July 2018

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain redaksiespan

Die woord “oorbemesting” klink asof dit nie reg moet of kan wees nie. Soms mag oorbemesting heeltemal verkeerd wees, maar daar is tog kere wat dit nie ongunstig is nie; dit hang net af uit watter oogpunt dit benader word. Dit is belangrik om te bepaal wanneer dit oorbemesting is en wanneer nie.

Onderbemesting kan ook nadelig wees en die besigheid se winsgewendheid wesenlik benadeel. Die regte vertrekpunt sal wees om die potensiaal en toestand van ‘n spesifieke kol in ’n spesifieke land, die land waarin dit is en die plaas in geheel vas te stel.

Produksiepotensiaal
Produksiepotensiaal word hoofsaaklik deur ‘n paar aspekte, naamlik gronddiepte, klei­persentasie en effektiewe reënval bepaal. Bewerking, helling en waterafloopbeheer – om net ‘n paar te noem – het ook ‘n impak op produksie en moet nie buite rekening gelaat word nie. As die produksiepotensiaal, gegewe die produksiepraktyke en langtermyndata, dalk 4 ton is en jy bemes konstant vir ‘n 6 ton-opbrengs, is dit definitief verkeerd. ’n Produsent wat met hierdie addisionele bemesting volhou, moet besef dat jy jou mettertyd gaan vasloop.

Die afgelope jare het die graanbedryf ‘n dramatiese verhoging in produksie beleef. Nuwe verbouingspraktyke wat bewerking, wisselbou en kultivars insluit, het na vore getree en ewe skielik het streke se langtermynproduksie sommer dramaties gestyg. Waar ‘n streek in die verlede dalk 4 ton/ha opgelewer het en nou vir die laaste paar jare konstant 6 ton/ha en hoër realiseer, is dit dus nie verkeerd om vir ‘n 6 ton/ha-opbrengs te bemes nie.

Sou ‘n strategie gevolg word om die grond oor tyd reg te stel en daar bo die onttrekkingsyfers of aanbevole peile bemes word, kan dit nie as oorbemesting beskou word nie. Maak egter seker dat die regstelling wel op dié manier gedoen kan word.

Sekere elemente kan nie so opgebou word nie. Stikstof is een element wat bitter moeilik met bemesting opgebou kan word. Te danke aan bewaringslandboupraktyke het produsente egter wel die voordeel om stikstofvlakke op te bou. Stikstofoordrag van een jaar na die volgende is wel moontlik, maar gaan gewoonlik met verliese gepaard.

Vind gerus meer hieroor by die verskillende bemestingsagente uit, of oorweeg dit om jou verbouingstelsel te verander om grondorganiese koolstof, wat die natuurlike vrugbaarheid van grond verhoog, op te bou.

Stikstofbemesting
Stikstofbemesting is geneig om bitter vinnig te loog of te vervlug en daarom moet ander maniere oorweeg word om hierdie uitdaging te oorkom. Daar is tans verskeie middels wat tot die verhoging van die effektiwiteit van stikstof aanleiding kan gee. Gewone stikstofbronne – veral in sandgrond met goeie reën – loog betreklik vinnig. Is dit dan oorbemesting of swak bestuur, of albei as jy oor tyd meer stikstof toedien om die effek van loging en vervlugtiging op gewasproduksie te voorkom?

Gegewe hierdie inligting, is dit belangrik dat stikstofbemesting bestuur moet word. Die gebruik van tegnologie om voorsiening daarvoor te maak om meer stikstof in tye van tekort aan die plante te kan verskaf, is van kardinale belang.

Die gebruik van vliegtuie of hoogloopspuite om addisionele bemesting toe te dien, is van die interessante nuwe tegnologie wat daarvoor aangewend kan word. Indien die marginale opbrengs die marginale koste oortref, maak dit sin om dit te doen. Daar is ook nuwe spuitpunte beskikbaar wat gebruik kan word om stikstof toe te dien.

Blaar – en sapontledings
Gegewe die jaar, is dit belangrik dat die produsent sy/haar graanproduksie moet kan voorspel om tydig die regte verstellings te maak sodat die plant optimaal kan presteer en sodoende die beste oes oplewer. Hiervoor is daar hulpmiddels soos blaar- en sapontledings wat aangewend kan word om hierdie besluit makliker te maak.

Oor die lang termyn maak dit sin om produksie te stabiliseer en daarin kan die effek van bewaringslandbou wat hoër vlakke van grondgesondheid en koolstof insluit, nie buite rekening gelaat word nie.

Beskikbaarstelling van elemente
Tydige beskikbaarstelling van elemente is krities. Dit is belangrik dat die produsent moet weet wanneer die gewas, hoeveel, van watter element gaan benodig – sien Figuur 1. Afhangende van die grond en jou situasie, maak dit dalk nie sin om al die voedingselemente tydens plant te plaas nie, aangesien die plant die elemente op verskillende produksiestadiums gebruik.

Jy loop die risiko dat sommige van die elemente dalk sal loog en sodoende sal die gewas nie noodwendig die verwagte opbrengs lewer nie. Die effektiewe en tydige toediening van elemente is ‘n hoër­orde bestuursaspek wat die produsent moet en kan bestuur. Deur te weet hoeveel stikstof ‘n mielie byvoorbeeld op watter stadium benodig en dit met die vog in die grond te korreleer, kan verseker ’n bydrae lewer om die optimale produksie te lewer en sodoende die risiko van oor- of onderbemesting te voorkom.

