September 2017

Beste Grootneef

Die ruilvoet loop vanjaar met so ‘n effense gout in die groottoon. Na al die swoeg en sweet, is daar nie veel van ‘n reserwe vir die nuwe seisoen nie.

Ou Neef, in die jaar van oorvloed, is dit meet en pas om gelyk te breek. Met ‘n mielieprys van R1 950, kos 40 sakkies saad nou 45 ton! ‘n Ton ureum jaag jou 3,8 ton mielies uit die sak en 1 000 liter diesel ‘n stewige 3,9 ton. ‘n Trekker se fenbelt is gou ‘n halwe ton mielies.

As almal in die tou hul deel het, is daar nie veel van die oes vir Ma en die bankbestuurder oor nie. Dalk moet ek vanjaar ‘n land met sonneblomme plant, sónder bemesting, net om die nuwe seisoen deur te sien.

Ou Neef, ek het al ‘n paar nagte se slaap verloor oor hoe om die somme te laat klop. Tot een aand, toe bel ek die bankbestuurder en vertel hom alles. En toe slaap ek lekker omdat ek weet hy gaan nou wakker lê…

Onthou jy nog die geskrifte op die ou kragkaste se deksels? “Danger, gevaar, nkosi, op las/by order”. So met ‘n weerligstraaltjie wat wys die kas kan jou blits as jy daar vroetel.

Maar dit is die woorde “op las” wat eintlik fassineer. Dat so kort sinnetjie soveel gesag kon dra. Maar hoe het “op las” nie geval nie. Tot rommelstatus ou Neef, rommelstatus. Die anderdag sien ek so ou kragdeksel op ‘n hoop by die skrootwerf. Al die gesag van ‘n vorige bedeling gestroop en vir ‘n paar rand verkwansel.

Ou Neef, onthou jy die bollie wat die “op las”-ooms uitgedink het? Moenie plate agteruit speel nie, want dan hoor jy ‘n bose boodskap. Moenie dans nie, dis sonde. En moenie na Elvis luister nie, dit besoedel die gemoed. Om die “op las”-laste te ontduik, is volkspele gespeel en na LM Radio geluister. Plate kon in elk geval nie agteruit nie – ons het dit baie in die koshuis probeer.

Nou, 40 jaar na Elvis die tydelike met die ewige verwissel het, leef sy musiek nog op die draadloos en het niemand iets daarvan oorgekom nie. Dis eintlik, gemeet teen wat deesdae as musiek opgedis word, rustige musiek!

Ou Neef, ons het uitgemis op alles wat lekker was. As ’n mens kyk na al die lawwe reëls en regulasies waarmee ons grootgemaak is, was dit soos om ‘n vark te skeer – groot lawaai maar min wol.

Die “op las”-ding het vele grense gestel – ook op die gemoed en denke. Moenie dink, blink of stink nie. Moenie eet, weet of sweet nie (ala Fanus Rautenbach). Op las. Finish en klaar. Wie staan in watter tou. Wie swem waar. Oppas vir die Rooi, Geel en Swart gevaar. Op las.

“Op las” het genadiglik oor tyd met al die winde van verandering verrinneweer tot ‘n herinnering. Google is immers groter as “op las”. Maar die vet weet, ‘n samelewing kort brieke en reëls óók. Jy kan verdrink in menseregte as wetteloosheid straffeloos ontsnap. ‘n Mens kan tog nie elke keer as jy kwaad raak oor iets, ‘n asblik of ‘n stadsaal aan die brand steek nie? En verkeerd bly verkeerd. ‘n Skelm Despoot is die kiem in die pot, maak nie saak of dit 1720 of 2017 is nie.

Ou Neef, voor ons beswaard raak. Vir die liggelowiges wat kla dat die Cheetahs se rugbylus geblus is, onthou – daar is net een beker en dis die Curriebeker. Mag die Cheetahs weer vanjaar uit daardie fonteintjie drink.

Groete op die Oosgrens!
Kleinneef

Publication: September 2017

Section: Relevant