF CHRIS S DANNHAUSER, emeritus professor, Weidingkunde
Die gebruik van weidingsgewasse as dekgewasse in bewaringslandbou word in drie dele aangebied. Hierdie is die tweede deel, waarin eenjarige somergewasse bespreek word.
Watter eenjarige somergrasse kan gebruik word?
Tef word slegs as hooi verbou – wat dit dan as dekgewas gewild maak vir diegene wat nie lewende hawe het nie, maar hooi produseer. Dit het geen besondere voorkeure wat grondsoorte betref nie. Die gras kan onder droëlandtoestande in gebiede met ’n reënval van so laag soos 400 mm per jaar aangeplant word. Die mees aanvaarbare produksiesyfers word egter in gebiede met ’n reënval van 600 mm per jaar en hoër verkry. Dit word ook dikwels in mengsels met oulandsgras geplant.
Die jaarlikse produksie van tef (soos ander grasse ook) word deur grond, klimaat, bemesting en bestuur bepaal. Onder droëlandtoestande kan 5 t/ha tot 8 t/ha verwag word en onder besproeiing 7 t/ha tot 12 t/ha.
Basterbabala (Foto 1) se reënvalbehoefte is 450+ mm per jaar en dit doen goed op sand- tot kleigrond, maar versuipgronde moet vermy word. Dit is aanvanklik ’n vinnig groeiende weiding met goeie hergroeivermoë, asook een van die beste eenjarige groenweidings as dit vroeg geplant word. Dit het geen blousuur nie – ’n ideale bees-, skaap-, bok- en perdeweiding.
Plant na 15 Oktober tot Desember. Grondtemperatuur moet verkieslik bo 18˚C wees tydens plant. Indien die gewas te laat geplant word, vorm dit gou stingels. Hergroei is stadiger na Februarie – plant so gou as wat temperature dit toelaat (hoër as 18˚C). Dit kan 40 dae na plant begin bewei word (30 cm – 50 cm-hoogte) en hergroei kan na drie tot vier weke weer gewei word.
Die uitstaande voordele van basterbabala is sy gebrek aan blousuur (dus veilig vir alle weidende diere). Die uitgebreide wortelstelsel maak dit droogtebestand, bevorder hersirkulering van plantvoedingstowwe en voorsien volop organiese materiaal aan die grond.
Die produksiepotensiaal van basterbabala wissel tussen 7 t/ha en 12 t/ha – indien dit in November geplant is en gereeld op weihoogte (50 cm – 70 cm hoog) ontblaar word. Dit produseer ongeveer 7 t/ha as dit in Januarie geplant word.
Voersorghum (Foto 2) is in verskillende kultivars beskikbaar – spesifiek vir hooi, weiding en kuilvoer. Dit is ’n bekende en goeie eenjarige weidingsgewas wat beeste op 70 cm tot 100 cm en skape op 50 cm kan begin wei. Dit is ook ’n goeie hooigewas as dit gesny word voordat dit dik stingels vorm (50 cm – 70 cm hoogte). Verder is dit ook ’n uitstekende kuilvoergewas (die soetsorghumkruisings) en goeie staande hooi (brown mid rib [BMR]-tipes).
Plant in Oktober tot Desember vir maksimum gebruik. Drie tot vier snysels of weidingsiklusse is moontlik. BMR-kultivars kan een of twee keer gewei word en dan uitgegroei word vir staande hooi in Junie/Julie.
Produksie word grootliks deur klimaat en die stadium van benutting bepaal. Indien dit elke ses weke gesny of bewei word, wissel produksie tussen 7 t/ha en 10 t/ha. Gereelde benutting op weihoogte (50 cm – 70 cm) lewer 8 t/ha tot 12 t/ha en kan een tot drie grootvee-eenhede (GVE) per hektaar vir 100 dae dra.
Eenmalige sny van kuilvoer lewer 13 t/ha tot 22 t/ha.
