Graan SA-voorlegging aan Grondkomitee: Graan en grondhervorming het noue verband

1224

October 2018

MARIËTTA CRONJÉ, SA Graan/Grain medewerker

Graan SA is van opinie dat die huidige Grondwet voldoende en ruim genoeg is om die regering in staat te stel om regverdige en onpartydige grondhervorming op ’n volhoubare manier te implementeer ten einde die ekonomie te bevorder en terselfdertyd voedselsekerheid in stand te hou.

In sy voorlegging aan die parlementêre komitee wat ondersoek instel na die implementering van ‘n ingrypende nuwe grondhervormingsbeleid het Graan SA ook die belangrikheid van graan in die voedselmandjie uitgelig.

Daar is beklemtoon dat graan die basis van voedselsekerheid is. Mielies is nie net die stapelvoedsel van mense in Suid-Afrika nie, maar dit vorm ook die basis vir dierevoeding. Dit het daarom ‘n toegevoegde waarde ten opsigte van ander produkte soos pluimvee (vleis en eiers), suiwelprodukte en ook rooivleis. Volgens Statistieke SA beslaan voedsel 15,48% van die verbruikersprysindeks. Alle graan- en graangebaseerde produkte in die voedselmandjie verteenwoordig 75% van die totale voedselmandjie. Dit is nie net krities dat voedselpryse so laag as moontlik gehou moet word ter wille daarvan om dit bekostigbaar vir armes te maak nie, maar ook met die oog daarop om inflasie te beheer.

Graanbalansstaat
In die voorlegging is die graanbalansstaat ook onder die loep geneem. Volgens die vraag-en-aanbodkomitee van die Nasionale Landboubemarkingsraad benodig Suid-Afrika 10,5 miljoen ton mielies per jaar. Die totale plaaslike mielie-aanvraag in die Suid-Afrikaanse Doeane-unie (met inbegrip van Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland) beloop 11,5 miljoen ton.

Wanneer die oes laer as 11,5 miljoen ton is, behoort pryse na invoerpariteitsvlakke te neig. Die noodsaak van invoere weens tekorte beïnvloed weer plaaslike pryse. Op die oomblik beloop dit sowat R4 000/ton. Wanneer die oes meer as 11,5 miljoen ton beloop, sal pryse meer na uitvoerpariteit neig – met ander woorde die pryse wat op internasionale markte verkry kan word. Dit staan op die oomblik op sowat R2 000/ton, wat ‘n beduidende prysgaping verteenwoordig en dus vir voedselsekerheid van uiterste belang is – veral wat bekostigbaarheid betref. Plaaslike tekorte, byvoorbeeld weens droogte, kan geredelik aangevul word deur invoere, maar dit verteenwoordig ‘n aardige prys.

Witmielies is steeds die hoofstapelvoedsel vir menslike gebruik in Suid-Afrika. Tekorte aan witmielies skep uitdagings, aangesien witmielies nie in oormaat in die wêreld geproduseer word nie. Geelmielies, daarenteen, word wêreldwyd geproduseer en daar is gewoonlik ‘n ooraanbod daarvan. Dit is eintlik net in Suider-Afrika en Mexiko en sy omliggende lande waar witmielies vir menslike gebruik benut word.

Die VSA produseer wel witmielies, maar hoofsaaklik op voorafbepaalde kontrakte. Gedurende die droogte van 2016 het die plaaslike prys van witmielies tot byna R5 000/ton gestyg. Teen dié agtergrond is dit uiters belangrik dat Suid-Afrika voedselsekerheid handhaaf – veral ten opsigte van witmielies. Hoë pryse en voedseltekorte is ‘n dodelike kombinasie – veral in ‘n verkiesingsjaar. Die pryse en beskikbaarheid van voedsel sal altyd ‘n sterk rol in die politiek speel.

Grondhervorming en voedselsekerheid
In die voorlegging is ook daarna verwys dat dit krities is dat die huidige koers van mislukking met grondhervormingsprojekte, wat deur die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming self op 90% gestel is, omgekeer word. Teen hierdie koers moet Suid-Afrika net ‘n verdere 400 000 ha onder mielies verloor om ‘n land met voedseltekorte te wees. ‘n Produksietekort kan, soos hierbo aangedui, feitlik oornag lei tot ‘n verdubbeling in mieliepryse – met katastrofiese gevolge vir voedselsekerheid. Die voorstelle wat Graan SA nou by die parlementêre komitee ingedien het, is daarop gemik om hierdie situasie te voorkom. Daar word gemaan dat daar byvoorbeeld bitter min aan klimaatsomstandighede gedoen kan word, maar dat daar heelwat oplossings vir mensgemaakte krisisse is.

Grondhervorming en mynbou
Die effek van mynbou op voedselsekerheid is ook aan die komitee voorgehou. Die beste bewerkbare grond vir graanproduksie is te vinde in Mpumalanga. Dit is diep gronde en die reënval is taamlik konstant. Mpumalanga is ook betreklik naby aan die belangrike verwerkings- en verbruikersgebied van Gauteng, wat ‘n besparing aan vervoerkoste verteenwoordig.

Steenkoolproduksiepraktyke het egter groot dele van hierdie vrugbare grond opgeneem. Volgens ‘n studie wat deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) gedoen is, kan Suid-Afrika in die volgende klompie jare ‘n land word waar voedseltekorte voorkom as die tempo van landbougrond wat na mynbou oorgeskakel word, sou voortduur.

Suid-Afrika het egter nog heelwat bewerkbare grond, wat tans braak lê, beskikbaar. Die meeste van die grond is geleë in die kusgebiede van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en in Mpumalanga. In ‘n poging om produksie in dié dele te verhoog, het Graan SA met die hulp van sekere vennote ses voorligtingskantore in dié gebiede gevestig.

Produsente is gevolglik in studiegroepe georganiseer en opgelei om nuwe era-boere touwys te maak in die vestiging van kommersiële ondernemings. Weens die feit dat nuwe era-boere nie titelaktes vir die grond het nie, het hulle nie volle eiendomsreg nie en kan hulle daarom nie aansoek doen vir finansiering nie. Die meeste van dié grond is kommunale grond en kan nie gekommersialiseer word alvorens dié finansiële uitdaging nie aangespreek en opgelos is nie.

Langtermynstrategie
Graan SA is van mening dat die huidige praktyk om landbougrond in myne te omskep, in hersiening geneem sal moet word ten einde te voorkom dat ons ‘n land word waar voedseltekorte heers. Die uitdagings met finansiering vir gewasproduksie sal tegelykertyd aangespreek en opgelos moet word. Nalatigheid in die aanspreek van hierdie tendense en hindernisse, sal tot gevolg hê dat Suid-Afrika in dieselfde kategorie as byna die res van die Afrika-vasteland sal val, naamlik voedselonsekerheid.

Weens die landelike ekonomie se afhanklikheid van landbou sal ‘n wankelende landbousektor arm landelike gebiede ernstig benadeel. Titelaktes bly die spil waarom kommersiële produksie en voedselsekerheid draai.

Publication: October 2018

Section: Grain SA