June 2018

In die voorafgaande gedeeltes van dié kort reeks – wat gestrek het oor die afgelope vier maande (Februarie tot Mei) – is hoofsaaklik gefokus op na-stroopbemarking, wat ingesluit het: Die agtergrond vir na-stroopbemarking, faktore wat in gedagte gehou moet word wanneer dit oorweeg word, die verskillende alternatiewe wat oorweeg kan word en ook praktiese voorbeelde om die berekeninge daarvan te verstaan.

Hierdie gedeelte is ‘n samevatting van die reeks om die faktore wat in gedagte gehou moet word wanneer na-stroopbemarking gedoen word, uit te lig.

Agtergrond
Die volatiliteit van Suid-Afrikaanse graanpryse is, onder andere, een van die groot uitdagings waarmee plaaslike graanprodusente gekonfronteer word, wat ‘n noemenswaardige impak op hul winsgewendheid kan hê. Dit is juis as gevolg van dié volatiliteit dat graanbemarking en -verskansing kernbelangrik is. Daarom moet seker gemaak word wat die verskeie alternatiewe is wat vir dié doeleindes beskikbaar is.

Die bemarking en/of verskansing van graan kan hoofsaaklik in twee hoofkategorieë verdeel word, naamlik voorseisoenverskansing en na-seisoen- of na-stroopbemarking.

Voorseisoenbemarking of -verskansing verwys na wanneer sekere posisies in die mark as beskerming teen ongunstige prysbewegings ingeneem word om sodoende prysrisiko te bestuur.

Na-stroopbemarking verwys na die bemarking van graan wat plaasvind wanneer dit reeds gestroop is. Die stoor van graan met die oog daarop om dit later te verkoop, is sekerlik een van die bekendste na-stroopstrategieë wat aangewend word. Ander strategieë wat spesifiek vir dié doeleindes aangewend kan word, is ook beskikbaar en sluit die gebruik van afgeleide instrumente op die Safex-mark in.

Indien daar, om welke rede ook al, nie genoeg voorseisoenverskansings in plek is nie en die uitdaging van lae graanpryse teen strooptyd kop uitsteek, speel na-stroopbemarking ‘n kritieke rol in die winsgewendheid van die boerdery. Dit is belangrik om kennis te dra van die verskillende bemarkingsalternatiewe wat oorweeg en uitgevoer kan word – ten einde voordeel te trek sou die mark deur die loop van die seisoen meer gunstig verhandel en kan  bydra tot ‘n beter prys en beter winsgewendheid.

Wat is die doel daarvan?
Een van die belangrikste aspekte wat in gedagte gehou moet word by na-stroopbemarking, is wat die doel daarvan is. Wanneer die doel van ‘n na-stroopbemarkingstrategie bekend is,sal dit jou in ‘n meer gunstige posisie plaas en kan jy die regte besluite neem oor die strategieë wat jy wil volg.

Die hoofdoel is dus om ‘n beter prys vir die geproduseerde graan te realiseer. Dit kan deur middel van verskeie alternatiewe bereik word – wat strek vanaf die fisiese stoor van die graan tot en met die gebruik van afgeleide instrumente op die Safex-mark.

Hou in gedagte dat risikobestuur met die gebruik van dié strategieë steeds van kardinale belang is en alhoewel produksierisiko aansienlik laer met na-stroopbemarking is, omdat daar reeds ‘n aanduiding is van hoeveel tonne vir verkoop beskikbaar is, moet die hoogste moontlike prys met die minste moontlike risiko daaraan verbonde steeds die oogmerk wees.

Produsente moet hul ook vergewis van die risiko’s verbonde aan die gebruik van die verskillende strategieë. Hulle moet ook seker maak hul weet wat die onderliggende faktore is waarop gelet moet word wanneer hulle dié besluite neem.

Faktore waarop gelet moet word
Daar is ‘n reeks faktore waarop gelet moet word wanneer na-stroopbemarkingstrategieë oorweeg en gebruik word. Dié wye reeks faktore strek vanaf die onderliggende faktore wat grootliks die beweging van die markprys deur die loop van die seisoen behoort te bepaal, tot en met die impak wat die verskillende strategieë op die besigheid kan hê.

Van die vernaamste aspekte waarop gelet moet word, word vervolgens bespreek.

