April 2018

COBUS OLIVIER, wetenskaplike: Voorspellingsnavorsing, Suid-Afrikaanse Weerdiens

Die eerste aanduidings vir reënval oor die tradisionele winterreënvalstreke is uit. Die voorspellingsisteem wys dat daar ‘n groter waarskynlikheid vir bo-normale reënval (Figuur 1) oor gedeeltes van die Wes-Kaap gedurende Mei, Junie en Julie is.

Alhoewel die oorspronklike voorspelling ‘n wyer area vir bo-normale reënval (linkerkantste grafiek in Figuur 1) aandui, is dit net gedeeltes van die Wes-Kaap wat marginale vaardigheidsvlakke bereik. Vir beplanningsdoeleindes word lesers aangeraai om, waar moontlik, te wag vir toekomstige voorspellings om te sien of daar ‘n konstante aanduiding is vir ‘n spesifieke rigting (bo- of onder-normaal) van reënval.

Die regterkantste grafiek in Figuur 1 toon wat die normale reënval gewoonlik is en dui aan dat reënval vinnig begin verbeter oor die Wes-Kaapse gedeeltes. Nietemin, gegewe die huidige toestand van die droogte oor die suid-weste en suidelike gebiede, word lesers aangeraai om spaarsaam met water te werk totdat reën die waterbronne begin aanvul.

Wat temperature betref, is daar ‘n groter waarskynlikheid van bo-normale minimum- en maksimumtemperature (Figuur 2 en Figuur 3) vir die suid-westelike gedeeltes van die land. Alhoewel dit in geheel ‘n gematigde winter kan beteken, is daar nog steeds kanse vir intense koue periodes wat gewoonlik gepaardgaan met kouefrontsisteme.

Ongelukkig kan hierdie sisteme nie spesifiek op ‘n seisoenale tydskaal voorspel word nie en lesers word aangeraai om korttermynweervoorspellings en waarskuwings vanaf die Suid-Afri­kaanse Weerdiens (SAWD) dop te hou.


Publication: April 2018

Section: Relevant