Vrae oor geloofwaardigheid by Kongres beantwoord

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 30 Maart 2021

813

Daar is tydens dag een van Kongres ’n uur ingeruim vir produsente om vrae rakende die geloofwaardigheid van die Suid-Afrikaanse graanmark aan die kongrespaneel te stel. ’n Kort oorsig word hiermee aan produsente, wat Kongres nie bygewoon het nie, verskaf.

Verduidelik asseblief Graan SA se huidige oplossing vir die differensiaal en watter weë gevolg gaan word om alternatiewe vir die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) daar te stel.

Graan SA werk nou saam met Johan Strauss, wat sy PhD-studie oor dié onderwerp aan die Universiteit van die Vrystaat doen. Johan het deur sy studie gevind dat daar tans wêreldwyd sewe verskillende modelle toegepas word en hy kon al sewe evalueer. Sy bevinding is dat die Suid-Afrikaanse mark so uniek is betreffende die aantal leweringspunte en markkonsentrasie dat ’n eiesoortige oplossing nodig is.

As deel van die modelontwerp het hy ’n rekenaarprogram ontwikkel wat ’n berekening kan doen om die vraag en aanbod van die verskillende leweringspunte in verhouding met die naaste of beste verbruikspunt te bepaal. Gebaseer op drie of vier jaar se leweringsyfers kan die nodige berekening nou gemaak word. Elke lewe­ringspunt kan dus sy eie differensiaal bereken, wat die stelsel baie meer dinamies en lewendig – maar regverdig – maak. Voorleggings is aan die JSE gedoen en hulle is tans besig om die model te evalueer. Klik op die QR-kode vir ’n verdere verdui­deliking van die model.

Wat is ’n regverdige prys vir graanuitvoere? Met ander woorde, waarom verhandel Safex tot R300 onder uitvoerpariteit in sekere periodes?

Uitvoerpariteit kan soms verwarrend voorkom en dit moet spesifiek gemeet word aan ’n gebied/plek. So byvoorbeeld moet die uitvoerpariteit vir Bethlehem met die Bethlehem-prys vergelyk word. Die uitvoerpariteit is ook slegs ’n indikator: so byvoorbeeld verskil ’n uitvoerpariteit met basis VSA van basis Argentinië. In die verlede het pryse onder uitvoerpariteit beweeg om ’n marksein te gee dat genoeg voorraad beskikbaar is sodat verhandelaars begin om uitvoere te bespreek. ’n Uitvoertransaksie kan so lank as agt weke neem voor daar sekerheid oor die transaksie is, wat ’n direkte impak op beweging het. Sodra daar sekerheid oor uitvoere is, lig die pryse weer. Daar is baie faktore wat dit kan beïnvloed.

Wat gaan die fokus vir die volgende jaar wees om die mark nog meer deursigtig te maak van produsente- en verwerkingskant?

Veranderings aan die JSE-kontrakte word tans gemonitor – daar is heelwat veranderings wat stelselmatig ingebring gaan word. Graan SA sal hierdie punte evalueer om te bepaal of dit wel ’n verbetering in die mark beteken. So sal daar vasgestel word of verdere veranderings nodig is. Tweedens wil ons bepaal of inligting meer gedetailleerd en verfynd, maar binne wetgewing, uitgestuur kan word. Die doel is om deursigtiger en meer spesifieke inligting beskikbaar te stel. In die afgelope jaar is daar byvoorbeeld meer as 500 fisiese inspeksies deur die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) uitgevoer. Hierdie tipe inligting sal meer vertroue in die stelsel bring as dit ook gepubliseer word.

’n Graanoudit behoort fisies te wees, waar alle graan in voorraad (folio en silosertifikate) uiteengesit word. Die teoretiese en fisiese syfers moet maandeliks klop. Dit is tans moontlik vir ’n silo-eienaar om graan te rapporteer wat hy nog nie ontvang het nie, maar verwag om binne die volgende twee maande te ontvang. Hoe hanteer die SAGIS-stelsel dit as daar nie ’n fisiese oudit gedoen word nie?

SAGIS is die fisiese oudit. SAGIS rapporteer en “tel” slegs fisiese voorraad en die silosertifikate het nie ’n impak op die syfers wat hulle rapporteer nie. Met ander woorde, SAGIS sal eers fisiese voorraad wat in silo’s inkom, tel wanneer dit wel gelewer word. Dit word geverifieer deur middel van leweringstrokies wat maatskappye aan produsente uitreik met die lewering van die graan. Dan rapporteer SAGIS ook net die voorraad wat weer fisies uit-­gelaai en versend word. SAGIS doen dit deur die uitlaaibewys van die maatskappy te verifieer teenoor die ontvangsbewys van die maatskappy wat dit ontvang. So word kruisverwysing ten opsigte van voorraad gedoen. JSE-sertifikate en folioverande­rings of -uitreikings tel nie as ontvangstes of versendings nie. Slegs wanneer eienaarskap hiervan geneem word en die graan in- of uitvloei word dit deur SAGIS getel. Dus beïnvloed ’n verandering van eie­naarskap nie voorraadvlakke nie, slegs die fisiese vloei van graan verander dit.

Die bewering word gemaak dat Graan SA se Hoofbestuur die landboubesighede beskerm en dat baie op die Hoofbestuur ’n botsing van belange het. Kan ’n botsing van belange totaal vermy word? Hoe word botsings van belange hanteer in die strukture (by verkiesing en binne vergaderings)? Word lede wat ’n moontlike botsing van belange het outomaties gedis­kwalifiseer as hoofbestuurslede?

Binne die Suid-Afrikaanse landbou sal daar altyd menigvuldige belange wees. Dit is ook tydens konsultasie met die Mielietrust deur die spesialis, Mervyn King, aangedui en sekere riglyne is binne die struktuur voorgestel. Graan SA het dus ’n beleid in plek gestel om die botsing van belange te hanteer. Hoofbestuurslede word nie outomaties gediskwalifiseer indien hulle belange by landboubesighede het nie. So word Graan SA nie van goeie leierskap ontneem nie. Tog word die beleid streng toegepas.
By elke vergadering is daar geleentheid om belange te verklaar en ’n register word ingevul.

Indien daar ’n saak op die agenda is waar ’n persoon ’n botsing van belange het, word hy/sy gevra om die vergadering te verlaat en is dan nie deel van die besluitneming nie. Wanneer ’n kandidaat verkiesbaar raak, word belange ook bekendgemaak en beoordeel deur die verkiesingskomitee. Konflik van be­lange word terugverwys en bespreek. Daar is tans drie Graan SA-hoofbestuurslede wat direkte belange as direkteurs by landboubesighede het. Hoofbestuur of Graan SA stel nie nuwe hoofbestuurslede aan nie. Hulle word deur die streek genomineer en gekies – dus is dit die lede wat hulle voorstel en kies.