Somergrane: Waar staan plaaslike voorraadvlakke?

1061

October 2018

Vraag en aanbod is in die plaaslike graanmarkte die beduidendste fundamentele aspek in die bepaling van plaaslike pryse. Daarom is dit vir produsente belangrik om die vraag en aanbod van somergrane in gedagte te hou wanneer hulle besluite vir die nuwe seisoen neem.

Met die nuwe seisoenbeplanning en aanplantings wat voorlê, is die eindvoorraad van die verskillende gewasse ’n belangrike aspek vir produsente om te oorweeg. Die eindvoorraad verteenwoordig die hoeveelheid graan (onverbruikte graan) wat aan die einde van die bemarkingseisoen beskikbaar is en wat daarom na die volgende bemarkingseisoen toe oorgedra word.

Die eindvoorraad word uitgedruk as ’n persentasie van die plaaslike verbruik ten einde dit meer in perspektief te plaas vir die ontleder van die inligting. Die algemene duimreël in die plaaslike mark is dat die beskikbare voorraad aan die einde van die bemarkingseisoen ongeveer 45 dae (1,5 maande) se verbruik moet verteenwoordig.

Dit beteken die eindvoorraad as persentasie van die plaaslike verbruik ten minste ongeveer 13% moet wees. Indien die eindvoorraad minder as 13% is, is dit laag en behoort dit, in terme van prys, ’n ondersteunende faktor in die mark te wees.

Die mark behoort ook in so ’n geval vir die nuwe seisoen se produksie heelwat meer sensitief te wees vir aspekte wat die produksie-omstandighede negatief kan beïnvloed, soos byvoorbeeld die weer. Indien die markeindvoorraad as persentasie van die plaaslike verbruik meer as 13% vir die seisoen is, sal dit ’n groter impak op die volgende seisoen se aanbod hê. Hoe groter dié persentasie is, hoe minder volatiel behoort die mark vir die nuwe seisoen se produksie te wees.

Mielies
Grafiek 1 toon die plaaslike verbruik, eindvoorraad en die eindvoorraad as ’n persentasie van die plaaslike verbruik van mielies sedert die 2000/2001-seisoen. Die inligting in Grafiek 1 wys duidelik dat die oordragvoorraad van mielies die afgelope twee jaar skerp toegeneem het, nadat dit gedurende die droogte van die 2016/2017-seisoen redelik laag was.

Die oordragvoorraad wat aan die einde van die 2017/2018-seisoen gerapporteer is, was ongeveer 36% van die plaaslike verbruik, terwyl die verwagting vir die 2018/2019-seisoen is dat die oordragvoorraad ongeveer 34% behoort te wees. Dit is hoë eindvoorraad, aangesien dit ongeveer 2,6 keer meer is as die ongeveer 13% waarmee die mark redelik gemaklik is.

Sojabone
Sojaboonproduksie het die afgelope twee jaar skerp toegeneem en die 2017/2018- en 2018/2019-seisoene is gekenmerk deur twee agtereenvolgende rekordproduksiesyfers van 1,316 miljoen ton en 1,558 miljoen ton onderskeidelik.

Hierdie skerp toename in die plaaslike produksie, het die toename in die plaaslike verbruik ver oorskry – wat sojaboonvoorrade in Suid-Afrika laat akkumuleer het. Daar kan duidelik in Grafiek 2 gesien word dat die sojabooneindvoorraad die afgelope twee seisoene ook tot nuwe vlakke toegeneem het.

Na verwagting sal die sojabooneindvoorraad vir die 2018/2019-seisoen ongeveer 654 000 ton wees – wat ongeveer 55% van die plaaslike verbruik verteenwoordig. Dit is ongeveer 4,2 keer meer as die voorraadvlakke waarmee die mark in terme van beskikbare voorraad aan die einde van die bemarkingseisoen gemaklik is.

Die groot oordragvoorraad, tesame met die nuwe seisoen se produksie, sal lei tot nog groter voorrade wat die vraag-en-aanbodbalans meer uit proporsie sal trek en laat oorhel na die aanbodkant toe.

