Inligting – neem deel en vind baat

Gepubliseer: 25 Februarie 2021

1602

Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA
luan@grainsa.co.za

05/02/2021

In die hedendaagse omgewing is boerdery nie meer net boerdery nie – dis ’n gesofistikeerde besigheid waar die produsent daagliks gekonfronteer word met ’n reeks besluite wat geneem moet word.

Hier gaan dit nie bloot oor watter operasionele dinge om eerste te doen soos die dag vorder nie, maar dit behels makro-omgewingsbesluite ook. Die meeste van hierdie besluite word in onseker tye geneem en word boonop deur faktore wat heeltemal buite die produsent se beheer is, beïnvloed.

Hierdie faktore verhoog die gevoel van onsekerheid, wat die besluitnemingsproses selfs verder vertraag. In die plaaslike graan- en oliesademark kan omstandighede in ’n oogwink verander en dit kan ’n wesenlike impak op produsente se somtotaal (bottom line) hê – hetsy positief of negatief. Die verandering in byvoorbeeld kommoditeitspryse – wat maklik in die kwessie van ’n paar maande met tot R1 000/ton kan verskil – kan ’n uiters groot effek op die produsent se winsgewendheid hê. Onsekerheid en die wisselvalligheid van die plaaslike mark is nie iets wat net gaan verdwyn nie, maar bly eerder ’n realiteit van die tye waarin daar handel gedryf word. Dit is dus noodsaaklik dat produsente gerat moet wees om besluite te neem ten spyte hiervan.

Die realiteite van besluitneming
Besluitneming in die markomge­wing, soos byvoorbeeld wanneer om graan te verskans, te verkoop, te stoor om later te verkoop of om posisies in die termynmark in te neem, sal altyd moeilik bly weens die onseker­heid wat in die markte heers. Die volgende stellings mag dalk bekend klink: “Verlede jaar het ek my graan voor seisoen verskans, toe gaan die prys op en nou het ek soveel op die totale som verloor.” Of dalk iets soos: “Plaas dat ek vroeër begin het met my bemarking toe die graan nog teen beter vlakke verhandel het, dan kon ek dalk ’n groter winsgemaak het.”

Die realiteit is dat produsente bitter selde – indien ooit – teen die hoogste pryse verkoop. Alhoewel dit altyd die mikpunt sal wees, is dit nie noodwendig moontlik nie en moet dit in gedagte gehou word wanneer bemarkingsbesluite geneem word.

Figuur 1 en Figuur 2: Vraelyste word verwerk om inligting rakende risiko’s en produksietoestande soos in die figure vermeld maandeliks weer te gee.

Inligting die sleutel tot sukses
Een manier om die onsekerheid in besluitneming tot ’n mate te troef, is om soveel as moontlik inligting in te samel wanneer besluite geneem word. In die Suid-Afrikaanse graan- en oliesademark is daar ’n wye reeks inligting wat beskikbaar is vir die verskillende markdeelnemers om hul besluite op te baseer. Instansies soos die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK), die Suid-Afrikaanse Graan­inligtingsdiens (SAGIS) asook die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) se vraag-en-aanbod-komitee, stel verskeie verslae op ’n weeklikse en maandelikse basis bekend. Hierdie verslae sluit in: produksieverwagtinge, werklike lewerings, invoerinligting, verbruik en beskikbare voorraad asook skattings van die verbruik en voorraad vir die seisoen. Dié inligting is waardevol vir besluitneming, aangesien dit ’n goeie aanduiding gee van watter algemene tendense die plaaslike mark behoort te volg.

Ander belangrike inligting is die prysinligting wat daagliks deur Graan SA bekendgemaak word, naamlik die pariteitspryse. Dit toon die waarde van plaaslike graan en oliesade relatief tot die internasionale graan- en oliesaadpryse. Suid-Afrika moet in die internasionale konteks meeding en dus is dit belangrik om te weet waar die plaaslike pryse relatief tot die internasionale pryse lê. Dit ondersteun produsente se besluitneming, aangesien hulle hierdeur afleidings kan maak oor die moontlike rigting van prys­­be­wegings asook die algemene tendensrigting van pryse.

Maandelikse vraelyste
Bogenoemde is van die vernaamste inligting wat deur die verskillende rolspelers in die graan- en oliesadebedryf gebruik word om besluite te neem. Alhoewel hierdie inligting van kardinale belang is, is dit slegs ’n gedeelte van die totale pakket van inligting wat produsente moet oorweeg. Daar is heelwat kritieke gedeeltes van die produksieseisoen waar instansies soos die NOK nie verslae beskikbaar stel nie. Dit is hoofsaaklik tussen die voorneme-om-te-plant-verslag (Oktober) en die voorlopige-oppervlakte-verslag wat in Januarie bekendgemaak word. Eersgenoemde verslag toon die verwagte oppervlakte wat aangeplant sal word vir die seisoen, terwyl laasgenoemde aantoon hoeveel van die voorneme werklik geplant is. Tydens planttyd is daar altyd groot onsekerheid oor hoeveel hektare werklik aangeplant word, aangesien dit ’n wesenlike impak op plaaslike pryse kan hê.

In die VSA doen die Departement van Landbou weekliks produksietoestandopnames waarin hulle byvoorbeeld aantoon hoe die aanplantings vir die seisoen vorder. In hierdie verslae druk hulle die aanplantings uit as ’n persentasie van die verwagte oppervlakte vir die seisoen. Die verslae toon ook die produksie­toestande deur aan te dui watter persentasie van die aangeplante graan in watter toestand is (bv. gemiddeld, bogemiddeld en uitstekend). Dit gee ’n goeie oorsig van wat verwag kan word betreffende produksie vir die seisoen.

Daar was egter in Suid-Afrika ’n groot leemte wat hierdie tipe verslae betref. Graan SA het dus besluit om hierdie gaping te vul deur op ’n maandelikse basis sulke opnames te doen. Die opnames word in die vorm van ’n vraelys aan produsente gestuur en verskil afhangend van die tyd van die jaar. Die vraelyste toon aan hoeveel van die beplande oppervlakte aangeplant is en hoe die produksie-omstandighede deur die loop van die seisoen lyk.

Die sukses van dié verslae deur Graan SA hang grootliks af van die deelname deur produsente. Hoe meer produsente vanuit die verskillende produksiestreke die vraelyste invul, hoe meer verteenwoordigend sal die resultate wees. Produsente word dus aangemoedig om hierdie vraelyste maandeliks in te vul. Die somergraanvraelyste word elke eerste week van die maand uitgestuur om in te vul, terwyl die wintergraanvraelyste in die tweede week van elke maand uitgestuur word.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.