Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 10: Babala (Pennisetum glacun)

2657

Hierdie artikel is die tiende in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in BL-gebaseerde gewas-aangeplante weidingrotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van weidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplante weidingrotasies word. Dit is egter noodsaaklik om ’n aangeplante weidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel.

Hierdie artikel fokus op ’n eenjarige aangeplante weidingsgewas wat gewoonlik in ’n kort eensomerseisoen-rotasie as ’n dekgewas en groenbemestingsgewas gebruik word, hetsy ná ’n eenjarige winterspesie as dekgewas met groenbemestingseienskappe, of met laasgenoemde gewas wat daarop volg.

Pennisetum glaucum (Babala/Pearl millet)

Eenjarige voergewasse word soms as gevolg van die jaarlikse saadbedvoorbereiding en vestiging as duur beskou. Die hoër produksie en smaaklikheid van nuwer babala-kultivars kan hierdie stelling verkeerd bewys. Gerber et al. (2006) en Robertson et al. (2009) rapporteer dat die produksie, smaaklikheid en gehalte van nuwer eenjarige somerkultivars dit gewilde gewasse vir intensiewe diereproduksiestelsels maak.

Agro-ekologiese verspreiding

Babala is in die 1850’s bekend gestel as voer wat in die Golfkus van Amerika gebruik is. Dit het oorspronklik uit Sentraal-Afrika gekom en word ook in die droër tropiese streke en dele van Indië aangetref. In Suid-Afrika word babala in die Vrystaat, Limpopo en KwaZulu-Natal geproduseer. Algemene kultivars wat plaaslik gebruik word, sluit in Milkstar, Hypearl, gewone babala, Nutrifeed en Speedfeed.

Hierdie spesie groei gewoonlik in gebiede met ’n reënval van enigiets tussen 200 mm tot 1 400 mm, maar meer dikwels in gebiede wat 250 mm tot 750 mm reën per jaar kry.

Hoewel hierdie spesie dikwels bekend is vir sy droogtebestandheid, is eweredig-verspreide reënval gedurende die groeiseisoen wenslik. As té veel reën tydens die voortplantingstadium van die plant val, is ’n misoes baie moontlik.

Babala is sensitief vir lae temperature, veral op kritieke fisiologiese groeistadiums soos die saailing- en voortplantingstadiums (blomstadium). Hoë temperature is nodig vir die graan van hierdie spesie om volwasse te raak. Wanneer dit gesaai word, ontkiem babala goed by grondtemperature van 18°C tot 29°C en opkoms kan binne twee tot ses dae onder gunstige klimaatstoestande plaasvind. Aanplanting in koeler grond kan probleme veroorsaak met verminderde opkoms en groter mededinging van onkruid.

Babala groei die beste in ligte, goedgedreineerde leemgrond. Hierdie spesie het die vermoë om swak en onvrugbare grond te verdra. Dit groei nie noodwendig goed in kleigrond wat tot versuiping geneig is nie. Dit het ook die vermoë om suur ondergronde (pH 4 tot 5) met ’n hoë aluminiuminhoud te verdra.

Bestuur en benutting

Babala het nie enige probleme met vestiging nie. Dit is algemene praktyk om hierdie spesie óf te strooi óf dit in rye te plant. Aanplanting in rye word aanbeveel vir gebiede wat minder as 700 mm reën ontvang. Die aanbevole saaikoers vir rye (0,9 m): 5 kg/ha tot 15 kg/ha, 15 kg/ha tot 25 kg/ha vir strooiing en so hoog as 30 kg/ha onder besproeiing.

Aangesien babala by ’n verskeidenheid grondsoorte aangepas is, is dit belangrik om ’n matige vlak van fosfor (P) en kalium (K) vir goeie produksie te verseker. Bobemesting met stikstof (N) (± 40 kg tot 70 kg N/ha), met reënval en groeistadium in gedagte, kan groot opbrengste van goeie gehalte tot gevolg hê.

In ’n hoë reënvalseisoen (± 1 200 mm/jaar) kan babala so veel as 12,9 ton/ha lewer wanneer dit dikwels ontblaar word (elke vier weke). Die hoogste produseerders onder hierdie toestande was Milkstar, Speedfeed, Hypearl en selfs gewone babala.

Die hergroeiverspreiding tydens ’n nat groeiseisoen verskil tussen kultivars. Milkstar en gewone babala groei vinniger in Desember en Januarie as in Februarie en Maart (vroeëseisoenkultivars).

Speedfeed en Nutrifeed het nie spesifieke produksiepieke nie, hoewel ’n geleidelike afname in produksie oor tyd heen (volseisoenkultivars) verwag word. Hypearl begin stadig, maar produksie bereik ’n piek in laat Februarie en Maart (laatseisoenkultivar). Babala wat tot die sagtedeegstadium uitgroei, kan vir hooi gesny word, ingekuil word of vir wintervoer uitgroei.