In die plaaslike sojaboonmark sal een van twee belangrike gebeure moet plaasvind om die balans tussen vraag en aanbod weer te herstel:

  • Die plaaslike verwerking sal drasties moet toeneem (daar is genoeg markspasie daarvoor).
  • Die surplus sojabone sal uitgevoer moet word (markprys sal na uitvoerpariteit moet daal).

Sonneblomsaad
Die plaaslike sonneblomsaadverbruik het die afgelope twee seisoene bevredigende groei getoon en het nuwe rekordvlakke bereik – wat positief vir die plaaslike sonneblomsaadmark is. Die plaaslike verbruik van sonneblom – veral die pers daarvan vir olie en oliekoek – het vir die eerste keer gedurende die 2017/2018-seisoen die 850 000 ton-vlak oorskry. Na verwagting sal hierdie vlakke in die 2018/2019-seisoen weer oorskry word.

In Grafiek 3 word geïllustreer dat die sonneblomsaadeindvoorraad oor die afgelope twee jaar ’n afwaartse tendens beleef het.

Na verwagting sal die eindvoorraad vir die 2018/2019-seisoen ongeveer 12% van die plaaslike verbruik wees.

Dit is redelik in lyn met die minimum hoeveelheid wat aan die einde van die bemarkingseisoen beskikbaar moet wees – en waarmee die mark redelik gemaklik sal wees. Indien die eindvoorraad as persentasie van die plaaslike verbruik na onder 12% daal, behoort die mark betreklik meer sensitief te wees vir enige faktore wat moontlik die produksie vir die komende seisoen kan beïnvloed.

Sorghum
Grafiek 4 toon die plaaslike sorghumverbruik, eindvoorraad en eindvoorraad as ’n persentasie van die plaaslike verbruik. Volgens Grafiek 4 is die sorghumeindvoorraad as persentasie van die plaaslike verbruik steeds redelik hoog, alhoewel dit sedert die 2014/2015-seisoen skerp gedaal het.

Na verwagting sal die sorghumeindvoorraad vir die 2018/2019-seisoen ongeveer 21% van die plaaslike verbruik wees. Dit is redelik hoog en die mark behoort nie so sensitief vir produksie-omstandighede te wees nie.

Grondbone
Die plaaslike grondboonmark se eindvoorraad het die afgelope twee jaar weer aansienlik toegeneem vanaf die vlakke waarop dit in die 2016/2017-seisoen was. Die plaaslike grondboonmark is relatief klein in terme van produksie en verbruik en verlede seisoen se bevredigende plaaslike produksie het die plaaslike eindvoorraad aan die einde van die 2017/2018-seisoen laat toeneem tot en met 62% van die plaaslike verbruik.

Na verwagting sal die eindvoorraad vir die huidige seisoen (2018/2019) ongeveer 44% van die plaaslike verbruik wees (Grafiek 5).

Ten slotte
Dit is noodsaaklik om die eindvoorraad van die verskillende gewasse in gedagte te hou, aangesien dit ’n kardinale rol in die nuwe seisoen se vraag-en-aanbodsituasie speel. Die eindvoorraad van die een seisoen is beskikbare voorraad wat oorgedra word na die volgende seisoen. Saam met die nuwe seisoen se produksie dra dit by tot die beskikbare voorraad.

Hoe meer die eindvoorraad vir die seisoen is, des te meer sal dit bydra tot die volgende seisoen se voorraad, wat beteken dat die plaaslike vraag-en-aanbodsituasie in die daaropvolgende seisoen weer makliker in ’n oorskotsituasie kan inbeweeg. Dan sal die pryse vir die betrokke gewas onder druk wees, aangesien oorskotte in die mark daartoe lei dat die mark nader aan uitvoerpariteit verhandel.

Die meeste van die plaaslike somergrane se eindvoorraad vir die 2018/2019-seisoen is kommerwekkend hoog – slegs sonneblomsaad se verwagte eindvoorraad vir die seisoen is redelik in lyn met normale omstandighede.

Publication: October 2018

Section: On farm level