Kwaliteit van insette máák saak

1002

October 2017

Corné Louw, senior ekonoom, Graan SA

Produsente spandeer jaarliks miljoene rande aan produksie-insette, nou waar­-om kanse vat met die kwaliteit daarvan? Graan SA staan deurentyd sy lede by om te help met die beslegting van insetgeskille, waar die kwaliteit van insette skade aan die lid se oes veroorsaak het. Die afgelope seisoen was weer eens ‘n bewys daarvan toe heelparty insetprobleme by Graan SA aangemeld is. Hier volg ‘n paar algemene wenke vir die aankoop en gebruik van insette om risiko’s te verminder.

Die gebruik van ongetoetste insetmiddele en die aankoop van insetmiddele by onbekende verspreiders stel produsente jaarliks aan groot risiko’s bloot. Let hierop:

  • Maak seker dat die insetverskaffer ‘n erkende maatskappy met ‘n bewese rekord is.
  • Sorg dat alle aanbevelings sover moontlik op skrif gestel en bewaar word.
  • Probeer om rekord te hou van alle aankope.
  • Gaan die kwaliteit van die insetmiddel na.
  • Wanneer saad behandel word, moet dit deur die saadmaatskappy self of met gesertifiseerde saadbehandelingstoerusting gedoen word.
  • Wanneer landbouchemikalieë aangekoop word, maak seker dat:
  • die middel geregistreer is onder Wet 36 van 1947 vir die doel van gebruik;
  • die maatskappy wie se middel dit is, lid van CropLife is; en
  • die verspreidingsmaatskappy lid van CropLife is en die agent gekwalifi­seer is.
  • Dit bied ekstra gemoedsrus as ‘n maatskappy waarby aangekoop word, ‘n lid van ‘n sambreelorganisasie is, soos SANSOR (saad), Fertasa (kunsmis), Crop­Life (landbouchemikalieë) en SAAMA (landboumasjinerie).
  • Raadpleeg die 2017 MIG-publikasie van LNR-Graangewasse.

Gebruik oor die algemeen klein kontroleper­sele om nuwe insetmiddele te toets alvorens dit op groot skaal gebruik word. Moet nie ‘n nuwe middel op al jou hektare gebruik nie.

Wat Rhizobium-bakterieë betref, is dit be­langrik dat slegs geregistreerde (L-registrasie onder Wet Nr. 36 van 1947) entstowwe gebruik moet word. Die spesifieke produk moet ook verkieslik deur die betrokke saadmaatskappy wie se saad geplant word, aanbeveel word. Moenie nuwe produkte op groot skaal gebruik nie. Produsente wat hul entstof wil laat toets om seker te maak dat dit lewensvatbaar is, kan die LNR-PPR (Roodeplaat) hiervoor kontak.

Kontak Francina Bopape by PhalaneF@arc.agric.za , Poppie Mthimunye by MthimunyeP@arc.agric.za of dr Ahmed Hassen by HassenA@arc.agric.za of skakel hulle by 012 808 8138.

Kwali­teits­probleme
Wanneer probleme met die kwaliteit van ‘n inset vermoed of ondervind word, moet die volgende stappe gevolg word:

  • Kontak so gou moontlik die verteenwoordiger van wie die insetmiddel aangekoop is en dring op ‘n ter plaatse ondersoek aan. Hou ook rekord van datums en gesprekke.
  • Versamel en stel soveel moontlik inligting op skrif, neem foto’s of maak video-opnames om na terug te verwys.

Daarna moet die volgende stappe oorweeg word indien die probleem nie opgelos is nie:

  • Vir lede, stel Graan SA in kennis indien die maatskappy nie die nodige aandag en oplossings vir die betrokke probleme kan verskaf nie; en
  • tree in verbinding met ‘n onafhanklike wetenskaplike om ‘n ter plaatse ondersoek te doen.

Moenie te lank hiermee wag nie. Hoe langer hiermee gesloer word, hoe groter uitdaging raak dit om te bewys dat dit kwaliteitsprobleme is wat skade veroorsaak het.

Saad
Ingeval ‘n produsent, nadat die saak reeds met die verteenwoordiger en die maatskappy wat die saad verskaf het, opgeneem is, steeds vermoed dat daar probleme met die saad is wat hy aangekoop het, kan hy die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye kontak, wat dan ‘n handelskontrole-ondersoek ingevolge die Plantverbeterings­wet doen. Die kontakbesonderhede is soos volg: Oos-Kaap: Ge­rald Jack by 041 484 2725 of Felicity Daniels by 041 484 2725, Vrystaat: Zanele Buhlungu by 051 406 0967, Gauteng: Christo Botha (Pre­toria) by 012 319 6139 en Wes-Kaap: Christo Gouws by 021 809 1709.

Produsente word aanbeveel om rekord van lotnommers of kodenommers te hou, aangesien indieningsmonsters van alle saadlotte by die betrokke geregistreerde saadlaboratoriums waar kwaliteitskontrole vir dispuutondersoeke uitgevoer word, beskikbaar is. Tydens die aankope van saad behoort ‘n ontledingsertifikaat ten opsigte van die kwaliteit van die spesifieke saadlot, wat uitgereik is deur ‘n geregistreerde saadlaboratorium, aangevra te word. Produsente word ook aangeraai om die fisiese sak en etikette wat aan die sak aangebring is, te bewaar sowel as die faktuur wat uitgereik is vir die aankope van die spesifieke lot.

Kunsmis
Ál meer ongetoetste produkte is in die mark beskikbaar raak. Moet nie nuwe middels op groot skaal gebruik nie. Laat toets jou kunsmis onafhanklik. Dit is uiters belangrik dat kunsmismonsters reg geneem moet word. Kunsmismonsters om kunsmiskwaliteit te toets, moet in samewerking met die kunsmismaatskappy geneem word. Produsen­te kan in dié verband vir Graan SA, Fertasa of vir mnr William Deale direk kontak vir die neem en ontleding van monsters. Kontak William Deale by 083 947 2389.

Indien ‘n produsent steeds vermoed dat daar probleme is met die kunsmis wat gekoop is, kan hy Graan SA skakel of ‘n klagte direk by die Registrateur van Wet 36 van 1947 aanhangig maak.

Landbouchemikalieë
Die kwaliteit van landbouchemikalieë kan by die SAGL se laboratorium laat toets word. Kontak Cecilia Breedt by Cecilia.breedt@sagl.co.za , 012 807 4019 x 2023 of 082 458 9327

Publication: October 2017

Section: On farm level