Nutrifeed wat in November geplant word, het die hooste produksie, gevolg deur Hypearl. Daar is bewyse dat Nutrifeed en Speedfeed die hoogste produksie het as dit in Desember geplant word, terwyl Milkstar en Speedfeed die beste gevaar het wanneer dit in Januarie geplant is.

In ’n laer reënvalseisoen (± 750 mm) het die babalaproduksiewaardes tussen 4,3 ton/ha en 5,6 ton/ha gewissel as dit maandeliks ontblaar is. Daar was geen beduidende verskil in produksie tussen verskillende kultivars en plantdatums nie. Gedurende hierdie seisoen was Milkstar en Hypearl die vroeëproduksiekultivars, terwyl Nutrifeed en gewone babala stadiger sal begin met ’n produksiepiek in Februarie/Maart. Speedfeed het in die middel van die groeiseisoen (einde Januarie) ’n piek bereik. Robertson, Botha en Gerber (2009) het ’n produksie gerapporteer van 8,4 ton/ha vir Hypearl wat op die Outeniqua-proefplaas (Wes-Kaap) met ’n langtermyn gemiddelde reënval van 728 mm/jaar getoets is.

Hypearl en Nutrifeed wat in November vir inkuilingsdoeleindes geplant word, toon dat die hoogste DM-produksiepotensiaal vir inkuiling verkry kan word (meer as 30 ton/ha), gevolg deur Speedfeed en gewone babala (meer as 17 ton/ha). Daar word egter waargeneem dat kultivars soos Nutrifeed en Speedfeed ’n beter DM-potensiaal vir inkuiling kan hê (meer as 14 ton/ha) wanneer dit in Desember geplant word.

As dit so laat as Januarie geplant word, kan Speedfeed en Milkstar meer as 13 ton/ha vir inkuiling produseer. Onder hierdie toestande kan dieselfde kultivars as wintervoer gebruik word.

Babala in blom.

 

Babala op weidingshoogte.

Bestuursuitdagings

Vinnig groeiende eenjarige aangeplante weidingspesies soos babala kan ’n paar bestuursuitdagings hê. Daar word dikwels gesien dat die piekgroeikoers van hierdie spesie tot gevolg kan hê dat die aangeplante weiding vinniger groei as die spoed waarteen die diere dit kan bewei, en ’n skielike afname in smaaklikheid en kwaliteit word verwag, wat daarop neerkom dat ’n hoër persentasie van die plantmateriaal selektief bewei word.

Die sekondêre effek van ’n té hoë stand van babala is ’n baie stadiger hergroei wanneer dit ontblaar is. Daar bestaan ook die risiko van nitraatvergiftiging as gevolg van té hoë N-aanwendings onder suboptimale groeitoestande. Die plaagbeheer in babala-produksie sal die hantering van stinkbesies, aalwurms, grysstinkbesies en voëls behels.

Grondbewaring en gesondheidsvoordele

’n Seisoenale rotasiedekgewas soos babala kan ’n uiters belangrike rol speel om grondstruktuur, waterinfiltrasie en wortelindringing te verbeter.

Bykomende voordele sluit in minder korsvorming en gronderosie, afloop en loging van voedingstowwe. Hierdie spesie kan ook ’n bekostigbare bestuursopsie op die terrein verskaf om die inherente grondorganiese materiaal deur ’n uiters sterk wortelstelsel te verbeter, en ’n geskikte opsie om baie nat grond wat gereeld in die winter of somer besproei word, uit te droog.

Diereproduksie-aspekte

Uit ’n diereproduksieperspektief is die voerkwaliteit wat van die goeie bestuur van babala verkry word ’n ru-proteïen-inhoud (RP-inhoud) van tussen 9% en 13% (onbemeste grond) en 13% en 24% (bemeste grond), afhangende van stikstofbemesting saam met voldoende vog.

Totale verteerbare voedingstowwe van 60% tot 70% en ’n droëmateriaalverteerbaarheid van 80% tot 85% kan verkry word. ’n Weidingkapasiteit van 1 tot 1,5 GVE’s/ha is moontlik.

Groter gewasdiversifisering met babala

As gevolg van die sterk wortelstelsel en hoë biomassaproduksie is babala baie geskik as ’n eenjarige dekgewas in ’n wisselboustelsel. Daar is talle maniere om babala as ’n dekgewas by wisselbou in te sluit om die diversiteit te verhoog.

Dit kan in ’n suiwer stand gevestig word, of in ’n mengsel met ander (dek-) gewasse, of as ’n volleseisoengewas om die maksimum voordeel daaruit te verkry. Babala kan vir ’n kort tydperk in die lente voor die kontantgewas gebruik word, of later in die herfs, nadat die belangrikste gewas geoes is.

