June 2017

LOUISE KUNZ, SA Graan/Grain medewerker

Me Magda du Toit (Korporatiewe Skakeling en Kommunikasiebestuurder, Monsanto SA) sê die groot getal produsente wat Monsanto se Boeredag op 23 Maart vanjaar bygewoon het, is ‘n teken van die positiewe gesindheid wat buite in die veld teenoor landbou, hul maatskappy en produkte heers, asook die geloof waarmee produsente elke dag hul dagtaak aanpak.

“Ten spyte van al die politieke gewoel en die onlangse droogte, is daar altyd hoop en die bywoning van dié dag was vir my ‘n ver gestalting van hierdie hoop,” aldus Du Toit. Of dit nou die pap en kaiings op die ontbytspyskaart, die interessante program of die boere sport is wat produsente gelok het, dié geleentheid was ‘n reuse sukses.

Die hoofspreker by dié dag wat op NAMPO Park buite Bothaville plaasgevind het, was mnr Theo Vorster (uitvoerende hoof: Galileo Capital). Met die tema “Known unknowns” het hy sy perspektief oor Suid-Afrika en die toekoms van die land gedeel – veral wat betref die ANC opvolggeveg, die skuldgradering, asook die middelklas wat vertroue verloor het in die regeringsklas. Hy voel positief oor wat vir Suid-Afrika voorlê en het afgesluit deur te sê: “Vir 2017: Maak jou gordel vas!”

Produsente en lede van die media is na afloop van die inligtingsessie in kleiner groepe verdeel om prakties te ervaar hoe tegnologie in boerdery toegepas word deur verskillende inligtingspunte te besoek. Kennis oor, onder andere, die volgende temas is hier oorgedra:

Geelmielies
Mnr Jaco van Zyl (landboukundige: Monsanto) het die DKC-geelmieliereeks van Monsanto bemark. Hy het ook die voordele van ʼn pakket verduidelik – soos dat dit risiko en blomperiodes versprei.

Witmielies
Die eienskappe van Monsanto se witmieliereeks is deur mnr Paul Groenewald (landboukundige: Monsanto) verduidelik. Volgens hom is die ideale pakket die volgende: 25%-verspreiding van die DKC78-45BR GEN vir sy graankwaliteit, 45%-verspreiding van die DKC77-77 omdat dit so droogteverdraagsaam is, 20%-verspreiding van die aanpasbare DKC78-79BR en 10%-verspreiding van die nuwe DKC75-65BR.

Plantdatums
Mnr Sam Kramer (verteenwoordiger: Monsanto) het die vyf kritiese fases van die mielies, asook die belangrikheid van plantdatums, bespreek. Besoekers kon deur die proewe stap en self sien watter invloed rywydte en plantdatum op opbrengspotensiaal het. Hy het ook genoem dat 56 jaar se data vir Bothaville aan mnr Johan van den Berg (klimatoloog en weerkundige van Santam Landbou) deurgegee is. Dit het bewys dat middel November tot middel Desember die beste planttyd vir dié omgewing is.

Die beheer van insekte en plantsiektes
Hierdie temas is onder die treffende naam “Goggas en gaggas” deur prof Bradley Flett (senior landbounavorser en plantpatoloog van die LNR-Graangewasse op Potchefstroom) en me Desiree van

Heerden (tegniese gewasdeskundige: Syngenta) hanteer. Hulle het veral gefokus op Diplodia kopvrot en die herfskommandowurm. Van Heerden is deel van ‘n internasionale komitee, Insecticide Resistance Action Committee (IRAC).

Onkruiddoder
Besoekers kon ook ‘n spuitdemonstrasie besigtig wat deur mnre Jacques du Plessis (New Holland SA) en Fasie de Kock (land boukundige: Monsanto) hanteer is. Du Plessis het genoem dat die ou Millerspuit ‘n blou baadjie aangetrek het en dat hierdie SP240 275 perdekrag masjien met verstelbare rywydtes ondersteuning verleen om vinnig werk te maak van onkruid in die lande. De Kock het verduidelik waarom dit belangrik is om die biologie van plante te ken as dit by die identifisering kom van watter onkruiddoder om te gebruik.

Plantestand
Die keuse van plantestand is deur mnr André Botes (landboukundige: Monsanto) bespreek.

Publication: June 2017

Section: Relevant