Blaarvoeding op grondbone – mites en waarheid

Gepubliseer: 25 Februarie 2020

2175
Loureine Muller,
grondboonagronoom, Triotrade

Die produsent van vandag hoor kort-kort die woord “blaarvoedingtoedienings” en moet dan kopkrap om ’n weg te vind deur die doolhof van informasie. Dit is noodsaaklik dat die produsent moet onderskei tussen die waarheid en mites rondom blaarvoeding, veral by grondbone.

Grondboonproduksie verskil teenoor dié van byvoorbeeld mielies, waar daar sterk klem gelê word op die toediening van blaarvoeding vir die verhoging van produksie. Die produsent moet dus kennis dra van grondbone se voorkeure.

Aanbevelings vir ’n blaarvoedingmengsel wat die normale makro- sowel as mikro-elemente in sekere verbindings en hoeveelhede bevat, word dikwels gemaak. Wees egter versigtig om ’n algemene blaarvoeding op grondbone toe te dien. Hierdie stelling laat wenkbroue gewoonlik lig, maar daar moet in ag geneem word dat grondbone nie altyd positief op sekere elemente reageer nie.

Die grootste sondebok in die verhaal is stikstof. Grondbone is ’n gewas wat sy eie stikstof produseer deur stikstofbinding, in samewerking met bakterieë wat in simbiose op die grondbone se wortels groei. ’n Goeie rede om versigtig te wees vir stikstoftoedienings is die reaksie van die grondboonplant op hierdie element. Die grondboonplant gaan dadelik in ’n vegetatiewe groeistadium in sodra daar stikstof op die blare toegedien word en hou dus op met blom. ’n Grondboonplant wat te welig groei sal nie peule vorm nie. In tye van oorvloed is daar geen rede om te probeer oorleef nie en vir grondbone is peulvorming die metode tot oorlewing.

Gereelde navrae oor die noodsaaklikheid van vars toegediende kunsmis op grondbone het ook betrekking. Dit is wetenskaplik bewys dat grondbone nie noemenswaardig op vars toegediende kunsmis reageer nie. Die uitsonderlike gevalle is daar wel, wanneer fosfaattekorte in die grond voorkom en grondbone in dooie woestynsand aangeplant word. Die wortelstelsel van die grondboon is van so ’n aard dat dit voedingstowwe opneem wat reeds onbeskikbaar geword het vir gewasse soos mielies en sonneblomme. Beide hierdie gewasse het vlak wortelstelsels. Die grondboon benut dus die “ou” toegediende kunsmis die beste.

Die belangrikste elemente wat ’n impak op grondbone het, is kalsium en boor. Hierdie twee mikro-elemente bepaal die kwaliteit van die geproduseerde grondboon sowel as die kiemkragtigheid van die saad vir die nuwe seisoen se produksie. Daar word gereeld gevra of toegediende kalk genoegsame kalsium vir grondbone beskikbaar kan stel. Die antwoord op hierdie vraag is heel eenvoudig. Dolomitiese en kalsitiese kalk word toegedien by ’n pH van 5,8 en minder om regstellings te maak. Dit word aan die begin van die seisoen gedoen en word ingewerk. Die vrystelling van kalsium uit hierdie bron vind baie stadig plaas en is nie van veel waarde vir die voorsiening van kalsium vir die grondboonplant nie. Die pH waarvoor gemik word vir goeie produksie is tussen 6,2 en 6,5. By hierdie vlakke is alle elemente beskikbaar vir opname deur die plant.

Kalsium bly die ruggraat van die grondboonplant en is die enigste element wat nie afwaarts in die plant verplaas word nie. As gevolg van die unieke manier waarop kalsium deur die grondboonpeul opgeneem word, is dit belangrik dat kalsium op die regte tyd beskikbaar is binne die peulvormingsone.

Vir kalsium is die kritieke periode van opname 20 tot 30 dae nadat die eerste ankers die grond binnegedring het. Hierdie tydperk kan tot 60 dae gerek word. Wetenskaplikes het bewys dat 69% van alle kalsiumopname binne die eerste 20 tot 30 dae na die begin van ankervorming plaasvind.

Kalsiumtoediening moet so beplan word dat dit vanaf die eerste ankervorming vir die daaropvolgende 30 dae beskikbaar is. Dit is dus uiters belangrik om die hoogs beweeglike element met die aanvang van blom toe te dien. Aangesien Suid-Afrikaanse grondbone deesdae bestaan uit kultivars met groter en kleiner pitte, is die aanbeveling vir gipstoediening soos volg: kleinpitkultivars = 400 kg/ha tot 600 kg/ha vir Akwa, Kwarts en Tufa; grootpitkultivars = 1 000 kg/ha tot 1 500 kg/ha vir Anel, SelliePlus en AkwaPlus.

Net soos kalsium is boor hoogs beweegbaar in die grond. Hierdie mikro-element is belangrik vir bestuiwing sowel as vrugset. Die aanbevole tyd van toediening is met die aanvang van eerste blom (vyf tot agt weke na plant). Indien dit later toegedien word, neem die effektiwiteit en impak van boor af. Die aanbevole dosis is 560 g boor per hektaar. Dit kan ook in twee toedienings van 280 g boor per hektaar opgedeel word. Te veel toegediende boor raak egter toksies vir die plant. Met blaarontledings is 20 DPM tot 60 DPM as aanvaarbare vlakke gesien. Lesings minder as 20 DPM dui op tekorte en lesings groter as 100 DPM dui op toksisiteit.

Daar is baie produkte op die mark wat tekorte kan aanvul. Dit gaan oor eie voorkeur wanneer die produkte gekies word. Onthou egter dat hoe nader ’n mens aan die natuur bly, hoe makliker is dit vir die plant om elemente op te neem. Seewierekstrak is ’n baie goeie voorbeeld hiervan.

Soms raak ’n oormaat inligting verwarrend en is dit nodig om terug te keer na die basiese beginsels. In opsomming is dit dus belangrik om die volgende te onthou:

  • Grondbone reageer nie op vars toegediende kunsmis nie.
  • Die belangrikste elemente om aan die grondboon te voorsien, is kalsium en boor.
  • Kalsium in die vorm van gips of selfs verkorrelde gips is ’n moet vir opname deur die peul self.
  • Boor word in ’n blaarbespuiting toegedien. Om koste te bespaar, is dit ’n goeie idee om dit saam met die eerste blaarvlekbeheer toe te dien.

Grondbone is en bly ’n wenner. Daar is nie kortpaaie nie, maar wel ’n winsgewende pad deur die nodige op die regte tyd toe te dien.