Onthou altyd om die regte kultivars vir die spesifieke gebruik aan te plant:
- Oor die algemeen vir beweiding: Sudan- x Sudangraskruisings, graansorghum x Sudangraskruisings.
- Vir hooi: Graansorghum x Sudangraskruisings en BMR-sorghum x Sudangraskruisings.
- Vir staande hooi: Soetsorghum x soetsorghum en BMR-sorghum x Sudangraskruisings.
- Vir kuilvoer: BMR-sorghum x soetsorghum, BMR-sorghum x Sudangras en graansorghum x soetsorghumkruisings.
Dikwels word gevra: Wat moet ek gebruik: Basterbabala of voersorghum?
Die volgende kan met die besluit help:
- Basterbabala het ’n uitgebreide wortelstelsel. Dit is dus droogtebestand en het volop organiese materiaal, dit onderdruk nematodes (aalwurm) en het geen blousuur nie.
- Voersorghum gee hoër produksie en daar is ’n groter verskeidenheid kultivars – spesifiek vir weiding, hooi, staande hooi en kuilvoer.
In Tabel 1 word die droëmateriaalproduksies van voersorghum en basterbabala, asook mengsels van die grasse en peulgewasse as weiding, sowel as proteïenwaardes verskaf. In Tabel 2 word die voedingswaardes van verskillende mengsels van voersorghum en sojabone, as kuilvoer, aangedui.
Eenjarige somerpeulgewasse
’n Verskeidenheid somerpeulgewasse kan gebruik word, waarvan die volgende die mees bekende is en die meeste oor tyd getoets is: Akkerbone, sojabone, Dolichos en sunnhemp (Foto 3).
Algemene inligting, wat vir al hierdie peulgewasse geld, is:
- Hulle vestig maklik.
- Dit benodig 35 mg/kg P in die grond en ’n pH van 7.
- Die saad moet geënt word.
- Alle peulgewasse verskaf N aan die grond.
- Dit verskaf ook organiese materiaal.
- Dit bied ’n gebalanseerde voer.
- Kan gewei, van hooi gemaak en ingekuil word.
- Opblaas kan voorkom, maar met goeie bestuur is dit minimaal.
Genoemde peulgewasse kan ook met eenjarige grasse gemeng word om ’n gebalanseerde weiding, met ’n hoë proteïeninhoud, te verskaf (Foto 4). Navorsing wat in Limpopo met eenjarige somergrasse en peulgewasse in mengsels gedoen is, se resultate is in Tabel 1 aangebring.
Die kombinasies van voersorghum en die twee peulgewasse het hoër produksie gelewer en die proteïeninhoud in alle behandelings was voldoende om die kondisie van diere in stand te hou.
’n Kombinasie van voersorghum (cv. Hygrograze)- en sojaboon (cv. Octa)-kuilvoer is ook getoets. Verskillende kombinasies van die twee kultivars is gebruik en die resultate word in Tabel 2 aangedui.
Die resultate toon dat 50% en meer peulgewasmateriaal in die kuilvoer hoër proteïeninhoud en laer veselinhoud tot gevolg gehad het – daarom beter kwaliteit kuilvoer. Sunnhemp is nie ’n smaaklike weidingsgewas nie, maar word wel gebruik om as groen bemesting plat gerol te word en het goeie resultate saam met voersorghum as kuilvoer gelewer.
Ter afsluiting
Indien eenjarige somerweidingsgewasse op dieselfde land as mielies geplant word, kan dit elke alternatiewe jaar gedoen word: Een jaar mielies en een jaar dekgewasse. Dan is dit ’n rusoes wat organiese materiaal, stikstof en koolstof vir die daaropvolgende somer se mielieoes in die grond terugplaas.
Vir meer inligting kontak die outeur by 082 873 4736 of chriswei@vodamail.co.za.
Publication: November 2018
Section: Spotlight on cover crops