May 2018


In die vorige gedeelte van die reeks is verwys na van die eenvoudige strategieë wat produsente vir na-stroopbemarkingsdoeleindes kan oorweeg en waarop hulle moet let wanneer hulle die verskillende strategieë gebruik.

Die werking van die strategieë is ook in die vorige gedeelte van die reeks bespreek. In hierdie gedeelte van die reeks sal meer gefokus word op die berekeninge wat produsente kan doen wanneer hulle dié strategieë oorweeg – om vas te stel wat die kostes vir ‘n spesifieke strategie is en teen watter vlakke graan moet verhandel sodat die verskillende strategieë winsgewend kan wees.

Wat is die oorwegings?
Veronderstel die produsent het nie voorseisoenkontrakte in plek nie en moet gedurende strooptyd besluit hoe om die graan te bemark. Daar is verskeie strategieë wat hy in sodanige omstandighede kan oorweeg, maar in dié artikel sal slegs op ‘n paar basiese strategieë en die berekeninge rondom die koste van dié strategieë, gefokus word. Hierdie strategieë sluit dié wat in die vorige gedeelte van die reeks bespreek is, in.

Verskillende strategieë wat oorweeg kan word, is onder andere:

  • Verkoop net in die kontantmark – dit dien as riglynstrategie
    Met bostaande strategie vind geen na-seisoenbemarking plaas nie. Die produsent verkoop net direk na stroop en neem die inkomste.
  • Stoor mielies na Desember en/of Maart
    Hier verkoop die produsent nie die mielies nie, maar stoor dit tot en met Desember en/of Maart – met die aanname dat dit in ‘n kommersiële silo teen gemiddelde stoorkostes gestoor word.
  • Verkoop- en koop-call (koop)-opsies op Safex
    Die produsent verkoop die mielies in die spotmark en koop call-opsies op Safex vir lewering in Desember/Maart.

Verkoop in kontantmark direk na stroop
Indien die produsent nie enige alternatiewe bemarkingstrategie toepas nie, sal hy bloot die mielies soos dit gestroop word, verkoop en die prys ontvang waarteen die mark op die dag van verkope verhandel. Die kontantmarkstrategie hou die minste addisionele risiko vir die produsent in, omdat hy die inkomste uit die verkoop van die mielies verkry en nie verdere strategieë volg nie.

Die nadeel van dié strategie is dat die produsent homself nie in ‘n posisie plaas waar hy moontlik ‘n beter prys vir die graan kan realiseer nie en eintlik verkoop wanneer die graanpryse tradisioneel op ‘n laagtepunt is.

Tabel 1 toon die inkomste wanneer die graan gedurende strooptyd verkoop word – indien die markprys ten tye van verkope teen ongeveer R1 950/ton verhandel. Die inkomste en kostes wat in dié artikel gebruik word, is slegs vir beginselberekeningdoeleindes en sluit nie aspekte soos differensiaalaftrekkings en/of ander bemarkingskoste in nie.

Stoor graan om later te verkoop
Hierdie strategie word algemeen deur produsente aangewend en word beskou as een van die minder riskante strategieë, omdat die graan steeds aan die produsent behoort. Sodoende kan die produsent deur die loop van die seisoen die graan bemark.

Iets wat produsente in gedagte moet hou, is die koste en risiko’s verbonde aan die strategie. Indien die produsent die graan stoor om later te verkoop, loop hy steeds die risiko dat die graanprys nie genoegsaam gaan toeneem om beide die stoor- en rentekoste op te maak nie.

Indien dit die geval is, sal dit nie vir die produsent lonend wees om die graan te stoor nie, aangesien die koste verbonde aan die strategie hoër is as wat die addisionele inkomste wat uit die strategie verkry kan word, is.

Produsente moet egter nie net die stoorkoste in berekening bring nie, maar ook die rentekoste. Die rentekoste sluit die rente op produksiekoste en geleentheidsrente in. Die geleentheidsrente verwys na die rente wat die produsent kan ontvang indien die produsent die graan verkoop het, ‘n inkomste ontvang het en die produksiekoste gedek het.

Gestel die mielieprys verhandel gedurende strooptyd (Julie) teen ongeveer R1 950/ton; die gemiddelde stoorkoste vanaf Julie tot Desember beloop ongeveer R80/ton en die stoorkoste tot Maart ongeveer R140/ton. Die rente-inkomste is ongeveer 6,5%, terwyl die rente op produksiekoste bereken word teen ‘n rentekoers van 10,25%.

Uit Tabel 2 is dit duidelik dat indien die produsent besluit om die graan te stoor, die koste van die strategie ongeveer R147/ton beloop om tot en met Desember te stoor en ongeveer R260/ton tot en met Maart, met bostaande inligting as basis.

Dit beteken dat die minimumprys waarteen die produsent die graan moet verkoop om die strategie winsgewend te maak, gedurende Desember ongeveer R2 095/ton en gedurende Maart ongeveer R2 208/ton is.

Verkoop fisiese graan en koop call (koop)-opsies
Wanneer die produsent dié strategie gebruik, sal hy die fisiese graan gedurende strooptyd verkoop en die inkomste uit die verkope ontvang, waarna hy Safex-call-opsies op die termynbeurs gaan koop.

Deur dit te doen, sal die produsent homself in ‘n posisie plaas waar sy risiko beperk is, maar steeds wins gemaak kan word wanneer die pryse deur die loop van die seisoen toeneem. Tabel 3 toon die berekening van die koste verbonde aan die strategie, asook die minimumprys waarteen die mark tydens opsievervaltyd moet verhandel sodat die strategie winsgewend kan wees.

Gestel mielies verhandel tydens strooptyd teen ongeveer R1 950/ton en die call-premie beloop ongeveer R120/ton vir ‘n Desember-call-opsie en R180/ton vir ‘n Maart-call-opsie. Die opsietrefpryse vir Desember en Maart is R2 040/ton en R2 080/ton onderskeidelik.

In Tabel 3 kan ons sien dat die koste verbonde aan die strategie ongeveer R120/ton en R180/ton vir die Desember- en Maart-opsies onderskeidelik is. Die minimumprys waarteen die mark tydens opsievervaldatum moet verhandel om die strategie winsgewend te maak, is R2 160/ton gedurende Desember en R2 262/ton gedurende Maart.

Ten slotte
Die hoofdoel van die artikel en die berekeninge wat hierin gemaak is, is om die beginsel agter die strategieë te illustreer deur algemene pryse van mielies te gebruik. Dit is belangrik dat produsente in ag neem dat genoemde strategieë op enige gewas toegepas kan word en nie net op mielies nie.

Produsente moet hulself vereenselwig met die beginsels van die strategieë wat gebruik kan word, asook die berekeninge wat daarmee gepaard gaan, sodat hulle vertroud is met die koste en risiko’s daaraan verbonde.

Wanneer produsente die verskillende strategieë met mekaar vergelyk, maak seker dat die fundamentele faktore in die mark ook in ag geneem word. Dit sal ‘n beter aanduiding gee van wat deur die loop van die seisoen in terme van pryse verwag kan word en sal ook die keuse van strategie vergemaklik.

Kontantvloei is ‘n kritiese faktor in die oorlewing van enige boerdery en daarom moet versigtige oorweging aan die impak van die strategie waarop besluit word, op die kontantvloei van die boerdery, geskenk word.

Publication: May 2018

Section: On farm level