September 2018

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder, Graan SA

‘n Afvaardiging van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) het Graan SA onlangs besoek. Die doel was om die graanbedryf se prioriteite vir die volgende vyf jaar te bepaal. Dit was die eerste keer dat só ‘n interaksie gehou is.

Van die prioriteite wat aan DAFF uitgelig is, is die volgende:

  • Oopmaak van internasionale markte – veral mielies en sojabone.
  • Uitbreiding van sojaboonproduksie en -vraag – veral in die hoenderbedryf.
  • Ontwikkelende graanboere benodig hulp met opberging en het beperkte verwerkingsfasiliteite.
  • Finansiering vir opkomende boere – hulle het geen titelaktes as sekuriteit nie.
  • Eindpunttantiemebeleid vir alle selfbestuifde gewasse.
  • Finansiële ondersteuning vir landbou-ontwikkelingsprogram.

Die enkele grootste uitdaging is die winsgewendheid van die graanbedryf. Die daling in fondse vir navorsing en die bedreigings wat die mynbousektor inhou, is ook uitgelig as groot hindernisse. Die impak van klimaatsverandering en die koringomdraaistrategie is ook bespreek.

Daar was ‘n rits van onmiddellike samewerkingsaksies wat gelys is. Meeste van die temas hou verband met biosekuriteit en wetgewing/regulasies wat met die huidige winsgewendheid van die sektor verband hou.

Graan SA verwelkom hierdie tipe samewerking en sal graag met die DAFF wil saamwerk om in die volgende vyf jaar ‘n verskil te maak.

Publication: September 2018

Section: Grain SA