In Tabel 1 is die plantvoedsel-elementverwyderingsyfers aangebring. Maak seker dat daar nie sonder rede ‘n groot verskil tussen jou gewasse se syfers en hierdie is nie.

Droogte is altyd ‘n negatief vir enige plaas. Die plante is onder stres en sodoende word die opname van voedingstowwe beduidend benadeel. Tog is alles nie verlore nie, omdat daar nie oorvloedig reën is nie, is die oordrag van bemestingstowwe na die volgende seisoen ook relatief hoog.

Resultate van navorsing wat by Kroonstad gedoen is, het getoon dat ‘n betreklike groot persentasie van die bemestingstowwe wel in die grond agtergebly het. Werk wat deur mnr Sakkie Koster van Pioneer in die oostelike Hoëveld gedoen is, het ook betreklike hoë oordragpersentasies getoon. Behalwe hierdie oordragte, is daar ook ‘n ander voordeel wat te voorskyn kom by ‘n hoër as standaard-bemesting in ‘n droogtejaar.

Omdat die plante se vermoë om die voedingstowwe op te neem onder druk verkeer, kan dit soms gebeur dat die plante meer voedingstowwe opneem omdat daar meer beskikbaar is. Dit kan daartoe lei dat die produksie per hektaar hoër is. Omdat dit ‘n droogtejaar is, kan ons die aanname maak dat pryse na invoerpariteit sal neig en sodoende sal die oes teen ‘n beter prys verkoop kan word, wat die inkomste per hektaar sal verhoog.

Die teendeel kan egter ook waar wees. Die bemesting kan die plante uiters weelderig laat groei en sodoende kan die plante vinniger uit vog hardloop – met die gevolg dat die produksie uiteindelik moontlik ook laer kan wees.

Waterverbruik
Figuur 2 illustreer die waterverbruik van sonneblom. Deur die waterverbruik met die bemestingbehoeftes te korreleer, kan die optimale bemesting vir die gewas binne die seisoen beplan word. Daar is tans ‘n groot aantal instansies wat jou hiermee kan help. Kontak gerus jou bemestingsadviseur hieroor.

Indien dit die jaar ‘n goeie reënjaar is, sal jy verseker die voordeel van die hoër bemesting ervaar. Opbrengste behoort heelwat hoër te wees en sodoende is daar weer meer om te verkoop. ‘n Groot aantal produsente sal ook in so ‘n jaar vergeet dat die kolle wat ewe skielik sulke hoë opbrengste lewer, die vorige paar jaar dalk uiters lae opbrengste gerealiseer het. Pasop om hierdie opbrengste as die norm te beskou.

Presisieboerdery
Die vraag is nou hoeveel bemes kan word. Na my mening behoort ‘n presisieboerderybenadering gevolg te word. Probeer om die grond volgens sy werklike potensiaal te bestuur en te bemes. Presisieboerdery is een metode wat besonder ernstig oorweeg moet word.

Hoe minder homogeen die grond is, hoe groter is presisieboerdery se bydrae. Presisieboerdery sluit nie net die aanvanklike toediening van bemesting in nie, maar ook die bestuur van die gewas reg deur die seisoen. Indien dit ‘n nat jaar is, moet addisionele bemesting toegedien word. Op dié manier behoort die produksie ook verbeter te kan word.

Onkruidbeheer en bewerkingstelsels
Bemestingseffektiwiteit kan ook verhoog word deur aandag aan onkruidbeheer te gee. Dit maak nie sin om vir optimale produksie te bemes, maar nie onkruiddruk te beheer nie. Hoe hoër die onkruiddruk is, hoe laer is die produksie. Maak daarom moeite daarmee om die onkruid onder beheer te kry. Dit sal die effektiwiteit van die bemesting dramaties verhoog.

Bewerkingstelsels het ook ‘n invloed op bemesting. Met bewaringslandboustelsels sal bemesting anders benader moet word. Die toediening van addisionele bemesting sal verseker ‘n negatiewe impak op die grondbiologie of -gesondheid hê. Hoe gesonder die gronde, hoe meer vrugbaar is dit en daarom kan minder bemesting toegedien word. Vergewis jouself van die grondgesondheid, hoeveel dit bydra tot vrugbaarheid en pas die bemestingsprogram daarvolgens aan (gebruik byvoorbeeld die Haney-ontledingsmetode).

Ten slotte
Jou langtermyndoelwitte sal bepaal waarheen jy op pad is. ‘n Holistiese benadering wat hulpbronne, bewaring, gewasse en bestuur insluit, moet gevolg word. Bewaringslandbou behoort deel hiervan te vorm. Dit sal beteken dat aandag aan produksiepotensiaal, grondbedekking, grondgesondheid, gewasrotasie en bewerking gegee moet word. Die optimale bestuur van die gewasse en gereelde regstellings sal die effek van bemesting optimaliseer.

Om te besluit of daar oorbemes word of nie, hang van verskeie aspekte af – waarvan grondpotensiaal en grondtoestand die belangrikste is. Daar is verseker ook ander aspekte wat die doeltreffende benutting daarvan beïnvloed.

Rig navrae hieroor aan Pietman Botha by 082 759 2991.

Publication: July 2018

Section: Focus on