Prys- en risikobestuur
Oor die algemeen is graanpryse onder normale omstandighede die laagste tydens strooptyd wanneer graan gelewer word. Daarom moet alternatiewe strategieë gevolg word om ‘n beter prys te realiseer.

Aangesien die doel van bemarking is om pryse te bestuur sonder om groot risiko’s aan te gaan, moet seker gemaak word dat die risiko’s verbonde aan die strategie in ag geneem word en dit saam met die faktore wat die markprys deur die loop van die seisoen sal dryf, oorweeg word. Dit sal verseker dat die beste moontlike strategie gekies word, aangesien die verskillende strategieë onder verskillende omstandighede verskillende uitkomstes sal bied.

Koste verbonde aan die strategie
Kontantvloei is een van die belangrikste aspekte in enige besigheid – en so ook in enige boerdery. Kontantvloeiposisies moet sover moontlik beskerm word en daar moet vasgestel word watter impak die strategie wat gevolg word op die boerdery se kontantvloei kan hê.

Wanneer graan vir latere verkoop gestoor word, is daar nie tydens strooptyd ‘n kontant-invloei nie. Dit realiseer eers later wanneer die graan verkoop word. Neem die koste verbonde aan stoor in ag. Kostes sluit in fisiese stoorkoste, asook die geleentheidskoste en rente op produksiekapitaal wat nog nie gedelg word nie.

Ander strategieë kan die geleentheid bied om wel ‘n kontant-invloei tydens strooptyd te hê – en boonop moontlik deur die loop van die seisoen wins te maak. Produsente moet hulself vergewis van die aspekte verbonde aan hierdie strategieë wat in Deel 3 en Deel 4 van die reeks bespreek is.

Wees vertroud met die prysvlakke
Dit is noodsaaklik om goed vertroud met produksiekoste, asook die hoeveelheid wins wat vir die seisoen beoog word, te wees. Wanneer ‘n mens deeglik met die kostestrukture van jou boerdery vertroud is, sal dit makliker wees om te beplan as dit by die strategie kom.

Wanneer die koste verbonde aan die strategie bereken word, kan vasgestel word wat die minimumprys moet wees om seker te maak dat die strategie winsgewend is. Terwyl die strategie geëvalueer word, moet die nodige en relevante markinligting daarmee saam oorweeg word.

Die vertroudheid met die kostestrukture van die plaas sal grootliks tot meer objektiewe besluitneming bydra, omdat beter besluite geneem kan word indien die mark teen sekere prysvlakke sou verhandel.

Hou die strategieë so eenvoudig moontlik
Alhoewel ‘n groot verskeidenheid strategieë oorweeg kan word en ‘n groot aantal verskillende alternatiewe in kombinasie met mekaar gebruik kan word, is dit belangrik om die strategie wat gebruik word so eenvoudig as moontlik te hou.

Besonder ingewikkelde strategieë kan in diepte kennis van die markte en die tegniese aspekte van die werking daarvan vereis ten einde werklik te verstaan hoe dit werk. Daar is wel goeie, eenvoudige strategieë wat suksesvol gebruik kan word – waarvan ‘n paar in die reeks bespreek is.

Die strategie wat oorweeg word, moet ook deeglik met die graanhandelaar bespreek word om te verseker dat almal verstaan wat die mikpunt van die strategie is en wat die moontlike wins of verlies verbonde aan die strategie kan wees.

Ten slotte
Iets wat in gedagte gehou moet word wanneer besluite rakende spesifieke bemarkingstrategieë geneem word, is dat die risiko verbonde aan die strategie wat gebruik word, van kardinale belang is.

Die eerste oorweging vir ‘n bemarkingstrategie moet wees om ‘n beter prys vir die geproduseerde produk te realiseer – met die laagste moontlike risiko daaraan verbonde. Produsente moet die marksituasie in geheel in ag neem en veral klem lê op die relevante fundamentele faktore wat markpryse bepaal.

Goeie bemarkingsplanne is ook van kardinale belang. Bemarkingsplanne met realistiese doelwitte, wat ‘n bydrae sal lewer om besluitneming te vergemaklik en wat die emosie grootliks daaruit haal, kan maak dat dit wenplanne is.

Publication: June 2018

Section: On farm level