Die verandering van ‘n seisoen

282

September 2017

Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder

Ek geniet nog altyd die gedeeltes van my werk wat te doen het met landbou en ekonomie aansienlik meer as die politieke deel. Wat ek wel vanwaar ek sit kan rapporteer, is dat die politiek tans nie op ‘n goeie plek is nie. Die basiese fundamentele vereistes vir ‘n gesonde demokrasie is besig om op elke politieke stoel se hittemeter al nader aan die rooi te laat beweeg: Vryheid van spraak, deursigtigheid, privaateiendomsreg, vrye media en dalk ook ‘n goeie kwota logiese onderskeiding tussen goed en kwaad.

En dan luister ek na minister Zokwana se reaksie op die kerk se kommentaar oor korrupsie in die parlement en hoe hy homself verdedig deur aan te voer dat dit nie die rol van die kerk is om mense na die opposisie te dryf nie. Dit is duidelik dat dié sakie seergemaak het. Mense in die algemeen mag dalk nog groot besighede se leiers ignoreer, maar as kerkleiers (swart en wit) al die staat se foute vir die land se mense uitwys, neem senior politici kennis.

Ja, die rol van die kerk is om vir die owerhede te bid, maar beslis ook om die ware Noord aan te wys wanneer politici hul morele kompasse verloor het. Dít kan die politici die kerk nooit ontneem nie. Hitte het egter die inherente vermoë om alles se vorm t verander as dit net lank genoeg gekonsentreerd op een plek gehou word. Dit kan en sal die politieke speelveld permanent verander.

Terwyl die suide se produsente nog op reën wag en die noorde nog besig is om te stroop, bekruip die volgende somerseisoen ons met ‘n spoed. Die nat mielies het hierdie jaar ingemeng met heelwat manne se jagprogramme. Augustus en September is egter terugbetaaltyd en ook tyd vir aansienlike moeilike besluite oor die komende seisoen.

Ek luister na hoe onseker die produsente is oor die kombinasie van wat en hoeveel hulle moet plant. Die breë skuif moet meer geel- en minder witmielies wees en meer sojabone en sonneblom in plaas van mielies. Dalk is die verandering van ‘n seisoen ook ‘n bestiering – in die sin dat ‘n mens nie net bly tob oor die huidige seisoen en al sy uitdagings nie.

Winsgewendheid is oral in die graanbedryf onder groot druk. Daar is nie ‘n manier dat ons nog ‘n seisoen op hierdie prysvlakke sal kan deurgaan sonder groot permanente veranderinge aan die samestelling van ons boerdery-eenhede nie. Wat hierdie verandering teweeg gaan bring, is nog onseker, maar die klimaat in Suid-Afrika en die res van die wêreld gaan beslis ‘n groot rol daarin speel.

Die wiel van navorsings- en tegnologie-ontwikkeling draai stadig, maar dat dit draai is seker. Die vraag is net of dit betyds gaan wees om ‘n groot slagting te vermy. Ek is betreklik positief dat dit wel ‘n groot bydrae in die nabye toekoms kan maak.

Een groot positiewe verandering is die verwikkelinge by Agri SA. Die Agri SA-leierskap het nuwe planne goedgekeur wat gedurende die Kongres in Oktober vanjaar voorgehou word. ‘n Kleiner, meer buigsame direksie word aanbeveel en die nuwe personeel se kwalifikasies is ‘n duidelike aanduiding dat georganiseerde landbou gerat is om ‘n hele paar hofsake op elke terrein te kan voer.

Die nuwe korporatiewe lede wat by Agri SA aangesluit het, is ‘n duidelike boodskap dat groot besighede gereed staan om hul tjekboeke uit te haal as dit kom by die verdediging van sake wat almal – en nie net die produsente van die land nie – raak. Hulle is nie besorg oor stemreg nie, maar eerder oor hulle bates en die waarde van hulle aandeelhouers. Dit is regtig bemoedigend.

Publication: September 2017

Section: Relevant