Dekgewasse veerkragtigheid en risiko

Gepubliseer: 2 Julie 2024

84
Liane Erasmus, ASSET Research

Tydens ’n paneelgesprek by een van die veldpunte as deel van vanjaar se Landbouweekblad Herlewingslandbou-konferensie op Ottosdal, het Murray Grobler van Barenbrug, Mark Stewart van AGT en Dawie du Plessis van Agricol luisteraars verryk met hulle kennis oor dekgewasse en antwoorde gegee op belangrike vrae wat toepaslik was in hierdie unieke plantseisoen.

Daar is belangrike konsepte wat produsente moet verstaan met die gebruik van dekgewasse. Een van die belangrikste voordele wat in hierdie uiters droë seisoen na vore gekom het, was dat dit ’n uitstekende manier is om oop gronde te bedek. Dit beskerm die biologie in die bogrond teen drastiese temperatuurveranderinge en dit beperk verdamping van bogrondse water om sodoende vog vir opvolgende gewasse te bewaar.

Volgens Du Plessis het studies getoon dat 100% grondvog beskikbaar is vir plante om te gebruik by grondtemperature van 21 °C, maar dat tot 85% van bogrondse vog begin verdamp as temperature tot tussen 35 °C en 40 °C styg. Mikrobes begin afsterf by grondtemperature van 46 °C en sal heeltemal afsterf wanneer dit bo 60 °C styg.

Waarom dekgewasse aanplant?
’n Belangrike vraag wat bespreek is, is watter doelwit bereik wil word met die gebruik van dekgewasse. Kundiges kan hierdie proses fasiliteer om doelgerigte mengsels te maak vir somer- en winteraanplantings asook vir ander doeleindes. Dit is ’n gegewe dat grondgesondheid ’n kerndoelwit vir die samestelling van ’n mengsel moet wees. Daar kan ook ander doelwitte wees vir die gebruik van dekgewasse wat sal lei tot die insluiting van sekere spesies:

  • Benutting deur vee (die tipe vee is bepalend) beteken dat ’n mengsel goeie blaarproduserende grasspe­sies moet bevat, peulgewasse wat bydra tot verhoogde proteïene in die dieet asook brassicas wat uitgegrawe kan word wanneer bogrondse materiaal bewei is. Dit moet natuurlik spesies wees wat veilig is vir dieregesondheid.
  • Indien die dekgewasse plat gerol word, skep dit die geleent­heid om ’n groter verskeidenheid spesies te gebruik, insluitend spesies wat minder smaaklik is vir vee maar goeie funksies in die grond verrig.
  • As dekgewasse vir tussenryverbouing (intercropping) gebruik word, moet geskikte spesies met lae kompetisiedruk met die spesifieke kontantgewas gekies word. Verder moet spesies wat hoog rank en graankwaliteit kan beïnvloed, vermy word.

Dekgewasse kan winsgewend benut word met vee, maar hoe gemaak as die produsent nie ’n veekomponent het nie? ’n Praktyk wat bestudeer word in een van ASSET Research se proewe wat in samewerking met AGT en Omnia by Cobus van Coller in Viljoens­kroon gedoen word, is om dekgewasse plat te rol sonder om dit te bewei. Dit is ’n goeie manier om byna die totale grondopper­vlakte te bedek en om droëmateriaal op te bou wat afgebreek kan word na organiese materiaal en plantbeskikbare voedingstowwe. Uiteindelik dra dit by tot die opbou van die grond se ekologiestatus. Dit mik ook om die siektestatus van gronde te reduseer en om ’n onkruid­onderdrukkende effek te hê.

Bestuurspraktyke
Tydens die paneelbespreking is belangrike bestuursaspekte ra­ken­de dekgewasse bespreek. Minder suksesvolle verhale wat produsente gedeel het, behels dekgewasse wat toegelaat is om hulle reproduktiewe fase te voltooi en dus hulpbronne soos vog en plantbeskikbare voedingstowwe in die grond vir die opvolgende kon­tantgewas uitgeput het. Dekgewasse wat te hoog gegroei het en verby hulle reproduktiewe fase was, is ook minder effektief deur vee benut weens vertrapping, vermorsing en hoër stam-tot-blaar-verhoudings. Die finansiële impak daarvan was dat addisionele kunsmis gebruik moes word vir die opvolgende kontantgewasse. Die verlaagde weidingswaarde van dekgewasse het ook nie die verlangde inkomste gegenereer vanaf die veekomponent nie.

’n Hele klompie suksesverhale is egter ook gedeel met dekgewasse wat produsente meer veerkragtig gemaak het en die impak van droogte help versag het, soos in hierdie seisoen gesien is. Addi­sionele inkomste kon steeds gegenereer word wanneer dekgewasse in die voerbehoefte van vee voorsien het wanneer die kwantiteit en kwaliteit van natuurlike weiding tydens droogte afgeneem het.

By een van die ander veldpunte het Magnus Theunissen, ’n herle­wingsprodusent en proefmedewerker van Ottosdal, gewys dat dekgewaslande en lande met tussenryverbouing hoër biomassa toon op NDVI-satellietbeelde. Die grondoppervlaktemperature is dus beter gereguleer, bogrondse vog het nie verdamp nie en mikrobiese aktiwiteit is beskerm. Dit het weer gewenste toestande geskep vir die huidige kontantgewas asook opvolgende gewasse en gesorg vir minder variërende opbrengsdata oor opeenvolgen­de seisoene.

NDVI (normalized difference vegetation index) is ’n standaardmetode in presisieboerdery om lewende groen biomassa te meet. Hoër NDVI-waardes dui op ’n hoër biomassa.

’n Belangrike boodskap waaroor die paneel saamgestem het, is dat dekgewasse noukeurige bestuurspraktyke vereis en dat dit baie kundigheid verg om die regte spesies teen die regte verhoudings te meng, met ’n spesifieke doel in gedagte. Dit alles is nodig om elke produsent se unieke situasie en dryf na volhoubaarheid te komplementeer.

Sprekers verklap met watter gewasse hul identifiseer
Om die ys te breek en deelnemers bekend te stel tydens die paneelgesprek, is elke deelnemer gevra om ’n dekgewasspesie te kies waarmee hulle vereenselwig en ’n rede daarvoor te verskaf.

Murray Grobler het gesê dat hy homself as sigorei sien. Dit vestig maklik, groei sterk en verskaf groen weiding deur alle seisoene. Dit het ook ’n sterk wortelstelsel wat diep groei; hiermee verwys hy daarna dat hy iemand is wat diep geanker is in die waarheid.

Mark Stewart het homself as soetsorghum beskryf. Dit groei hoog, maak baie blare wat ’n lafenishappie is vir die wat daarvan eet. Wanneer daar onweer in die lug is en sonlig skaars is, lyk dit of dit gaan lê, maar sodra die son weer uitkom en die lug skoon is, staan dit weer vinnig regop.

Natuurlik het Dawie du Plessis homself met ’n radys vergelyk. Dit groei groot en sterk, wat beteken dat dit deur verdigtingslae in gronde kan breek. Dit het ’n penwortelstelsel wat voedingstowwe diep onder die grond uithaal, na die oppervlak bring en beskikbaar maak vir die ander plante rondom dit. Dit dra by tot organiese materiaal wanneer dit afsterf en laat ook diep holtesin die grond agter wat sorg vir effektiewe waterinfiltrasie.

Murray Grobler van Barenbrug, Mark Stewart van AGT en Dawie du Plessis van Agricol het produsente tydens die jaarlikse Herlewingslandbou­konferensie in Ottosdal oor dekgewasse toegespreek.