August 2018

PETRU FOURIE, navorsingskoördineerder en produksiekoste-analis, Graan SA

Gedurende April vanjaar het Suid-Afrika die Internasionale Sorghumkonferensie met die tema “Sorghum in the 21st century – feed, food and fuel in a rapidly changing world” in Kaapstad gehuisves. Die konferensie is deur meer as 400 afgevaardigdes van regoor die wêreld, waarvan die meeste navorsers is, bygewoon. Die konferensie is ook deur sowat 80 Suid-Afrikaanse afgevaardigdes bygewoon.

Aspoestertjie-gewas
Sorghum word algemeen as die Aspoestertjie-gewas beskou en ‘n byeenkoms van dié kaliber, met ‘n samekoms van sorghumwetenskaplikes – ‘n eerste in meer as 30-jaar – bevestig net weer eens dat sorghum nie na waarde geskat word nie.

Graansorghum het goeie voedingseienskappe, is betreklik bestand teen droogtetoestande, het ‘n aantal gesondheidsbevorderende komponente, wat onder andere anti-oksidante en anti-inflammatoriese voordele inhou, maar word tog as die Aspoestertjie van gewasse beskou.

Internasionaal versus plaaslik
In terme van produksie is sorghum die wêreld se vyfde belangrikste graan – naas koring, mielies, rys en gars. Sorghum is ‘n stapelvoedsel vir miljoene mense, bied biobrandstofgeleenthede, dien as veevoer en kan verder vir die ontwikkeling van voedselprodukte aangewend word.

Op internasionale vlak is die sorghumbedryf in die afgelope dekade deur groot veranderinge beïnvloed: Die sorghumgenoom is gekarteer, hoë deursetfenotipering het as ‘n prioriteitsnavorsingsaspek na vore gekom en die vraag na sorghum as ‘n voedings-, energiebron en menslike voedsel het ontstaan.

Heelwat van hierdie ontwikkeling is aangespoor en gedryf deur nuwe belangstelling in alternatiewe voedsel- en energiebronne, asook die voortgesette noodsaaklikheid van kalorie-innames vir die wêreld se armes.

In teenstelling met dié internasionale verwikkelinge, het Suid-Afrika se sorghumbedryf met plaaslike verbruik sowel as produksie
wat konstant daal ‘n laagtepunt bereik. Plaaslik is daar geen erkende teelprogram vir die sorghumbedryf wat tot kultivarontwikkeling bydra nie. Suid-Afrika se navorsingstegnologie-agterstand is tydens die konferensie beklemtoon. Dié land is ligjare agter lande soos Australië in terme van sorghumnavorsing.

Kernvoordele van sorghum
Tydens die konferensie het die onderstaande kernpunte uitgestaan:

  • Sorghum is ‘n unieke graangewas omdat dit hoë vlakke van fenoliese fitochemikalieë, wat gesondheidsbevorderende eienskappe besit, bevat. Hierdie fitochemikalieë kan sorghumverbruikers teen die aanslag van nie-oordraagbare siektes (naamlik vetsug, tipe 2-diabetes, kardiovaskulêre siekte en sekere kankers) – wat ernstige negatiewe gevolge vir jou gesondheid inhou – beskerm.
  • Sorghum is ewe ryk aan die belangrike voedingstowwe, stysel, proteïen, lipiede, dieetvesel, vitamiene B en minerale, vergeleke met ander graanprodukte soos mielies en rys.
  • Sorghum is ‘n natuurlike glutenvrye produk en is nie geneties-gemodifiseer nie.
  • Omdat sorghum in Afrika ontstaan het, is dit besonder goed vir verbouing onder uitdagende omgewingstoestande (hoë temperature en lae reënval) aangepas en dit duld selfs droogtetoestande. Aangesien Suid-Afrika reeds die negatiewe impak van uitdagende klimaatstoestande op landbou ervaar, moet sorghumproduksie en voedselverbruik in Suid-Afrika bevorder word om nasionale en huishoudelike voedselsekerheid te ondersteun.

Samewerking
Dié internasionale konferensie en gesprekvoering tussen kundiges het ‘n algehele ommeswaai in teenwoordiges se denkpatrone teweeggebring. Plaaslike sorghumrolspelers het met opwinding besef watter moontlikhede sorghum die land kan bied.

Met Suid-Afrika se ekstreme klimaatskommelinge en die verwagtinge dat warmer en droër toestande ‘n realiteit sal word, kan die sleutelrol van sorghum in voedselsekerheid nie langer misgekyk word nie. Sorghum is een van Afrika se oudste, inheemse, maar tog mees onderbenutte gewasse wat plaaslike rolspelers sal moet laat hande vat ten einde die geleenthede wat sorghum ons land bied, te ondersoek.

Publication: August 2018

Section: Spotlight on Sorghum