November 2018

LOUISE KUNZ, SA Graan/Grain redaksiespan en HELENUS KRUGER (foto)

In Prediker 4 lees ons dat twee beter is as een, omdat hulle saam meer in hul werk bereik. Mnre Johan en Dirkie van As is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Dié twee broers is op Vrydag, 12 Oktober, as die wenners van die 2018 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar aangewys.

Johan het vanaf 1985 tot 1993 saam met hul pa, Albertus, geboer. Dirkie het in 1994 by die boerdery aangesluit en Van As Broers (Eiendoms) Beperk is as handeldrywende maatskappy gestig. Sedertdien is hulle daaraan gewoond om na hulself as “ons” eerder as “ek” te verwys.

Die twee broers het ’n perfeksionistiese benadering tot boerdery en elkeen word in ’n spesialisveld in die boerdery aangewend. Dirkie fokus op die saaiboerdery waar kanola, gars, koring en lusern op ongeveer 8 700 ha verbou word. Johan sien hoofsaaklik om na die finansies en lewendehawe – ’n stoet- en kommersiële skaapboerdery.

Met die ontvangs van hul toekenning het hul gesê dat hulle dit nooit op hul eie sou kon vermag nie. “Sonder ’n goeie en betroubare arbeidsmag kan mens nie veel uitrig nie, so in hul afwesigheid sê ons dankie vir wat julle vir ons werd is.” Hulle het ook hul dank teenoor SSK betuig vir hul ondersteuning.

“Dankie aan Graan SA en al die borge wat so ’n uitnemende platform vir landbou skep en hierdie funksie moontlik gemaak het. Die proses waarvan ons nou deel was, het ons oortuig dat ons landbouers in murg en been is. Al is dit ’n uitdagende beroep, is dit steeds uiters vervullend.”

Publication: November 2018

Section: Grain SA