April 2017

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain medewerker

“Ke Nako! Dit is tyd vir die jonger generasie produsente om hul voete nat te kry deur ons land uit die dorre woestyn te lei oor die rivier (ten spyte van die gevare wat die water inhou) na die groener weivelde (die ware Suid-Afrika).”

Só het mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA) vanjaar se dinamiese jong produsente, wat op 14 Februarie met die eerste fase van die Grain Academy-program afgeskop het, uitge -daag deur die voorbeeld van die Serengeti wildebeesmigrasie te gebruik om leierskap te verduidelik.

In vennootskap met die Universiteit van die Vrystaat se Besigheidskool en Graan SA is dié sakeleierskapsontwikkelingsprogram in 2013 bekend gestel as ‘n platform vir onderrig en interaksie, waar daar gefokus word op die uitdagings wat plaaslike voedselproduksie in die gesig staar. Vanjaar is daar 20 jong landbouleiers wat die program, wat in drie fases opgedeel is, bywoon.

“Moenie hierdie as ‘n studiekursus sien nie – jy is nie ‘n student nie. Gebruik hierdie program om in jouself te investeer,” het De Villiers gesê.

Mnr Deon Barnard (adjunkdirekteur: Universiteit van die Vrystaat se Besigheidskool) het beaam wat De Villiers gesê het. “Die fondasie van hierdie program sal jou in jou persoonlike ontwikkeling ondersteun en sodoende sal jy die impak van die veranderinge in die eksterne omgewing kan antisipeer.”

Barnard het na David Brooks se boek getiteld ‘Road to Character’ verwys. “Brooks het ʼn lewenskarakterskets gedoen op agt groot persoonlikhede wat in die afgelope 300 jaar geleef het en hierdeur twee persoonlikhede geïdentifiseer, naamlik: Adam 1 en Adam 2.

“Vir Adam 1 gaan dit oor roem en die soeke na sy of haar eie belang. Dié tipe persoonlikheid is ook gewoond aan ‘n samelewing waar alles vinnig gebeur en maklik is. Daarteenoor is Adam 2 die persoon wat waarneem wat in sy omgewing gebeur en dié persoon maak ook ‘n verskil deur betekenis in sy/haar lewe te vind. Wanneer jy die doel in jou lewe vind, ondersteun dit jou om die belang van ander belangegroepe in jou omgewing te bevorder en sodoende sal jy ʼn nalatenskap agterlaat,” het hy verduidelik.

Luidens ‘n persverklaring het Syngenta hierdie jaar besluit om die fokus meer op leierskap te plaas, maar ook op innerlike vervulling en die positiewe impak wat dit op ‘n landbousaak het. “Hierdie program is daarop gemik om produsente met die nodige vaardighede toe te rus, wat volhardingsvermoë bou en wat hulle in staat sal stel om nie te swig onder die druk van wanhoop en onsekerheid (soos die droogte en kommandowurms) nie,” het mnr Antonie Delport (besturende direkteur: Syngenta SA) gesê.

Vanjaar spog die program met vyf vroueprodusente. Vir meer inligting oor elkeen van die jong landbouleiers, besoek gerus die Grain Academy-webtuiste by www.grainacademy.co.za.

Publication: April 2017

Section: Relevant