Hoe staan sake met uitloopweerstand by koring?

Dr Annelie Barnard, voorheen verbonde aan LNR-Kleingraan, Bethlehem
Gepubliseer: 10 Desember 2021

335

Suid-Afrika se boeregemeenskap juig, want broodnodige reën het onlangs in groot dele van die land geval. In sommige streke was dit die eerste reën in nege jaar! Nog reën word vir die somerreëngebiede voorspel.

Dit is wonderlike nuus, maar soms is hierdie voorspelling van lewensnoodsaaklike water nie welkom nie en is koringprodusente baie bekommerd as die donderwolke oor hulle lande skuif. Wanneer ’n pragtige goue koringland met swaar, ryp are – gereed vir die oes – reën kry, kan groot skade verwag word. Op daardie stadium kan niks gedoen word om die oes te beskerm nie!

’n Pragtige ryp koringland … gereed vir die oes! Reën op hierdie stadium is nie goeie nuus vir enige koringprodusent nie.

Uitloop in die aar verwys na die verskynsel waar ryp koring op die land in die aar begin ontkiem as gevolg van reën en vogtige toestande rondom strooptyd. Sodra hierdie koringkorrels begin ontkiem, verlaag die kwaliteit van die graan onmiddellik. Dit hou groot ekonomiese implikasies vir die produsent in, want hierdie graan is nou waardeloos vir die verbruiker – in dié geval die meulenaar. Sulke koring kan nie opgeberg word nie en dit kan ook nie vir saad aangewend word nie aangesien die kiemkrag drasties verlaag. Dit is dus nutteloos.

Al wat ’n produsent kan doen om die risiko van uitloop te verminder, is om die regte kultivars te kies. By LNR-Kleingraan buite Bethlehem is daar vir 30 jaar intensiewe navorsing gedoen op die uitloopweerstand van kommersiële kultivars. Reeds in 1991 is die eer­ste kultivars met behulp van ’n reënsimuleerder getoets. Op daardie stadium was daar slegs 17 kultivars in die proewe en slegs vyf van hierdie kultivars het goeie uitloopweerstand gehad. Daar het ’n groot taak vir koringtelers en saadmaatskappye voorgelê.

Oor die afgelope 30 jaar is alle kultivars wat kommersieel beskikbaar is asook die vroeë teeltlyne van LNR-Kleingraan se onderskeie teeltprogramme, jaarliks vir uitloopweerstand geëvalueer. Meer as 150 koringkultivars van al drie saadmaatskappye is in hierdie tydperk geëvalueer – daar is dus oor die jare ’n goeie databasis opgebou van die kultivars se uitloopweerstand. Hierdie opgedateerde inligting is jaarliks in die produksiehandleidings van LNR-Kleingraan gepubliseer.

Die uitloopweerstand van alle huidige kultivars (tot en met 2020) is beskikbaar en die nuutste inligting word in hierdie artikel bespreek. Dit kan ook op die webtuiste (https://www.arc.agric.za/arc-sgi/­Pages/ARC-SGI-Homepage.aspx) gevind word.

’n Aar wat tydens blomstadium gemerk is, word later in ’n reënsimuleerder geëvalueer.

Evaluering
Aangesien so baie eksterne faktore ’n invloed kan hê op die uitloopweerstand van kultivars, is die evaluering daarvan ’n intensiewe en moeisame proses. ’n Groot aantal individuele are van elke kultivar word op blomstadium by verskeie lokaliteite gemerk. Dit word gedoen sodat die are wat geëvalueer word, almal op dieselfde fisiologiese stadium is. Om die invloed van omgewing te verminder, word ’n groot aantal individuele are van ten minste drie lokaliteite per kultivar gebruik. ’n Reënsimuleerder, wat spesifiek gebou en aangepas is om reëntoestande so akkuraat as moontlik te simuleer, is gebruik vir die evaluering van die kultivars.