In Suid-Afrika, waar gewasrotasies meestal baie kort op mekaar volg, is dit dikwels makliker om ’n herfsdekgewas na die oes van ’n kortseisoen-kontantgewas of kuilvoer te plant, mits daar genoeg tyd, voedingstowwe en grondwater is sodat dit kan vestig voordat die vroeë herfsryp begin.

In sekere situasies kan ’n eenjarige koueseisoen-peulgewas (of mengsel) geplant word direk nadat die dekgewas beëindig is, byvoorbeeld weiwieke (Vicia villosa), hawer en radys, gevolg deur ’n kontantgewas.

Nadat die dekgewas verwyder is, moet onkruid in die braakland beheer word om grondwater te bewaar ten einde die maksimum voordeel uit die dekgewas te verkry. ’n Geskikte geenbewerkingplanter moet gebruik word om die graangewasse direk in die reste van die dekgewas te plant, sonder dat enige ander bewerking die grond versteur.

Normale geïntegreerde bemestings- (gegrond op grondvrugbaarheidsvlakke en opbrengsmikpunte), onkruid- en plaagbeheerpraktyke moet gevolg word. Tydens die transformasiefase nadat nuwe BL-graanlanderye gevestig is (byvoorbeeld tydens die eerste paar jaar), word ’n toename van 30% in N-bemesting op mielies aanbeveel omdat die N in die grond geïmmobiliseer is. Daarna moet die beskikbaarheid van N vir die plant deur middel van ’n geskikte ontleding geëvalueer word, en bemestingsbehandeling moet dienooreenkomstig aangepas word.

Babala moet verkieslik by baardontwikkeling- of blomstadium met ’n snyroller platgeslaan word voordat dit lewensvatbare sade oplewer wat onkruid kan raak. Onkruiddoders kan ook aangewend word wanneer nodig om hergroei vinnig dood te maak. Die dekgewasreste bly op die grond se oppervlak, wat bedekking verskaf wat erosie beperk en waterinfiltrasie bevorder asook hulle tempo van mineralisasie verminder.

Gevolgtrekking

Babala is ’n eenjarige somergras wat goed aangepas is by goedgedreineerde gebiede en goed in arm en onvrugbare grond, asook in hoogs vrugbare grond groei. Dit kan gebruik word vir hooi, kuilvoer, wintervoer, en dit kan ook bewei word. As gevolg van hierdie spesie se hoë voedingswaarde, is dit ’n spesie wat aanbeveel word om aangeplante weiding van ’n hoë gehalte te verskaf sonder dat noemenswaardige hoeveelhede bemesting nodig is, veral as dit in gewasrotasie geplant word met gewasse wat hoë vlakke van bemesting en besproeiing nodig het.

Hierdie spesie verskaf die geleentheid om oormaatvlakke van voedingstowwe in die grond te verwyder, asook om uiters nat grond uit te droog. Baie min teenkwaliteitfaktore kom binne hierdie spesie voor. Nitraatvergiftiging is egter ’n potensiële bedreiging in goed bemeste aangeplante weidingstande, maar anders as sorghum, is babala veilig vir perde.

Belangrike eienskappe van nuwe kultivars is:

  • Die kultivars bevat nie blousuur nie, wat impliseer dat dit sonder probleme onder verskillende omgewings- en grondtoestande swaar bewei kan word. Dit is die ideale aangeplante weiding vir skape, beeste en perde.
  • Die vinnige hergroeikoers en hoë voergehalte maak dit ’n ideale aangeplante weidingsgewas vir direkte beweiding, vir afronding van lammers en speenkalwers, of as ’n aangeplante weiding vir melkkoeie.
  • Vir optimale kwaliteit en energie-inhoud moet dit benut word wanneer die plant ’n hoogte van 300 mm tot 500 mm bereik.
  • Rotasiebeweiding verseker goeie produksie en dit moenie op ’n hoogte laer as 150 mm tot 200 mm afgewei word nie, sodat vinnige hergroei verseker kan word.
  • As gevolg van die hoë blaarinhoud kan goeie hooi gemaak word.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.

Verwysings

Gerber, HS, Botha, PR and Meeske R. 2006. Die produksie van voersorghum- en bastervoermanna kultivars as wei- en kuilvoergewasse. Outeniqua Proefplaas Inligtingsdag bundel. pp 2 – 21.
Robertson, MM, Botha, PR and Gerber, HS. 2009. The effect of planting method and seeding rate on the dry matter production of forage sorghum hybrids and hybrid millets. Grassroots. February, 2009. Vol 9, No 1, pp 31 – 38.