Om die data so eenvoudig as moontlik te hou, is kultivars in slegs drie groepe verdeel, naamlik “uitlooptolerant”, “matige weerstand” en “uitloopvatbaar”. Geen kultivar kan oor totale weerstand teen uitloop beskik nie, want in so ’n geval sou die saad geen kiemkrag hê nie. Die idee van ’n uitlooptolerante kultivar is om, selfs onder gunstige omstandighede vir ontkieming, nie te ontkiem nie. Sulke kultivars beskik oor ’n hoë vlak van dormansie. Hierdie dormansie verdwyn mettertyd en so ’n kultivar sal dan wel later oor goeie kiemkrag beskik.

’n Spesiaal ontwerpte reënsimuleerder waarin oesryp are geëvalueer word.

Keuse van kultivars
Deur die jare is uiters goeie vordering gemaak met die vrystelling van kultivars wat oor goeie uitloopweerstand beskik. Tans beskik sowat elf uit die 15 droëlandkultivars in die somerreënvalgebied en tien uit die 13 droëlandkultivars in die winterreënvalgebied oor goeie uitloopweerstand. Besproeiingskultivars het oor die algemeen nie goeie uitloopweerstand nie en tans beskik slegs vier besproeiingskultivars oor goeie uitloopweerstand.

Hierdie inligting kan produsente help om ingeligte besluite te neem wanneer kultivarkeu­ses gemaak word. Die uitloopweerstand van kultivars wat tans vir verbouing in die onderskeie produksiestreke aanbeveel word, word in Tabel 1 tot Tabel 3 weergegee.

T = tolerant
M = matige weerstand
V = vatbaar
T = tolerant
M = matige weerstand
V = vatbaar
T = tolerant
M = matige weerstand
V = vatbaar

’n Aantal nuwe kultivars is gedurende 2020 vir die eerste keer geëvalueer. Aangesien die projek nou tot ’n einde gekom het, is daar slegs eenjaardata van hierdie kultivars beskikbaar. Volledigheidshalwe word dit hier gerapporteer, maar dit is belangrik om te onthou dat verskeie faktore hierdie data kan beïnvloed en dat hierdie geensins ’n akkurate aanduiding is van die uitloopweerstand van hierdie kultivars nie. Dit gee slegs ’n voorlopige klassifikasie. Heelwat meer data (jare en lokaliteite) is nodig voordat ’n finale klassifikasie aan ’n kultivar toegeken kan word. Die voorlopige eenjaardata van die nuwe kultivars is beskikbaar in Tabel 4.

T = tolerant
M = matige weerstand
V = vatbaar
Die verskil in uitloopweerstand tussen ’n vatbare (links) en tolerante kultivar (regs) nadat beide vir dieselfde tydperk aan gesimuleerde reën­toestande blootgestel is.

Resultate
Uit die data is dit duidelik dat daar die afgelope aantal jare ’n baie groot verbetering in die uitloopweerstand van veral droëlandkultivars voorgekom het. Die aanvanklike vyf kultivars met goeie uitloopweerstand in 1991, het verhoog na 21 uit ’n totaal van 28 (vir die droëlandkultivars in beide die somer- en winterreënvalgebiede). Dit beteken ongeveer 75% van alle droëlandkultivars beskik oor goeie uitloopweerstand!

Skandeer die QR-kode vir ‘n artikel oor die resultate van die drie-en-twintigste jaarlikse opname van koring-oesgehalte wat deur die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) uitgevoer is.

Dit is goeie nuus vir produsente, aan­gesien die bestuur van uitloop ’n onbegonne taak is. Dit is vir die meeste produsente nie moontlik om koring te stroop teen 20% vog en daarna te droog nie, aangesien drogingsfasiliteite dikwels nie beskikbaar is nie. Boonop is dit selfs nie altyd moontlik om betyds te stroop nie.

Indien ’n kultivar met swak uitloopweerstand geplant word, is die risiko dus uiters groot dat die kwaliteit van daardie kultivar kan verlaag. Gevolglik behoort dit vir produsente ’n riem onder die hart te wees dat daar soveel vordering gemaak is met uitloopweerstand in kultivars en dat die risiko ten opsigte van uitloop grotendeels vir hulle verminder is.

Die navorsing in hierdie artikel is tot en met 2020 moontlik gemaak deur befondsing van die Wintergraantrust en die Landbounavorsingsraad (LNR).